baby
Lilypie First Birthday tickers

Monday, December 29, 2008

Familie Kersfees-fotos

Nota: Ek het gister begin om te skryf oor Franco se eerste Kersfees, en agtergekom dit vat lank. :-) Het toe maar intussen die familie-fototjies opgesit. Toe ek vandag die Kersfees inskrywing klaarmaak, toe publiseer Blogger dit onder die inskrywing!
Dis bietjie laat, maar: Geseende Kersfees! Hoop die Christus fees was 'n wonderlike spesiale dag deurdrenk met vrede en liefde.

Kers-oggend na kerk het ons gou aangetree vir die fotosessie
Ons gesinnetjie van 3. Mamma vertel ek was 'n wikkelkous wat geweier het om te sit, en eintlik net my bottel wou he :-) Nou vir wat neem hulle fotos as hulle weet ek is honger?
Wat kyk jy so? Het jy nog nooit 'n baba sien bottel drink nie?
'n Bottie maak sommer baie dinge reg in die lewe! Saam met Oupa Lappies en Ouma Elna

Ons manne was almal (onbepland) in blou. Het jy al 4 sulke mooi paar blou kykers bymekaar gesien? Mamma hoop my ogies bly blou nes my Pappa s'nne. (Maar ek is seker sy sal vir my lief bly maak nie saak watter kleur my ogies opeindig nie)

Ons 3 FJ's. Oom Frans Johannes, Oupa Frans Johan en ekke (Franco Jean).

Ekke kon nie ook 'n Frans wees nie - netnou het Oom Hannes eendag 'n seuntjie wat hy Frans wil noem! En moenie vergeet van my ander oom Frans wat met tannie Thelwyn getroud is nie. Dalk het hulle ook eendag 'n seuntjie wat lyk soos 'n Frans!

8 maande en dae oud

Franco se eerste Kersfees

Franco het sy eerste Kersfees so-so geniet! Al het die tandjies nog gepla (sien inskrywing net hieronder), was Boeta in 'n besonders goeie bui tydens Kersdag. Ek wil graag glo dat alhoewel hy nog te klein is om regtig te verstaan waaroor Kersfees gaan, hy deur 'n baie spesiale Iemand aangeraak is en Seuna se gees agtergekom het dat dit 'n baie spesiale dag is!

'n Paar dae voor Kersfees, en Boeta verkyk hom aan Oom Hannes wat liggies op die kersboom hang. Die verwondering was groot, maar 'n klein handjie het stewig aan my arm vasgehou vir morele ondersteuning!

Die pret en plesier het sommer al voordag begin toe ons kerk toe gestap het. Franco het sy vroeg-oggend stappie in sy waentjie baie geniet, en gekraai van die lag! Die pret het nie daar opgehou nie, en Seuna het aanhou lag vir alles en almal - die tannie wat agter ons in die kerk gesit het, die dominee daar hoog bo op die kansel, die klanksisteem wat op 'n stadium probleme gegee het - als was een groot vreugde.
Ek en tannie Rina Kock ('n vriendin van Ouma Elna) maak grappies na kerk. My pakkie verklaar "I'm a good boy" - dink julle dit sal help dat ek baie persente kry?

Franco het by die huis nie regtig die hele persent oopskeur ding verstaan nie, maar het tog met 'n groot glimlag sit en aanskou hoe Gert al sy persente vir hom oopmaak. Anders as wat ons verwag het, was Franco toe nie so geinteresseerd in die geskenkpapier en bokse nie, maar wel baie in sy heel eerste persent - 'n bottel bababadseep van tannie Gertude! Die bottel was aanvanklik baie meer pret as al die ander speelgoed en klere! :-)
BAIE opgewonde oor my lekker bad-seep! Dankie tannie Gerty!

mmm - wat is hierdie papier storie nou eintlik?

Die houtblokkies van tannie Sandra moes eers doodgeslaan word
Klere en 'n tandekry ratel van Oom Hannes. Die rattel is dadelik met groot ywer geskud, voor dit reguit mond toe is Nog klere! Die keer van Ouma Elna en Oupa Lappies. En dit terwyl ek van die klere wat ek by Ouma Miekie gekry het modelleer! Dink my Oumas het gehoor toe my ma vertel dat ek so vinnig gegroei het die laaste paar weke dat al my ander klere te klein is! Dankie julle - nou hoef Mamma nie amper elke dag wasgoed te was nie. :-)

Oupa en kleinseun ondersoek al die nuwe speelgoed!


