baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label maande. Show all posts
Showing posts with label maande. Show all posts

Sunday, March 15, 2009

'n Maand is in 'n blur verby...

Sjoe! Kan skaars glo 'n MAAND is al verby sedert ek laas opgedatteer het! Dit was 'n besonders woeste maand - die afgelope maand was daar nie een dag wat daar nie iemand in die huis op die een of ander kursus antibiotika was nie. :-( Met die dat dit jaareinde einde Feb was, en dit ons drukste tyd van die jaar is, was ek nie vreeslik gewild met al die siekwees saam nie. As my base ooit hier sou lees - dankie julle dat julle wel verstaan! Ek hoop ek sal gou opmaak daarvoor!

Die lysie van siektes was ongeveer soos volg:
  • 2 x mangelontsteking (Franco en toe Gert)
  • 1 x maagstorie (Dorette)
  • 3 x erge loopneuse en gehoesery wat aflos speel tussen die huismense (ons al drie)
  • 2 x middel-oorontsteking (Franco en Franco)
  • Verskeie fisio-behandelings vir sinusse en siek borskaste (Franco, Gert en weereens Franco)
  • Erge nappy rash ten spyte van al die probiotikas saam met die anitbiotika (darem net Franco)
  • 1 x ge-crashde laptop (Dorette - groot furstrasie! En nog meer verlore werkstyd)
Ons was baie dankbaar vir die humidifier, die nebuliseerder en die Baby-Vac. Sonder die sou slaap nog minder gewees het! (Ervare kollegas het my destyds aangeraai - koop die goete met die eerste verkoue van jou eerste kind. Jy gaan dit ongelukkig meer kere gebruik as wat jy jou aanvanklik kon indink!)

Franco is op die stert-end van 'n tweede rondte antibiotika vir middel-oorontsteking, maar is al baie beter! Ons het uitgebrei van 'n standaard multi-vitamien vir ons elkeen, na 'n omslagtige storie wat Tonsolyt, Respitron, Infantiflora en Barley Green insluit. Hopelik begin al die doepas binnekort vrugte afwerp, en sal ons in die toekoms die antibiotika-trein bietjie minder ry.
'n Lee melkblik maak lekker geraas as jy hom oor die vloer rol...

Ongelukkig was die siekwees seisoen nie net beperk tot ons huis nie - kleine Martelize (Franco se niggie) en haar ouers het net so deurgeloop! Arme Juffroutjie moes glad Vrydag-aand hospitaal toe oor 'n koors wat nie wou breek nie - gelukkig gaan dit darem nou beter. Sterkte Frans en Thelwyn! Ons het baie simpatie en meegevoel! Hopelik is ons oor die hond se stert, en begin dinge nou beter gaan!


Die maand was darem nie net doom-en-gloom nie. Tussendeur het ons te lekker gespeel met ons Rakker, en verstom gestaan oor die ontwikkeling wat so vinnig plaasvind.

Franco help huis skoonmaak

'n Paar dingetjies wat uitgestaan het


  • Die verskyning van Franco se 5de tand! Daar is nou 3 bo en 2 onder (en nommer 6 & dalkies 7 stoei verwoed om deur te breek). Seuna se onsimmetriese glimlag laat ons ook sommer glimlag!
  • Raai wie is mal oor sy swaaitjie?

  • Meneertjie kan vinnig kruip as hy wil! Gunstelinge plekke om na te kruip - onder die (verbode) studeerkamertafel in met al sy rekenaarkabels, onder die pienk bank in die sitkamer (sodat ons ons kop kan stamp as ons probeer regop kom), 'n oop yskasdeur is altyd interessant en die jackpot is die skottelgoedwasser as daai deur durf oopgaan!
  • Mamma het maar gou 'n ongewilde einde gemaak aan heen-en-weer staan en surf met die laaitjie

  • Die pediater wil he Franco moet soveel as moontlik kruip, maar dis moeilik as Aspatatie slegs na die naaste voorwerp waarteen hy homself kan optrek kruip, en dan te heerlik staan en gesels.

