Friday, June 4, 2010

Franco Onthou-dinge & die lewe met 2 kabouters


Hy is ons groot seun, maar terselftertyd eintlik self nog baie klein...

Franco ontwikkel so vinnig - elke dag kom sy persoonlikheid net meer en meer na vore. Ons geniet hom so so baie! Dis ongelooflik spesiaal om te sien hoe hy ontwikkel van baba na seuntjie. Ek en Gert voel so diep geseend, en bid gereeld dat ons as ouers die regte dinge doen en se om hierdie spesiale seuna te help ontwikkel sodat hy eendag die man kan wees wat God bedoel het hy moet wees.

'n Paar kosbare onthou-dinge:

* Franco is vreeslik lief vir enige werkies, en dring daarop aan om mens te help. Huidiglik wen sy pa en Oupa se aktiwiteite 1ste prys en is ongelooflik interessant. Die gereedskapstelletjies wat hy vir sy verjaarsdag gekry het, werk oortyd en Franco ken AL die name en gee vir jou die regte hamer/saag/skroewedraaier aan as hy daarvoor vra. Hy is lief vir grassny, en help fluks blare hark - en dan is dit 'n tydsame proses om die blare een vir een eers op 'n skoppie te vee en dan in die asblik te gooi.

Enige iets wat Pappa doen, moet Franco OOK doen



* In die kombuis help hy net so fluks:
> Hy spat te lekker skottelgoedwater oor als as hy saam met Ouma Elna was-was.
> Hy kan al sif (wolke meel in die lug is groot pret!) en roer (hoe woester, hoe beter)
> Dit is sy werkie om die afgemete droee bestandele in die bak te gooi as daar brood gebak word (ons bak self - so dis 'n paar keer per week)
> Die ywerige chef is ook lief om kaas te rasper (alhoewel ons vermoed dis meer sodat hy self "aas" kan eet as iets anders)
> Om aartappels of pampoen te mash is net so heerlikheid (Mamma! Stamp stamp). Laasweek was ons besig om soet pampoen te maak, en toe ek my rug moes draai om aan Janita aandag te gee, toe trek Mnr self die suikerpot nader en gooi lustig by. Groot ontsteltenis toe ek 'n einde maak aan die speletjie.



Kooklesse onder die wakende oog van Ouma Elna

* Franco se geredelik Hallo, Tata, Dankie en Asseblief (blief). Hy is ook baie gesteld daarop om sy stoel in te stoot as hy van tafel opgestaan het, en raak baie vies as sy stoute pa (of ma) soms vergeet om hulle stoele in te stoot.

Paasfees 2010: Ons verf paaseiers

* Ons prinsie is vreeslik lief vir skool toe gaan, en ons sukkel soms om die vrede te bewaar as Franco 6:00 die oggend skooltas in die hand by die deur staan en aandring om te Tata.
Hallo julle! Ek kort 'n haarsny, maar vir nou is ek my mamma se krulkopkabouter :-)




* Juffrou Christel se Franco is 'n sterretjie by die skool en sy geniet hom vreeslik. Hy is ietwat van 'n storie aandraer (Juffrou, juffrou - Isak stout!) en na-aap baie graag vir Juffrou met opdragte uitdeel. (Rownan kom piepie! Jody tyd-uit!). Franco sal soms stories oor homself ook aandra en homself in tyd-uit sit. ("Juffrou, juffrou Franco stamp Carmi. Franco skuusie. Franco tyd-uit")

* Ons ster-etertjie het rondom 18 maande skielik op 'n eetstaking gegaan, en wou vir 'n paar maande net Chippies & Vissies (Ovenbake chips en visvingers) eet. Sy ouers het (meestal) hul ore doof gehou vir die nimmereindigende versoeke vir 'n koekie, maar darem soms ingegee vir 'n Vita (Provita).

Deesdae eet hy darem beter, en word die groente nie meer sumier teruggestuur nie. Die kabouter is egter nie 'n vrugte man nie - al probeer sy wrede ma daagliks. Ferm vrugte (soos stukkies appel, perske en druiwekorrels) word soms teensinnig geeet, maar hy verkies baie eerder droee vrugte of rosyntjies. So een keer op 'n reendag sal hy wel waag en 'n stukkie of wat pampino, aarbeie of kiwivrug eet. Weier volstrek om piesiesa (piesang) of siesapek (spanspek) te probeer.



Vroeg-vroeg oggend kaskanades. (Moenie vra waar is die broek nie - dis potty training tyd!)



* Franco-Ranco het sy ma se gene en is lief vir vroeg gaan slaap. Soos sy ma, is ontbyt ook 'n prioriteit en wil hy eet sodra hy opstaan. :-) Slaaptyd is gewoontlik 18h vir 18h30, maar soms sal hy selfs so vroeg as 17h15 smeek om te gaan doe-doe. Ongelukkig is hy ook lief vir baie! vroeg! opstaan!. Ons was al meer as 1 oggend om en by 4h wakker gemaak met 'n uitdruklike versoek vir pappies! Die huisreel is dat ontbyt nie voor 5h (erens moes ons die streep trek!) bedien word nie, maar 5h kan dikwels nie gou genoeg kom vir 'n honger seuntjie en sy moee ouers nie.



