Sewe maande oud!
Sjoe - ons is al in die tweede helfte van sy eerste jaar! Kan skaars glo die tyd glip so vinnig verby...
Boetman jy word sommer nou vinnig groot! Jy sit, jy wurm-kruip, jy hou al 'n bekertjie vas en jy is sommer net jy! Een bondel non-stop baba-dinamo wat altyd aan die gang is. Jy speel jou ouers stokflou! (Maar ons sou dit nie anders wou gehad het nie)
Die skool vertel vir my jy hou nou al selfs jou bottels vas - dit wil Mamma nog sien, want by die huis sal jy klomp dinge vashou maar wil nog soos 'n wafferse prinsie gevoed word. Maar dis maar reg so Seuna - jy word nou so vinnig groot, Mamma geniet nog hierdie gentle reminders dat jy darem nog haar babatjie is.
Ek kan nog 'n opstel skryf oor hoe oulik Franco is, maar ons dag het skielik 'n ander wending ingeslaan toe ons na kerk agterkom die geyser het gebars en die spaarkamer is onder water. :-(
Franco was besig om op sy speelmat te speel toe Gert die "wonderlike" ontdekking gemaak het. Toe die chaos begin, het hy op sy magie omgerol en ons bekyk. Die klein klitsie het homself gebreek vir sy ouers wat rondskarrel met emmers en nat goed uitdra. Die lyfie het skoon geskud van die lag elke keer wat ons daar verby gehardloop kom. :-)
Dit was omtrent 'n deurmekaar res van die dag van sukkel met nat beddegoed, emmers wat die wereld rondstaan en loodgieter stories. Ek en Gert is albei stokflou om die minste te se. Ek is baie dankbaar dit het die week gebeur, en nie laasweek toe Franco siek en Gert weg vir werk was nie!
(My ouers het by ons kom eet, en terwyl Gert loodgieters uitgesorteer het, het ek, Ouma Miekie en Franco bietjie in die swembad afgekoel)
'n Stokflou seuntjie modelleer sy hoed wat Ouma Elna spesiaal vir hom gemaak het! Dankie Ouma!