baby
Lilypie First Birthday tickers

Thursday, July 31, 2008

Welkom in die wereld Martelize!

Franco se niggie is gisteroggend 2:10 am gebore! Sy is die mooiste, fynste dogtertjie met 'n grote bos hare! (So anders as ons klein prinsie wat net so paar donsies gehad het)

Interessant dat sy ook 3kg geweeg het soos Franco, en op 51cm slegs 'n cm langer is as wat Franco was. Ek kon haar gister vashou, maar dit was amper onwerklik om te dink dat Franco ook so klein was! (en so lig! Sy voel soos 'n veertjie - ek is deesdae gewoond om 5+kg rond te dra)

Welkom in die wereld Martelize! Ons het almal SO uitgesien na jou koms, en is bly jy is nou deel van ons familie. Hoop jy bring vir jou ouers sommer baie vreugde!

Monday, July 28, 2008

Ouma Elna & Oupa Frans het kom kuier!

Gister was 'n besige, besige dag! Vroegoggend moes ons rondskarrel om betyds te wees vir ons 3-maande profesionele foto sessie by Ronel (die vroutjie wat vir ons die babamasseringsklasse ook aangebied het). Die sessie was lekker vrek vroeg (8h30!) maar soveel pret! Ronel was amazing, en Franco was 'n model soos min. Hy het vir ons die mooiste laggies gegee - ek is so opgewonde en kan skaars wag om die proewe te sien! (Franco se nuwe pakkie het duidelik verklaar: "My daddy is the best" en ek dink Boeta was so spot on daarmee! Ek het jammer gevoel dat ek nie 'n toppie kon he wat aandui "My hubby is the best!" nie. Ons is so geseend om Gert in ons lewens te he!)

Daarna was ons plaas toe sodat Ouma Miekie vir Franco sy dooppakkie kon aanpas. (Ons praat van 'n dooppakkie - maar eintlik is dit die pakkie vir Boeta se inseening by die kerk). Die pakkie word gemaak van oorskiet wit satyn van my trourok, en hy lyk behoorlik soos 'n spoggerig klein prinsie daarin! Dankie Ouma Miekie - jy is 'n ster! As dit van my afgehang het, sou ons maar moes kyk wat die winkels opgelewer het.

Was nog op die plaas toe ons 'n lekker verrassing kry - Oupa Frans en Ouma Elna se planne het 'n bietjie verander, en hulle kom toe 'n dag vroeer as beplan! Groot opgewondenheid alround - ons het hulle Des laas gesien, en hulle het dus nog nie vir Franco in lewende lywe gesien nie! Ongelukkig vir hulle was Boeta se kapasiteit vir nuwe, uit-roetine dinge egter klaar tot boordens toe voel, en was hy glad nie op sy best behaviour toe hulle so 20h00 gisteraand hul opwagting maak nie. :-( Dit was dan al 'n rukkie na bed-tyd! Gelukkig kuier hulle nog 2 weke hier rond, en het Franco nog baie tyd om hulle harte te wen met sy glimlaggie!

Dankie Here vir familie - vir die lekker gesinstydjie wat ons met die fotos gehad het, die rustige kuier op die plaas en die pragtige dooppakkie. Dankie Here vir beantwoorde gebede, en dat U Oupa Frans gespaar het, en dat hy soveel beter is dat hy sy kleinseun kon kom sien! U is voorwaar 'n God van wonderwerke! En Jesus as ons kan vra - se seblief vir Franco se niggie sy moet bietjie opskud! Ons is al ongeduldig (en ek is seker haar ouers meer as ons!)

3 maande, 5 dae

Wednesday, July 23, 2008

3 Maande oud vandag!

Kan beswaarlik glo dis maar net 3 maande gelede wat die klein prinsie sy intrek in ons huis geneem het (in ons harte was hy al vir 'n hele ruk ingeburger - al het ons toe nie geweet Franco is 'n boetie-kind nie!)

Ek staan verstom oor al die mylpale wat hy alreeds bereik het, en verwonder my elke dag aan die volmaaktheid waarmeed God hom geskape het. Van sy fuzzy haartjies op sy kop, tot sy kleine tien toontjies - Franco is een bondel perfekte baba propvol persoonlikheid! Ons geniet hom SO SO baie!

My liefste kind, jou ouers het jou so oneindig lief en ons bid net vir jou die mooiste Hemelse seeninge toe wat daar vir ons in Jesus Christus beskore is.

Tuesday, July 22, 2008

Nuwe dingetjies elke dag!


So baie dinge gebeur deesdae! (Sal dat my linkerbrein oorneem en als puntsgewys neerskryf!)