Ons liefste Goggatjie! Ek en Pappa is bly jy het jou eerste Kersdag soveel geniet! (Al was dit 'n titaniese stryd om jou in die bed te kry - jy het die hele dag 'n skrale 90 min geslaap, en wou teen bed toe gaan tyd nogsteeds niks weet van uitmis op die aksie nie :-) Ons hoop jy besef sommer vroeg-vroeg dat Kersfees oor soveel meer gaan as geskenke en lekker kos. Die grootste geskenk van alle tye is Jesus wat Sy lewe vir jou en vir ons gegee het sodat ons kan lewe! Ons hoop so dat jy die geskenk sommer vroeg in jou lewetjie sal aanvaar - en elke Kersfees sal verstom staan oor hoe groot God se genade en Sy liefde vir ons is. Dankie dat jy hierdie Kersfees saam met ons gedeel het - dit was super spesiaal om Kersfees deur jou ogies te beleef! Jy is van die hemel af gebid, en al het ons jou in April gekry is jy ons heel beste Kerspersent gewees!

Daai klein wit dingetjies

Nie ons klein drool machine se beste pose nie - maar kyk net daai arme geswelde tandvleis! Seuna het skoon 'n rash op sy ken van al die dribble :-(

Voor iemand vra - nee daar is (helaas) nog geen kleine wit pereltjies in die Prinsie se mond wat al gesny het nie. (Dis nou ten spyte van Ouma Elna se voorspellings op 3 maande, Juffrou Sylvia se mening op 4 1/2 maande toe Franco skool begin het ens. ens) Maar daai ongesnyde tandjies is erg lastig! Daar is 2 geswelde mieliepitjies bo, en 2 twee pereltjies onder waarvan die wit al vir 'n week lank deurskyn. Arme Franco! Jy moet maar Thomas Edison se houding inneem, elke dag (mislukte eksperiment) is een dag (eksperiment) nader aan 'n glinsterende glimlag (gloeilamp)!

Teething toys van die afgelope maand:


Franco se plekmatjie by die huis

Ouma Elna (en enige ander beskikbare iemand) se vingers!




'n Yskoue tandering bring verligting


Die speelmat het omtrent deurgeloop, maak nie saak of ek op my


ruggie le,

op my magie rondkruip



en of ek staan nie!


As niks ander beskikbaar is nie, moet my eie handjies maar diens doen.

Ai ai! Die klein karnallie trek maar swaar in die nagte, al is hy gedurende die dag 'n troopertjie! Dankie tog vir dinge soos koue tanderinge, Teejel en die apteek se wonderlike tandemengsel!

8 maande oud

Raai wie is terug? :-)

Ons is pas terug van 'n heerlike maar woeste rondomtalie kuiery! Eers het ons vir 'n week op die plaas gebly sodat Ouma Miekie vir Franco kon oppas (want sy skooltjie het toe reeds gesluit). Franco het 'n wonderlike tyd gehad by sy Ouma en Martelize, en Mamma kon nog 'n week werk en sodoende verlof spaar vir as kleinman dalk sou siek word. Dankie Ouma Miekie! Jy is 'n ware ster en ons waardeer jou SO SO baie! Lees meer oor Franco se tyd by Ouma op haar blog - hier en hier

Ouma-hulle is die Vrydag al troue toe, en toe het ek saam met Mamma kantoor toe gegaan vir haar laaste dag. Ek weet nie hoekom kla sy so oor werk nie? Kyk hoe lekker speel mens dan in haar kantoor!


Na die kuier op die plaas het ons een slapie by die huis gehad om wasgoed te was, te pak en skoon te maak en toe is dit af Vrystaat toe vir my neef Niel se troue met die mooie Marissa. Die troue was baie spesiaal, en dit was so mooi om 'n getuie te kon wees van hoe twee Koningskinders hulle opnuut aan die Here en aan mekaar toewy. (Elke troue wat ek bywoon bring weer sulke helder herinderinge terug van ons groot dag. Die opwinding van daai dag, en hoe min ons geweet het - the best is yet to come! Ek en Gert het soveel pret as getroudes en dit gee my hoendervleis as ek dink wat als vir Niel-hulle voorle). Ek was maar lui met die kamera tydens die trou-naweek, maar die getroue Ouma was op haar pos!