  • Goggabie klap nou al hoe meer handjies, en is geniet liedjies waar ons moet handjies klap so baie. Laasweek het Franco so entoesiasties handjies geklap, dat hy homself onbewustelik van die bank weggestoot het en vir 'n paar sekondes op sy eie gestaan het! (Net om met 'n groot kabaal om te dons die oomblik toe ons agterkom ons staan self..)

  • Guilemientjie se eerste blou-oog en knop op sy kop :-( Op warm middae neem die skool die babas buitentoe om in 'n hoekie van die speelterein te sit en speel en te kyk wat die groter maatjies doen. Boetman wil egter altyd eerder met die ouer maatjies speel as met die babas van sy portuur groep (nie dat hy mag nie), en as jy jou oe uitknip dan het die klein Houdini onder jou neus uitgekruip na die groter kinders toe.
    Die nuwe assistent was onbewus van hierdie Franco-geit, en het haar doodgeskrik toe sy sien hoe Franco (wat nog nie kan loop of vas staan nie!) probeer om homself by die klimraam op te hys. Toe sy hoogsbenoud nader storm, toe skrik die Rakker,los alles, en stamp sy kop met die afkomslag. :-(
    Gelukkig ken ons Franco goed genoeg om te weet hoe vinnig hy homself in moeilikheid kan kry, en kon dus die assistent geredelik vergewe. Dis moeilik om altyd betyds te keer!
  • Franco loer al om die kamera om te kyk hoe sy Pappa-hero in die tuin werk. Kyk net die gekneusde linker-oogbank! (Het vergeet om 'n foto te neem om die "guts-en-glory" op sy ergste te wys)

  • Die klouterkabouter het gister weereens sy ondernemingsgees ten toon gestel. Hy is lief daarvoor om by die bank te staan en speel, maar toe wou hy eerder op die bank speel. Aangesien Meneertjie nog te kort is om self op die klim, is die doeksak met 'n gesteun nader gestoot/kruiproller en toe gebruik as 'n trappie om op die bank te kom! My hart het amper gaan staan, en die doeksak is terstond bygevoeg as item #987 van dinge wat hoog weggepak moet word!

  • My kind is 'n opperste platjie, en 'n deel van my hart is benoud oor die grense wat hierdie mannetjie nog gaan toets. Laasnaweek was ons almal vir 'n slag saam op die plaas, en het Franco en Martelize weer al die nuus opgevang. Martelize het die afgelope ruk besluit sy wil nie meer haar foppie he nie, maar was vreeslik geintresseerd in haar nefie se foppie wat aan sy dummy chain vas was. (Sy wou nie die foppie in haar mond druk nie, net eintlik vashou en bietjie van naderby bekyk). Franco was vinnig om die belangstelling op te merk, en het ewe lieftallig sy foppie aangegee. Voor my moederhart te trots kon raak, toe ruk die klein karnallie die foppie weg die oomblik toe Marteliefie haar handjie uitsteek om dit raak te vat. Gedink dis 'n eenmalige gebeurtenis? Nee wat - weer en weer is die foppie met die onskuldigste gesiggie denkbaar aangebied, en weer en weer is die foppie voor die uitreikende handjie weggeruk - tot groot onsteltenis (met reg!) van Juffrou.
    Het solank op aanbeveling Hettie Brits se "Kweek kinders met karakter" aangeskaf en begin opswot oor hoe om hierdie platjie-geid in die regte rigting te stuur. Gelukkig is ons Pa ook altyd daar om raad te gee!
Mnr Besig ondersoek Marteliefie se voet. Een van die min dae die afgelope ruk wat nie een of albei siek was nie
Daar is nog 'n ton nuus, maar dalk moet ons maar eers hier halt roep!

Franco-Frank jy is 'n Goggapatat, en enig in jou soort. Jy leer ons elke dag soveel nuwe dinge - van onsself en van jou! Jy raak elke dag meer en meer jou eie mensie met jou eie maniertjies van dinge doen- jy het al defnitiewe voor- en afkeure en kan dit al goed komunikeer! Jy is 'n wikkelwurm, en jou almal om jou heeldag op hul tone met jou mannewales, maar ons geniet jou so-so baie! Jou laggie (wat deurbreek selfs al is jy baie siek!), oopbek spoeg-soene en dierbare drukkies laat ons harte terselfdertyd smelt van liefde en bars van trots.


