baby
Lilypie First Birthday tickers

Friday, September 26, 2008

5 Maande oud!

Ek kou die wiele van my eerste karretjie! Dankie Ouma Miekie vir my persent!

Franco was Dinsdag 'n volle 5 maande oud! Waar het die tyd heen gegaan? Dit voel soos gister wat ons giggelgoggas was toe ons uitgevind het jy is op pad, en nou Boeta is jy al klaar hier en 'n mensie uit eie reg!
Die maand was die eerste wat Mamma terug was by die werk, en jy moes skooltjie toe. Die mense by die skooltjie is vreeslik in hul skik met jou - almal vertel vir ons dat jy die gemoedlikste babatjie is wat so lief is om te glimlag! Hulle kyk glo skaars in jou rigting, dan flash jy al daai smile(Dis mos hoe ons jou ook ken!)


Ons het gestoei om jou uit 'n bottel te laat drink, en gelag vir jou pogings om bietjie butternut en pampoen te eet. Dis nogals 'n storie om die tydsberekening reg te kry en die lepeltjie in jou mond te kry op die regte oomblik! Sover vaar Pappa bietjie beter as Mamma, maar Mamma leer vinnig!


Jy het die maand jou voete ontdek - dis eintlik te dierbaar vir woorde. Dis nie dikwels dat jy jou voete bykom nie, maar jy het al by geleentheid! Jy aard seker na Pappa - hy kan ook nie sy tone raak nie! :-) Meestal hou jy jou bobeentjies vas, en staar verwonderd na die oulike goeters met 10 toontjies aan daarbo. Doekomruil is nou ietwat moeiliker - en ek en Pappa moet ons storie ken om jou doek omgeruil te kry met jou bene wat so skop-skop in die lug.


Badtyd bly 'n groot treffer al moes ons dit vroeer skuif in die aand. (Jy speel so lekker by die skool - jy is doodmoeg in die aande! Die eerste week het jy omtrent aan die slaap geraak terwyl ons jou bad) Een van die lekkerste tye in Mamma se dag, is die Bybelstorie net voor slaaptyd. Jy sit so snoesig op my skoot, en verkyk jou aan die prentjies van Noag, Josef en al die ander - dit lyk of jy lief is vir boekies.


Ai my kind! Mamma kan nog aangaan en aangaan oor hoe oulik jy is! Jy bring groot vreugde in ons huis! Ons is die Here so dankbaar dat hy jou vir ons leen om groot te maak. Ons is baie, baie lief vir jou!

Kyk my mooi blou oe!

Ek is 'n happy baby!

2 comments:

Muriel said...

Ag dis te pragtig.
Dit is inderdaad 'n happy baby met die mooiste, grootste blou ogies!

Dorette said...

Dankie Muriel! Sy mooi blou ogies en glimlag het sommer diep-diep in my art gekruip.