Een van die min troue fototjies. Pa spot ek sit op Mamma se plek! :-)

Na die Vrystaat kuiertjie het ons die pad gevat na Ouma Elna en Oupa Lappies se huis in die klein Karoo. Daar is so baie nuus om te vertelle van ons kuiertjie daar, dat ek maar so stuk-stuk sal moet opvang!

Thursday, December 4, 2008

Wat 'n week!

Die week het behoorlik verby gevlieg - ek is skoon agter met die stories! :-)
Saterdag was ons bietjie na tannie Duifie se 90ste verjaarsdag op Goodland (die F's se wildsplaas, so 10 min se ry van my ma-hulle af). Baie van my perdry herrinderinge is verweef met Goodland en dit was ook my en Gert se trou venue! Dus is dit altyd lekker om soontoe te gaan, en baie "onthou jy?'s" te beleef. Die keer was geen uitsondering nie, met Franco wat vir die eerste keer uit 'n glas gedrink het! Ouma Miekie het selfs 'n videotjie daarvan op haar blog van 29 Nov '08.
Sondag het Franco weer begin met verkoue en siek wees. :-( Ek het saam met Seuna erg verkoue gekry, terwyl Gert die verkoue vrygespring het net om Vrydag met mangelontsteking gediagnoseer te word! Dis goed die vakansie is om die draai - ons al 3 kan doen met bietjie rus en imuniteit opbou.

Franco kry een van vele stoombehandelings.

Dieselfde seuntjie na die behandeling, besig om die pyp te kou. Prys die Here vir behandelings wat so goed werk!

Maandag-nag was ons krag vir 'n lang ruk af. Groot furstrasie all round - Franco kon nie gestoom word nie, en saam met koue bottels het dit gesorg vir 'n omgekrapte seuntjie. (Die pikdonker het darem gemaak dat ons die maan en twee planete ekstra mooi kon sien! Ons Skepper het darem maar gesorg vir 'n wondermooie skouspel)

Dinsdag was ek vir die dag Botswana toe om probleme by een van ons takke uit te sorteer. Maandag-nag se omgekrapte seuntjie + vroeg opstaan om 5h00 by die lughawe te wees + heeldag in vrek warm Gaborone rond-mission (sonder lugversorging helfte van die tyd) en die vlug terug = 'n stokflou ekke wat 21h15 by die deur instrompel.

Gert was 'n ster van 'n pa wat die hele oggend- en aandroetine vir die eerste keer op sy eie aangepak het. Ek het dit al genoeg kere in die verlede gedoen om te weet dis moontlik, maar nie maklik nie - die Here het geweet wat Hy doen toe hy gesinnetjies met 'n pa EN 'n ma ontwerp het!

Kaalbaskruip na badtyd is die beste ding ooit!

Woensdag-aand het ons ons afdeling se jaareindfunksie gehad en almal saam Steve Hofmeyer gaan kyk. (Ek het my eie opinie oor die man, maar sal dit maar eerder los vir 'n ander dag) Nietemin was die kos en geselskap heerlik en gee die duiwel wat hom toekom - die man is 'n goeie kunstenaar. Franco het heerlik by Oom Gerhard en Tannie Marlize gebly en met Marli gespeel - dankie julle!

Donderdag-aand het ons slaap ingehaal, en vanaand pas ons vir Martelize op. (Eintlik ekke - Gert is koorsig en ons hou hom maar weg van die babas. Tans sit ek en blog terwyl die ander sieletjies in die huis almal slaap. Ons verbeter met die oppas - dis al baie rustiger as die eerste keer!

Het sy nie die mooiste haartjies nie? Kleine juffrou soet in droomland

Franco en een van die maatjies by die skool het geleer om so oor en weer vir mekaar tong uit te steek. Sederdien is dit sy nuutste party trick en sal hy sy tongetjie uitsteek vir enige iemand van die dokter tot winkelassistent. Huidiglik is hy so opvreetbaar oulik as hy dit doen, maar ons is net so effe bekommerd oor die lang termyn gevolge as ons dit te veel aanmoedig. Hopelik steek hy nie tong uit op sy gradeplegtigheid nie! :-)
Sjjt - ek weet ek is supercute, maar Mamma se jy mag dit nie hardop se nie!

Ek is more-oggend gasvrou vir 'n ooievaarstee. My klein blou-oog skat het hom omtrent verwonder aan die heliumballon wat ek by die huis aangebring het.