Ons hoop en bid dat die gereeld siekwees vir eers bietjie sal minder word - en is dankbaar vir die Here dat jy elke keer so mooi op die medikasie gereageer het en nie verdere komplikasies ontwikkel het nie! Jy was so 'n troopertjie met al die doktersbesoeke, medisyne gee en fisio saam - Mamma is sommer vreeslik trots op jou! Jy raak elke dag al hoe meer seunskind wat die wereld wil verower, en dis 'n voorreg om hierdie pad saam met jou te kan loop!

10 maande, 2 weke

Sunday, November 23, 2008

Raai wie is 7 maande oud? En wat 'n woeste dag!

Sewe maande oud!
Sjoe - ons is al in die tweede helfte van sy eerste jaar! Kan skaars glo die tyd glip so vinnig verby...
Boetman jy word sommer nou vinnig groot! Jy sit, jy wurm-kruip, jy hou al 'n bekertjie vas en jy is sommer net jy! Een bondel non-stop baba-dinamo wat altyd aan die gang is. Jy speel jou ouers stokflou! (Maar ons sou dit nie anders wou gehad het nie)
Die skool vertel vir my jy hou nou al selfs jou bottels vas - dit wil Mamma nog sien, want by die huis sal jy klomp dinge vashou maar wil nog soos 'n wafferse prinsie gevoed word. Maar dis maar reg so Seuna - jy word nou so vinnig groot, Mamma geniet nog hierdie gentle reminders dat jy darem nog haar babatjie is.

Vroeg Saterdag-oggend en ons is besig om op die bal te hop! (Ek lyk net bietjie flou na die vorige nag se partytjie)

Ek word 'n groot seuntjie! Pa en Seun Saterdag in Oom Hannes se woonstel

Ek kan nog 'n opstel skryf oor hoe oulik Franco is, maar ons dag het skielik 'n ander wending ingeslaan toe ons na kerk agterkom die geyser het gebars en die spaarkamer is onder water. :-(
Franco was besig om op sy speelmat te speel toe Gert die "wonderlike" ontdekking gemaak het. Toe die chaos begin, het hy op sy magie omgerol en ons bekyk. Die klein klitsie het homself gebreek vir sy ouers wat rondskarrel met emmers en nat goed uitdra. Die lyfie het skoon geskud van die lag elke keer wat ons daar verby gehardloop kom. :-)
Dit was omtrent 'n deurmekaar res van die dag van sukkel met nat beddegoed, emmers wat die wereld rondstaan en loodgieter stories. Ek en Gert is albei stokflou om die minste te se. Ek is baie dankbaar dit het die week gebeur, en nie laasweek toe Franco siek en Gert weg vir werk was nie!
Ons was te besig om van die geyser chaos fotos te neem, maar ons het darem van Franco se eerste swem geneem!
(My ouers het by ons kom eet, en terwyl Gert loodgieters uitgesorteer het, het ek, Ouma Miekie en Franco bietjie in die swembad afgekoel)

'n Stokflou seuntjie modelleer sy hoed wat Ouma Elna spesiaal vir hom gemaak het! Dankie Ouma!

Sunday, October 26, 2008

6 Maande Oud!

Franco was Donderdag 'n halwe jaartjie oud! Wow! Oor nog 6 maande Boeta is jy al EEN!
Hierdie maand het goed beginne - ons roetine van skool, werk & huis het begin vlot, jy het jou bottie mooi begin drink en begin beter regkom met die vaste kossies.
Maar o wee - toe tref die groot siekte ons huisgesin. Eers jy, toe jy en Mamma en net toe ons twee begin beter word toe word Pappa siek! Hier was omtrent omgekrapte magies, loopneuse en gehoesery in die huis. Gelukkig het jy twee ervare oumas wat jou dom ouers kon bystaan met raad en daad (en baie bid!) oor hoe om jou gou-gou weer gesond te kry.
Toe jy eers weer gesond is, toe is die lewe 'n fees! Jy lag en giggel en gesels en is net so oulik - ons wil jou sommer opvreet! Jy het ewe skielik besluit dat jy 'n honger seuntjie is, en kossies is nou 'n groot deel van die dag vir jou. Die pap is verseker beter as die butternut en groenboontjies, perskes is ok en pere is een groot groot bederf. Jy klink nes 'n motorkar soos wat jy ontevrede geluidjies maak as ons te lank vat om weer te skep en die volgende mondvol te voer.
Boeta boet, Goggabie, Seuna, Franco-Frank, Pa se bieliebam en Ma se Hart-se-punt - ons is SO SO lief vir jou! Elke dag kan ons die Here nie genoeg prys vir die wonderwerkie wat JY is nie. Jy is so perfek geskape, en is so 'n vriendelike seuntjie - dis 'n voorreg om jou ouers te wees. Ek en Pappa bid gereeld dat ons aanhou by ons Pa sal leer om net nog beter ouers vir jou te wees, en jou hopelik eendag na Hom toe kan lei.