* Ons het toe 'n skooltjie vir Franco gekry (die ene waaroor ek laas geskryf het). Gert het Vrydag weer saam met my gaan kyk, en ons altwee voel die skooltjie is kop-en-skouers bo baie ander wat ons gesien het. Ek dink 1 Sept (en nog baie dae daarna) gaan nogsteeds emosioneel rof wees op my, maar dit maak dit darem soveel makliker om te weet jou kind kry kwaliteit versorging!

* Ons sit op hete kole en wag vir DIE OPROEP dat Franco se niggie hier is! My sussie is voltermyn so dit kan nou enige oomblik gebeur! Kan nie wag nie! (Gert spot my en se ek is amper meer opgewonde oor Babatjie as wat ek was oor Junior. Dis darem nie heeltemal waar nie - maar voor Franco se geboorte was ek opgewonde en bang, nou is ek net opgewonde! ;-)

* Franco was 'n skatlam gisteraand en het van 1am tot 6am geslaap! Dankie my engeltjie - Mamma voel skoon soos 'n nuwe mens. (En vir die wat gewonder het - ja, hy slaap nogsteeds die hele aand in sy eie kamer. Ons al drie slaap nou soveel beter, maar ek mis my oulike warmwatersakkie in my bed. So 'n sagte baba-asempie in mens se nek is darem maar hemel op aarde!)

* Franco skud 'n ratel! Wel, so soorte van. Dis al lank wat Seuna die ratel sal vashou in sy hand (dink dis seker maar nog die infantile gryp refleks), maar hy het nog nooit self besef dat dit hy is wat die ratel skud nie. Die afgelope week het hy egter sy handjies met sy ogies ontdek (nie meer net sy mond nie), en nou kan hy in verwondering staar na die handjie wat die ratel so skud-skud. Nou werk ons net bietjie aan hand-oog koordinasie sodat hy self die rateltjie kan optel en belangriker nog - dat hy sal ophou om homself teen die kop te wack met die rateljie!

* Die klein prinsie se ouma & oupa kom kuier! Gert se ouers bly ver, en kon weens Oupa Frans se gesondheid nie vroeer die trippie aanpak om vir ons te kom kuier nie. Hulle kom egter volgende week, en sal dan hul eerste kleinkind vir die eerste keer ontmoet! Ons sien SO uit - telefoon kuiers is maar nie die ware Jakob nie. Hopelik slaap Seuna goed die rukkie wat hulle kuier, en sien hulle meer van die oulike happy baby wat hy dikwels is, as mr Grumpy (vir wie ons ongelukkig ook soms te siene kry!)

Sjoe! Dink dis die belangrikste so in 'n neutedop. Dankie Here, dat U ons so gelei het dat ons nog in hierdie land bly en nie ver in Australie sit soos wat die plan was nie. Dis so spesiaal om hierdie tye met familie te kan deel! En wees met Thelwyn as die tyd kom - dat die geboorte spoedig en veilig sal afloop en sy nie te veel pyn sal he nie. Dankie Jesus dat U vir ons klein kindertjies uit U hand uit leen - ons sal ons bes probeer om hulle vir die Koninkryk groot te maak!

Wednesday, July 16, 2008

Soektog na 'n skooltjie

Is ernstig opsoek na 'n skooltjie vir Franco. Ek is lus en maak soos 'n volstruis - dalk as ek my kop in die grond indruk en my aan niemand steur nie, sal die 1ste Sept nie so skrikwekkend vinnig nader spoed en die einde van my kraamverlof beteken nie!

Ek het gister na 'n oulike skooltjie gaan kyk (al glo elke mamma niemand kan so goed vir haar kind sorg soos sy nie! Die lyk darem nie na te slegte tweede keuse nie) Die skooltjie is naby ons huis, wat beteken ons sal eers vir Boeta moet gaan aflaai in die oggende en dan die verkeer trotseer werk toe - is net bietjie bekommerd dat dit dalk gaan moeilik wees. Aan die ander kant kan Gert dalk help met die oplaai en aflaai, wat nie die geval is as Franco naby my werk in 'n skool is nie. Gert sal daaroor bly wees die paar daggies per jaar wat Ma moet takbesoek doen en nie by die huis is nie!

Die groot pluspunte (volgens my) is dat die skool elke dag die kindertjies van Jesus leer, en dat hulle juffrou-baba verhouding baie beter is as ander plekke. Dis vir my net so erg om aan te dink, maar ek troos myself daaraan dat ek en Gert baie daaroor gebid het, en dat hierdie (so voel ons) vir ons die beste besluit vir ons gesinnetjie vir die tydstip in ons lewens.

Ons ondersoek nog 'n paar ander plekkies, maar ten minste het ons nou 'n voorloper in die resies!