7 maande, 1 1/2 weke, Martelize 4 maande

Giggelgogga

Ek het so baie stories om te vertelle, maar die week is ongelooflik besig. Om te keer dat Ouma Miekie onttrekkingsimptome kry, is hier 'n kort video'tjie van Franco. Die klein prinsie dink die Mamma wat sy magie soen na badtyd is vreeslik snaaks...


7 maande, 1 1/2 week

Sunday, November 30, 2008

Blogtoekenning



Charmaine het vir my 'n blogtoekenning gegee! Sjoe - ek het eintlik maar net die blog begin om rekord te hou van Franco se dingetjies, en nooit gedink dat iemand (buiten familie) sou belangstel om te lees nie. Nou het ek al 'n hele klompie van julle "ontmoet" en dis vet pret. Dis so lekker om kort-kort te lees van wie wat gedoen het - internet maak werklik die wereld 'n kleiner en interessanter plek. (Selfs Gert deel al in die pret - om die dood sal hy nie sy eie blog begin nie, maar kort-kort word hier fotos geneem "vir die blog". hie-hie)
Blykbaar werk die blog-toekenning ding soos volg:

* Kies 5 bloggers vir die toekenning wat jy voel is goeie blogbuddies en wie se blog waarde toevoeg tot die blokgemeenskap, ongeag die taalvoorkeur (dis nou Engels of Afrikaans). Noem hulle name en link na elke blog.

* Elke blogger moet (by aanvaarding van die toekenning), die toekenning op hulle blog wys met 'n link na die naam en blog wat die toekening gemaak het en 'n link na die oorsprong van die toekenning Doing Life.

* Wys ook die reels van die toekenning

5 Bloggers - die moeilik want ek lees nie so vreeslik baie blogs nie, maar hier gaan ons

Franco se Ouma Miekie omdat sy so 'n ster van 'n Ouma is, en natuurlik omdat daar gereeld fotos van die mooiste seuntjie in die wereld op haar blog verskyn. :-)

My sus Thelwyn omdat sy so hard probeer al werk haar rekenaar nie aldag saam nie. En omdat daar sulke pragtige fotos en stories van Franco se favourite niggietjie verskyn! Ek hoop regtig dat jou laptop dramas nou iets van die verlede is.

Charmaine vir haar gereelde kuiers op my blog. Ek geniet haar diepte, haar wysheid en hoe raak sy kan skryf oor haar verhouding met ons Pa.

Sandvlooi omdat sy my eerste blog-maatjie was. En omdat sy ook 'n seuna het wat haar hart se punt is :-)

Kan ek kroek? (Ek lees toe meer blogs as wat ek gedink het!) Sandra het 'n gawe om stories te vertel sodat dit voel asof jyself daar was.

Dit is vir my so ongelooflik dat ons almal op verskillende plekke woon en in verskillende fases van ons lewens is, en tog is daar raakpunte. Ek dink dis omdat dieselfde Gees in ons almal woon dat die verskille so onbenullig lyk.

"Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil. Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus." 1 Kor 12:11,12

Monday, November 24, 2008

Kruipgogga

Franco kan nog nie kruip nie - but it is not due to a lack of trying! Elke dag is dit net oefen, oefen, oefen vir ons klein prinsie.

Vasbyt Seuna! Ons weet dat jy sommer een van hierdie mooi dae sal uitfigure hoe om die armpies en bene saam te koordineer - en actually vorentoe in plaas van agter toe beweeg! :-)

Hier demostreer Franco sy eie oefenprogram ter voorbereiding van kruip - dis nou vir ingeval daar ander babatjies in blogland is wat ook graag wil kruip. (Sy ouers reken Franco-kyk is meer pret as TV-kyk!)
'n Lekker sterk push-up. Herhaal die op-en-af beweging so 30-40 keer na mekaar. Bonuspunte as jy so sterk kan opstoot dat jy sommer so agteruit skuiwe...en dan jou ouers laat lag omdat jy so gefurstreerd is met die agteruit boerdery.
As die armpies mooi opgewarm is, dan is dit tyd vir die rugspiere. Le op jou magie, en lig gelyktydig die voete en hande in die lug. Swem in die lug terwyl jy vorentoe en agtertoe wieg.
Kniee op, trek onder die boudjies in. Stoei stoei met jou gesig in die matras gedruk. (Goed vir nekspiere). Die word ook die wurmkruip genoem.