Die groot ontmoeting. Janita het heelmiddag geslaap, en ons het gewag dat sy moet wakker word, maar toe begin Klaasvakie vir Franco roep. Hier is dus 'n moee seuntjie, en die Slapende Skoonheid - nie heeltemal wat ons ingedagte gehad het nie :-)




* Franco is die dierbaarste Ouboet, maar baie streng! Van die heel begin af was Janita volgens Franco "My Nita" en klaar. As ons hom smiddae by die skool gaan haal mag die ander maatjies en selfs nie eers Juffrou aan Franco se Nita vat nie. :-) En kuier ons by die Oumas, moet ons vir Janita eerste inlaai anders weier Franco om in die kar te klim - netnou vergeet ons haar!



So trots op Sy Nita



Klein voetjies trippel nie meer soggens na ons kamer nie, maar steek vas by Tussie/Nita se kamer. Met determinasie word die poef nader geskuif sodat daar beter gesien kan word. Of Janita slaap of nie - die dummy moet in! "Tussie, dummy. Nita dummy!" En word die Janita se dummy ergelik ingedruk - gewoontlik is ons darem teen daai tyd ook in die kamer om te keer dat Ouboet te rof raak.


2 Karnallies in die bed!

Die dag wat Janita begin het om 'n rateltjie vas te hou was Franco by die huis met oorontsteking. Toe ek my opgewondenheid oor Janita se mylpaal met Franco deel, was 'n die sorgsame Ouboet dadelik by. Vir die res van die middag kon Janita nie dit durf waag om die rateltjie te laat val nie - of Sersantsamajoor het dit terstond in haar handjie teruggedruk met die streng opdrag: "Nita Vashou!"



Franco "help" vir Janita deur haar te wys hoe werk die speelmat

As ons met Janita opsitte oefen om die maag en nekspiertjies te versterk is Franco ook vinnig by om te help. Dis nutteloos om te verduidelik dat Janita eintlik self haar koppie moet oplig - Franco gee te ywerig instruksies "Nita Op! Nita Af!" terwyl hy haar aan die skouers beetkry. Deesdae oefen ons dus maar eerder as Ouboet slaap/by die skool is.

Sou Janita deur die dag huil of knieserig is, soek Franco naarstigtelik na haar dummy. (Volgens Franco maak dummies alles reg!). As die dummy nie die magic trick doen nie, begin Ouboet dikwels uit simpatie saam huil. Soms word Janita wakker in haar bedjie terwyl ek vir Franco bad (en Gert nog by die huis uit is). Aangesien ek nie vir ons Prinsie alleen in die bad kan los nie, moet sy soms 'n paar minute huil terwyl ek so vinnig as moontlik klaarmaak. Dis vir Franco vreeslik ontstellend, en hy smeek my letterlik om vir Nita Nita te gaan troos. Dikwels eindig ons dus op in ons kamer waar ek met een hand 'n skreeuende Janita probeer sus, en met die ander hand 'n ewe skreeuend papnat peutertjie probeer afdroog en aantrek.

Ons hande is vol,maar ons harte loop oor van dankbaarheid. Sal die twee japsnoete ooit weet hoe oneindig lief ons vir hulle is?


Die twee kabouters hou ons besig en op ons tone, maar ek is oneindig dankbaar vir hulle! Ons is stokflou aan die einde van die dag, maar niks kom by Janita se baba-asempie in jou nek of Franco se stywe drukkies nie. Dankie Here dat U vir my en Gert toevertrou het met sulke kosbare perels. Help ons om hulle reg te lei sodat hulle kan groei en ontwikkel in die mense wat U bestem het hulle moet wees. En Here - skaaf maar aan ons as ouers waar dit moet, maar gee dat ons kinders altyd U liefde deur ons sal sien skyn

Wednesday, June 2, 2010

Waar het die tyd heen gegaan?

Waarskuwing: Hierdie is baie lank. Dis neergeskryf sodat ons dit als later sal onthou. Julle is regtig nie verplig om als te lees nie!
Sjoe! Kan skaars glo meer as 'n jaar is verby sedert ek laas geblog het. Het nie gedink ek sal weer begin nie, maar ek sal moet - anders gaan ek te min van Janita se grootword vergeet. Blogging is 'n baie goeie motiveerder om genoeg fotos te neem, en stories neer te skryf!
'n Opsomming van die laaste jaar of wat:

22 April 2009 - Franco word 1 jaar oud! Ons vier die groot mylpaal met 'n Paashaas partytjie 'n week voor die tyd, en 'n lekker vakansie by die see! (Groot bonus toe die Nasionale Verkiesingsdag as openbare vakansiedag aangekondig word. Ons maak ons vakansie 1 dag langer, en ry vroeg die oggend see toe en gaan stem by Glenmore)

Een jaartjie oud en geniet die see vreeslik!