In ander nuus, het ek en Franco die hele oggend omgekuier by 'n niggie van Gert en haar oulike 21-maande oue dogtertjie. EN dit lyk asof Franco uiteindelik begin oorgaan na 4-uurlikse voedings! Sal kyk hoe vannag loop - hopelik besluit hy nie skielik om op te maak vir die minder voedings in die dag nie! :-) Gisteraand het goed gegaan (na die marathon stryd om hom in die bed te kry). Die prinsie het weereens die hele aand in sy eie bed geslaap en net tweekeer wakker geword!

O ja - en Oupa Jan se toetse was als goeie nuus! Dis 'n WONDERLIKe verligting en ons loof die Here al die pad!

Dankie Here, vir beantwoorde gebede, en U genesende krag. Lei vir my en Gert ook seblief in die soektog na Franco se skooltjie, en dat ons sensitief sal wees vir U stem.

Tuesday, July 15, 2008

Inspuitings, die einde van die pasgebore huil en ‘n kuierjie met Oupa en Ouma


Sjoe! ‘n Dag vol ongewone dinge dis verseker. Eerstens was ons gisteraand verstom toe Franco nie net die 22h voeding ‘n skip gee nie, maar ook die hele res van die aand in sy eie bedjie in sy eie kamer slaap! ‘n Eerste vir hom, en ene wat sy ouers baie bly maak! (Ma sal maar stilbly oor die wakkerword-sessies van 00h30, 2h30, 4h30 en 5h15. Rome is darem nie heeltemal in een dag gebou nie)

Na ons mylpaal nag, het Ma haarself en Franco douvoordag uit die vere gehad sodat Franco vroegoggend sy derde sarsie inspuitings kan kry. Die klein prins het hom soos ‘n champ gedra en skaars gehuil! Ekke was nader aan trane as hy! Suster Carien het ook bevestig dat hy 160g vir die week opgetel het – darem heelwat beter as laasweek se skamele 60g!

Die kleine bietjie gehuil by die kliniek het my skielik laat besef dat Franco se sagte pasgebore baba-huiltjie verdwyn het! :-( Tot onlangs nog het mense opgemerk hoe saggies hy huil, maar vanoggend (hoewel kort) was ‘n regte luide groot baba-huil!

Daarna is ons bederf met ‘n kuiertjie van my ouers. Oupa Jan moes hospital toe kom vir toetse, en hulle het daarna gou kom inloer. Franco en sy Oupa het alte lekker gespeel. Ek dink Oupa en Kleinseun slaap altwee die middag om na hulle onderskeie mediese prosedures!

Dankie Here dat U vir ons almal groot en klein sorg. Dankie dat ons U kan vertrou met als – van Franco se gewigstoename tot Oupa Jan se toetsuitslae. Ons loof U naam!

12 weke 6 dae

Monday, July 14, 2008

Naweekpret

Hierdie was ‘n besige naweek. Vrydag-aand het ons net lekker gechill hier by die huis, en ek en Gert het ons strategie beplan vir die naweek. (Deesdae is enige trippie –winkels, kuiertjies, kerk ens als beplan rondom die klein prins se voedingstye wat hy o so gerieflik daagliks verander!)

Saterdag-oggend het ons gou die winkels getref om ‘n persent vir Carmi te koop. Carmi is vriende van ons se dogtertjie en het Saterdag 1 jaar oud geword – Franco se heel eerste verjaarsdag-partytjie! Het so baie van die boekie gehou wat ons gekoop het, dat ons sommer vir Franco ook ‘n “Die soen wat weggeraak het” gekoop het vir eendag se storie lees. J

Ook op die lysie was ‘n humidifier vir Franco. Hopelik help die om ons klein prins se kort-kort toeneus (ja alweer!) finaal nek om te draai, of hom dan ten minste gemakliker te maak.

Sondag-oggend het ons gou knopies vir Franco se toewydingspakkie gekoop (wat Ouma Miekie ewe liefdevol vir ons maak). Die oulikste beertjieknopies gekry! Verder was Ma se lysie vol boring goeters soos ‘n driepunt prop vir die humidifier, ekstra verlengkoord vir die babakamer en so aan. Pa se lysie het ‘n gasverwarmer ingesluit (dankie Eskom se load shedding!) en toe ‘n onsuksesvolle soektog na gas vir die splinternuwe gasbottel. (Lyk my ons was nie die enigstes wat die naweek agtergekom het dis bibberkoud nie!) Gisteraand was ons kerk toe en toe is die naweek ook al amper oor. Na kerk het ons vir Boeta gevoed en gebad en aan die slaap gesus en toe is dit ookal 21h30! So min dinge is nog gou en maklik met ‘n prinsie in die huis! Maar ons verruil hom vir geen geld in die wereld nie!

Toekomstige beroep?