Nog 'n voorbeeld van wurmkruip. Wikkel die kniee ver genoeg vorentoe sonder om die armpies te beweeg. As jy dit lank genoeg doen, dan plof jou gesig in die kombers/bank/matras in, en die momentum van die plof is goed genoeg om die bolyf vorentoe te propel. Herhaal soveel keer as wat nodig is om by speelding uit te kom. Slim ne?


Die maak-Mamma-opgewonde-beweging. Trek die kniee op, stoot op met die armpies en vorder so halwe beweging vorentoe. (Onthou om vir die opgewonde Mamma te glimlag - mens wil mooi lyk op die blog!)
Die afwen-beweging. Net na afloop van die maak-Mamma-opgewonde-beweging, gee 'n groot sug en val kaplaks op jou sy. Stoot die beentjie uit, en rol dan eenvoudig waar jy wil wees - soveel makliker!
Franco - jy verskaf jou ouers SOVEEL plesier! Ons geniet dit so om al die mylpale saam met jou te beleef, en staan verstom oor hoe perfek Jesus jou geskape het. Die Vader se vingerafdrukke is orals oor jou! Sterkte vir die kruip-slag - Mamma is seker jy sal dit binnekort regkry! (Jy is klaar so woelig - Mamma hou maar haar hart vas as sy dink hoe jy haar op haar tone gaan hou as jy eers regtig mobiel is). Elke dag kan ons nie vir die Here genoeg dankie se vir die kosbare persent wat JY is nie.
7 maande

Sunday, November 23, 2008

Raai wie is 7 maande oud? En wat 'n woeste dag!

Sewe maande oud!
Sjoe - ons is al in die tweede helfte van sy eerste jaar! Kan skaars glo die tyd glip so vinnig verby...
Boetman jy word sommer nou vinnig groot! Jy sit, jy wurm-kruip, jy hou al 'n bekertjie vas en jy is sommer net jy! Een bondel non-stop baba-dinamo wat altyd aan die gang is. Jy speel jou ouers stokflou! (Maar ons sou dit nie anders wou gehad het nie)
Die skool vertel vir my jy hou nou al selfs jou bottels vas - dit wil Mamma nog sien, want by die huis sal jy klomp dinge vashou maar wil nog soos 'n wafferse prinsie gevoed word. Maar dis maar reg so Seuna - jy word nou so vinnig groot, Mamma geniet nog hierdie gentle reminders dat jy darem nog haar babatjie is.

Vroeg Saterdag-oggend en ons is besig om op die bal te hop! (Ek lyk net bietjie flou na die vorige nag se partytjie)

Ek word 'n groot seuntjie! Pa en Seun Saterdag in Oom Hannes se woonstel

Ek kan nog 'n opstel skryf oor hoe oulik Franco is, maar ons dag het skielik 'n ander wending ingeslaan toe ons na kerk agterkom die geyser het gebars en die spaarkamer is onder water. :-(
Franco was besig om op sy speelmat te speel toe Gert die "wonderlike" ontdekking gemaak het. Toe die chaos begin, het hy op sy magie omgerol en ons bekyk. Die klein klitsie het homself gebreek vir sy ouers wat rondskarrel met emmers en nat goed uitdra. Die lyfie het skoon geskud van die lag elke keer wat ons daar verby gehardloop kom. :-)
Dit was omtrent 'n deurmekaar res van die dag van sukkel met nat beddegoed, emmers wat die wereld rondstaan en loodgieter stories. Ek en Gert is albei stokflou om die minste te se. Ek is baie dankbaar dit het die week gebeur, en nie laasweek toe Franco siek en Gert weg vir werk was nie!
Ons was te besig om van die geyser chaos fotos te neem, maar ons het darem van Franco se eerste swem geneem!
(My ouers het by ons kom eet, en terwyl Gert loodgieters uitgesorteer het, het ek, Ouma Miekie en Franco bietjie in die swembad afgekoel)

'n Stokflou seuntjie modelleer sy hoed wat Ouma Elna spesiaal vir hom gemaak het! Dankie Ouma!

Saturday, November 22, 2008

Jaareindfunksie!

Dit was Vrydag-aand my werk se jaar-eindfunksie. Die jaar was die tradisionele dinner&dance se dress code: Come as a superstar! Enige raaiskote oor wie ons was? :-)

Ps - Franco was baie skepties oor sy ma se reguit hare. Hy het my 'n hele rukkie stip aangestaar voor hy besluit het dis tog ek, en my toe beloon met die mooiste glimlaggies.