6 maande oud vandag!

Kyk hoe groot word ek!

Speelgoed is soveel pret!

Friday, September 26, 2008

5 Maande oud!

Ek kou die wiele van my eerste karretjie! Dankie Ouma Miekie vir my persent!

Franco was Dinsdag 'n volle 5 maande oud! Waar het die tyd heen gegaan? Dit voel soos gister wat ons giggelgoggas was toe ons uitgevind het jy is op pad, en nou Boeta is jy al klaar hier en 'n mensie uit eie reg!
Die maand was die eerste wat Mamma terug was by die werk, en jy moes skooltjie toe. Die mense by die skooltjie is vreeslik in hul skik met jou - almal vertel vir ons dat jy die gemoedlikste babatjie is wat so lief is om te glimlag! Hulle kyk glo skaars in jou rigting, dan flash jy al daai smile(Dis mos hoe ons jou ook ken!)


Ons het gestoei om jou uit 'n bottel te laat drink, en gelag vir jou pogings om bietjie butternut en pampoen te eet. Dis nogals 'n storie om die tydsberekening reg te kry en die lepeltjie in jou mond te kry op die regte oomblik! Sover vaar Pappa bietjie beter as Mamma, maar Mamma leer vinnig!


Jy het die maand jou voete ontdek - dis eintlik te dierbaar vir woorde. Dis nie dikwels dat jy jou voete bykom nie, maar jy het al by geleentheid! Jy aard seker na Pappa - hy kan ook nie sy tone raak nie! :-) Meestal hou jy jou bobeentjies vas, en staar verwonderd na die oulike goeters met 10 toontjies aan daarbo. Doekomruil is nou ietwat moeiliker - en ek en Pappa moet ons storie ken om jou doek omgeruil te kry met jou bene wat so skop-skop in die lug.


Badtyd bly 'n groot treffer al moes ons dit vroeer skuif in die aand. (Jy speel so lekker by die skool - jy is doodmoeg in die aande! Die eerste week het jy omtrent aan die slaap geraak terwyl ons jou bad) Een van die lekkerste tye in Mamma se dag, is die Bybelstorie net voor slaaptyd. Jy sit so snoesig op my skoot, en verkyk jou aan die prentjies van Noag, Josef en al die ander - dit lyk of jy lief is vir boekies.


Ai my kind! Mamma kan nog aangaan en aangaan oor hoe oulik jy is! Jy bring groot vreugde in ons huis! Ons is die Here so dankbaar dat hy jou vir ons leen om groot te maak. Ons is baie, baie lief vir jou!

Kyk my mooi blou oe!

Ek is 'n happy baby!

Wednesday, July 23, 2008

3 Maande oud vandag!

Kan beswaarlik glo dis maar net 3 maande gelede wat die klein prinsie sy intrek in ons huis geneem het (in ons harte was hy al vir 'n hele ruk ingeburger - al het ons toe nie geweet Franco is 'n boetie-kind nie!)

Ek staan verstom oor al die mylpale wat hy alreeds bereik het, en verwonder my elke dag aan die volmaaktheid waarmeed God hom geskape het. Van sy fuzzy haartjies op sy kop, tot sy kleine tien toontjies - Franco is een bondel perfekte baba propvol persoonlikheid! Ons geniet hom SO SO baie!

My liefste kind, jou ouers het jou so oneindig lief en ons bid net vir jou die mooiste Hemelse seeninge toe wat daar vir ons in Jesus Christus beskore is.