Ons reken ‘n beroep as chirurg le dalk erens in die toekoms vir Franco – hy oefen dan nou al om sy eie mangels uit te haal! J

Dis te cute om te sien (as mens nou al die kwyl wat daarmee saamgaan ignorer!) Franco is meer en meer besig om sy eie handjies te ontdek, en die afgelope paar dae is die handjies pal in die mond. Hy hou al oulik speelgoedjies vas wat ons in sy hande sit, maar ons kon nog nie agterkom of hy besef dat dit HY is wat die ratels ens. skud nie. Dit wat hy nie met sy oe agterkom nie, kom hy defnitief met sy mondjie agter!

Vir my as Ma was dit tyd om oor my afkeer vir borslappe te kom (tot dusver was ek gelukkig en kon Franco sonder borslappe al die oulike kleertjies vir ons model), maar met die hande in die mond is die spoegfabriek op volle sterkte! Hy het een borslap wat verklaar: “Dribble happens! Get over it” en dis maar wat ek ook moes doen!

Al nadeel van hierdie vroee beoefening van ‘n moontlike beroep is dat die toekomstige chirurg dit alte gereeld regkry om die vingers bietjie te ver in die keeltjie af te druk en homself in die proses naar te maak. ‘n Groot deel van die melkies kom dus terug boontoe – nie bevorderlik vir gewigoptel of Ma se skoon, nuwe hemp nie.

12 weke 5 dae

Dankie Here dat alhoewel ons nie weet WAT Franco eendag gaan word nie, ons wel weet dat U weet en dat U daar is vir al die dae van sy lewe. Ek en Gert bid dat Franco sommer vroeg vroeg in sy lewe sal agterkom hoe nodig hy vir U het.

Thursday, July 10, 2008

Wie is die oulike seuntjie in die spieel?

Ons begin oor die verkoue te kom - prys die Heer! Het 'n neussproei ontdek wat blyk redelik effektief is, so ons gebruik dit 'n paar maal per dag. Arme Franco pes die neussproei en protesteer luidkeels daarteen. Ek begin verstaan wat my ouers al die jare bedoel het" "Dit maak my seerder as vir jou my kind. En dis vir jou eie beswil" ;-)

'n Sure fire aandag aftrekker van neussproei ontsteltenis, is om Franco voor die spieel te jou. Seuna is baie ingenome met die oulike seuntjie wat terugweerkaats, en kan nogals 'n rukkie lank lag en gesels met die nuwe maatjie. Dis te cute! Franco se eerste glimlaggies was op 3 weke, maar dit raak al meer op gepaste oomblikke. Die laaste week of wat het hy ook defnitief meer begin "gesels" met ons. My hart raak sommer week as hy daai tandlose glimlag uitpak as jy "Hallo Franco" se. Sy ogies (of is dit myne) begin sommer skitterliggies inkry.

Dankie Here vir die voorreg om te kan mamma wees vir so spesiale seuna! En dankie vir glimlaggies om al die verkoue-swaarkry oomblikke te laat verdof!

Wednesday, July 9, 2008

Franco is een omgekrapte seuntjie

Is besig om aan 'n inskrywing te werk met 'n bietjie meer detail oor Franco se geboorte. Dit vat net egter langer as verwag, want die klein prinsie in ons huis sukkel met 'n toe neus en is een erg ongelukkige seuntjie!

Die toe neus veroorsaak dat hy nie lekker kan voed nie, en algemeen misrabel is. My hart bloei vir hom - wens daar was ietsie meers as saline neusdruppels wat ek kon gee om te help. Kom agter hoe ouerskap my verander - vir die eerste keer in my lewe sou ek wat wou gee om iemand anders se verkoue namens hulle deur te suffer. Wens dit het so gewerk - ek kry Franco SO jammer!

In ander nuus het ons laaste 3 weke se goeie gewig optel tot 'n einde gekom, met die kliniek wat vandag slegs 60g vir die week bevestig het. :-( Hopelik is dit maar met die verkoue te doen, en is volgende week beter. In tussen is Ma maar terug om die Jungle Juice en pilletjies vir meer melk!

Die Here challenge my met die borsvoeding ding. Ek besef al hoe meer watter furstrasie Hy moet beleef as Hy al die nourishment het wat ons siele so broodnodig het, maar ons is te gefokus op ons eie dingetjies om behoorlik te drink! Dankie Here dat U ons weer en weer kanse gee, en dat U nie net vir ons voorsien in fisiese nourishment nie, maar ook die Lewende Water is wat ons siele so nodig het.

Tot later dan!

Tuesday, July 8, 2008

Die eerste inskrywing!

Ons gesinnetjie is nou ook op die web!

Na vele wik en weeg is besluit om ook ons merkie te maak op die wereld wye web! Het gereken dis dalk 'n maklike nuwe manier om almal ingelig te hou oor al ons avonture in die onbekende wereld van Ouerskap.

Gelukkig kan ons darem altyd staatmaak op die leiding en wysheid van die Ultimate Ouer!