Ps 2- Ouma Elna en Oupa Frans was toevallig in ons geweste vir 'n begrafnis. Hoewel ons jammer is oor die begrafnis, was ons baie dankbaar om sulke goeie baba-oppassers sommer in Franco se eie huis te he! Dankie julle! Ons waardeer dit baie

Seuntjies mag ook van pienk hou

Toe ek Franco Dinsdag by die skooltjie gaan haal toe lyk hy ligpienk van kop tot tone. Die rede? Vingerverf! Seuna het glo 'n voorliefde vir die rooi verf gehad, en homself gate uit geniet. :-) Gelukkig gebruik die slim skool nie-toksiese, wasbare verf!


Vingerverf is soveel pret! Franco het baie om te vertel :-)

Ligpienk handjies, 'n pienk getinte speelpakkie en die kamera-strap!



Wat bedoel Pa pienk is vir dogtertjies? Die karretjie proe dan so lekker!
(Kyk net die woeste water - Franco se beentjies voer alweer oorlog!)
6 maande, 4 weke

Tuesday, November 18, 2008

Huiswerk gedoen!

Charmaine het my getag om die meme te voltooi

Sunday Stealing's McDanger Meme

What are your nicknames:
Soms Kleintjie en soms Kabouter – meestal net Dorette

What TV gameshow or reality show would you like to be on:
Amazing Race vir die geleentheid om al daai ongelooflike plekke te sien. Maar ek sal dit heelwat rustiger wil doen, en die ervaring indrink en nie so gejaag nie. Defnitief nie Survivor (ek HAAT rugstekery) of Fear Factor (obvious reasons) nie.

What was the first movie you bought in VHS or DVD:
My trouvideo - slegs omdat dit ‘n troupersent was. Ek was vir meer as 10 jaar lank TV-loos (van ek koshuis toe was in std 8 tot laasjaar toe ek ‘n TV by ‘n sake-ontbyt gewen het) Te veel TV irriteer my nog steeds – ek sal eerder boek lees, as doelloos vir die een-oog monster sit en staar.

What is your favourite scent:
Parfuum: 5th Avenue (My troudag persent van Gert!)
Kos: Warm varsgebakte brood
Die heel beste reuke ooit? Gert se drukkies, en Franco se Elizabeth Anne’s babalyfie

If you had one million dollars to spend only on yourself, what would you spend it on?
Ek sal my werksure minder maak sodat ek meer tyd met my Seuna kan deurbring. Ek sal meer wil reis, en avonture beleef saam met my dierbares. En verder sal ek graag die geld gebruik om ander te bless –there is much joy in helping others!

What is one place you've visited, can't forget and want to go back to:
Praag oor dit so mooi is. En Parys – toe ons daar was, was ek vrot van die griep, die weer was mislik en die staking in die openbare vervoerbedryf het massive verkeersknope veroorsaak. Ek sal graag wil teruggaan en die mooi, romantiese Parys waarvan almal praat beleef.

Do you trust easily?
Ja, en ek het ook al my vingers rooi gebrand. (Ongelukkig ditto Charmaine)

Do you generally think before your act, or act before you think?
Hang af van die situasie. Gewoontlik deurdink ek dinge goed, maar as ek lief is vir die betrokke persone dan praat my hart soms voor my kop kan dink!

Is there anything that had made you unhappy these days?
Franco wat siekerig was. Die misdaad vlaag in my ouers se omgewing en bekommernis oor hul veiligheid.

What is your favourite fruit?
Granny Smith Appels – hoe suurder hoe beter :-)

What websites do you visit daily?
Blogs en Beeld

What have you been seriously addicted to lately?
Ek kuier laaank oor ‘n telefoon – tel dit?

What's the last song that got stuck in you head?
Dit borrel in my, want ek is so bly (Van Franco se Loflaaitjies DVD)

What is your favourite thing to wear?
‘n Rooi en wit toppie – ek voel mooi daarin

Do you think Rice Krispies are yummy?
Nee wat – ek is te gou weer honger daarna! Eerder muesli

What would you do if you saw $100 lying on the ground?
‘n Bank soek om die noot om te ruil! Hie-hie
Waarskynliker? Dit optel as niemand anders lyk of hulle dit soek nie. Dit dan in my beursie bere vir weke voor dit sal oorskuif na ons “Oorsese Geld” beursie en droom van eendag weer “oorsee” gaan…

What items couldn't you for without during the day?
My middagete :-) My bloedsuiker is laag, en daarom moet ek gereeld knibbel anders voel dit ek gaan omkap.

What should you be doing right now?
Ek wag vir ‘n verslag wat hardloop – so ek werk tegnies nogsteeds! (Maar ek kon seker bietjie liaseerwerk ingehaal het)

Ek tag vir Ma Miekie as sy tyd het en almal wat nog wil speel!

Sunday, November 16, 2008

'n Paar (effens minder) oulike goedjies wat Franco deesdae doen

Net eers - Franco is soveel beter! Prys die Here! Dit was Vrydag laas nodig om enige koorsmedisyne te gee, en te oordeel na die gelag en gesels gister en vandag sou mens skaars kon glo hy is eintlik 'n siek babatjie.
Ek is 'n seuntjie-seuntjie! Julle dink ek is nog siek, maar my kop is al klaar vol plannetjies!

Franco is so oulik, ons wil hom net heeldag opsoen en opdruk. Daar is egter deesdae die een of twee effens mindere oulike dingetjies wat hy ook aanvang...

1) Franco knyp mens! Dis wonderlik dat hy die "pincher's grasp" so goed bemeester, maar minder wonderlik as hy sy nuwe vaardigheid op jou bobeenspier/wang/watookal uitoefen. Daai twee vingertjies kan nogals stewig vasknyp.

2) Tesame met die knyp vaardighede, kan Franco deesdae ook "love bites" uitdeel. Hy het nou die dag tydens selgroep my arm sopnat gesoen/-suig en ek het hom maar laat begaan. Ek was salig onbewus van die blou kol todat iemand by die werk my daaroor uitgevra het.

3) Franco het 'n liefde vir oorbelle en brille ontwikkel. Dis al lankal wat Ma se lang hare en hangertjies om die nek groot teikens is vir handjies om te gryp, maar die afgelope week of wat het oorbelle en brille ook die lys van "Begeerlike Dinge om te Gryp (BDG)" gehaal.
"Boetman, Mamma kon nog haar hare vasmaak, en die juwele vir eers wegbere maar sy het regtig haar bril nodig om te kan sien waar sy loop! Vir jou eie veiligheid sal Mamma dit dus waardeer as jy haar bril uitlos, en nie kraai van die lag as jy dit by die trap afgooi terwyl sy jou dra nie!"

4) Ander dinge wat ook die BDG lys gehaal het sluit in die kamera en Pa se borshare (Glo nie Gert sal ooit weer aanbied om Franco se bottel te gee voordat hy sy hemp aangetrek het nie :-)

Gee daai kamera bietjie hier seblief man! Ons klein blou-oog met die lang wimpers (nes sy Pappa!)

5) Franco se nuwe manier om aan te kondig dat hy klaar ge-eet is, is om die laaste happie prrrrt uit te spoeg. Als binne tref-afstand (sy kleertjies,die tafeldoek, my klere en bril) verkry dus sigbare bewyse van wat ons ge-eet het. En as ek in my kwaai stem probeer raas, dan dink die klein Prins dis uiters snaaks en lag uit sy magie uit...

Gelukkig outshine Seuna se oulike kwaliteite by verre die paar klein effens lastige goedjies! Ons ry perdjie en speel "Was hy - das hy!" dat dit so klap. Franco sit AL langer stil en speel met sy speelgoedjies. Hy doen opstote, hy wikkel met die beentjies en het dit vandag selfs reggekry om te begin leopard crawl agter sy geliefde balle aan! Ons geniet hom SO-SO baie, en kan skaars ons lewe indink sonder die kleinman in ons lewe.

Die ene konsentrasie met sy aktiwiteitsspeelding

Dankie Here vir so spesiale klein seuntjie! Dankie dat U die Geneesheer was wat hom gesond gemaak het! Dankie dat hy soveel vreugde in ons huis bring, ons harte wil sommer bars so vol is dit. Here, help ons om die uitdagings van ouerskap ook so te hanteer soos wat U wil he ons moet. Help ons seblief om altyd U voorbeeld na te streef, en dat Franco selfs wanneer ons moet raas en kwaai wees nogsteeds die liefde wat ons vir hom het sal ervaar. Dankie Here dat ons kan liefhe, omdat U ons eerste liefgehad het.

6 maande, 3 1/2 weke