Mei 2009 - Ons huiskoop word uiteindelik gefinaliseer. (Daar was probleme met vorige eienaars wat nie verbeteringe deur die regte kanale aangebring het nie, en die koop (wat ons in Jan 2009 begin het) kon nie deurgaan todat als goedgekeur en geregistreer by die stadsraad was nie.


12 Junie 2009 - Franco moet pypies in sy ore kry! Ma se hart was hoogs benoud, maar gelukkig het die operasie sonder voorval verloop. Hopelik hou die chroniese mangelontstekings bietjie op!

My dapper seuntjie in hospitaalklere

16 Junie 2009 - 'n Hartseer dag toe ek ons babatjie verloor op 5 1/2 weke. Dis 'n vakansiedag, en ek kon nie my ginekoloog in die hande kry nie. Land op die end by iemand anders op, maar daar is niks wat hulle kon doen nie. Ironies - want ons het beplan om ons groot nuus op einste Jeugdag met almal te deel. Dit voel te simpel om slegte nuus te deel - en ons dra toe maar ons seer so stil-stil.



'n Hele reeks bloedtoetse volg (Franco was ook 'n dreigende miskraam, en tesame met 'n chemiese swangerskap in April wou die dokters 'n paar goed seker maak) Die prognose is nie te goed nie - my hormone is heeltemal deurmekaar en ek word gese dat ek waarskynlik sal aanhou om vroee miskrame te he as ek nie hormoonaanvullings kry op kritiese tye nie. Dr Liz werk vir ons 'n detailplan uit van wanneer om te kom vir bloedtoetse, scans ens.



Ons harte is nog baie rou, dus besluit ons om vir eers te fokus om die Groot Trek en oor 'n paar maande eers te begin met Die Plan.


10 Julie 2009 - Die dag van die Groot Trek. Wat 'n deurmekaarspul! Die vorige 2 weke was eers Gert en toe ek vrot van die griep. Die week van die trek sit ons 36 ure lank sonder krag, en Franco raak toe boonop siek! In plaas van pak, is ek besig met oorlog teen 'n hoe koors, en Gert teen die munisipaliteit. Gert het vinniger gewen as ek :-)



Die dag van die trek is daar nog heelwat "odds & sods" wat gepak moet word, en Franco was nog veels te siek om te kon skooltjie toe gaan. Dankie tog vir wonderlike Oumas & Oupas wat kom help met die deurmekaarspul!



Na 'n woeste dag - met kussings wat skoonveld is, en Franco se bababed wat weens 'n skerp hoek nie by sy kamer kan in nie - raak ons uitgeput aan die slaap. Ons 1ste aand in ons nuwe huis!


17 Julie 2009 - 5 jaar terug het ons verloof geraak by die Staatsteater! Die jaar gee ons die Staatsteater 'n mis, maar gaan vier darem tog die geleentheid by 'n nuwe eetplek naby die nuwe huis :-). Dis egter vrek koud, en ons eet maar vinnig. Gedurende die aand begin ons wonder - ek bly tot die dood toe moeg ten spyte van heelwat slaap. Kan dit nog toegeskryf word aan die griep en stresvolle trek - of is dit iets anders? 'n Tuistoets (gekoop by die noodapteek) wys twee baie duidelike strepies. Is dit groot nuus, of nog oorblyfsels van die miskraam? Sedert ons in April begin dink het aan 'n boetie of sussie vir Franco, is dit ons 3de positiewe toets en ons weet nie wat om te dink nie.



Die volgende week wat volg gebeur 2 groot dinge:

* Franco (15 maande) begin loop! Sy balans was 1000 maal beter na die grommets operasie, en hy het heel vernuftig met die "cruising" geraak. In die groter huis is die meubels egter bietjie verder van mekaar, en moet hy noodwendig 'n paar treetjies tussen-in loop! Dit gaan nog wankelrig, maar ons is baie opgewonde!!!

15 1/2 maande - So trots op homself!


* Bloedtoetse bevestig daar is inderdaad 'n baba met gesonde hartklop oppad! Net oor die 6 weke swanger! Die slag is al die hormoonvlakke 100% normaal. Die Dr is verstom - skaars 'n maand tevore was die prognose baie anders. Ons is minder verstom - ons dien immers 'n Groot,Groot Here - maar dit bly 'n warboel van emosies om te verwerk. Dan is ons swanger, dan nie, dan weer, dan nie. Gaan nommer 3 ons gelukbringer wees? Gelukkig kan ons elke tree saam met ons Pappa wandel - al weet ons nie altyd wat gaan die uitkoms gaan wees nie, weet ons altyd Hy loop elke tree saam met ons.

Augustus 2009 - Franco begin by sy nuwe skool. Die aanpassing verloop baie goed. Dankie Here!



Ons laat maak 'n spesiale Ouboet hempie vir Franco om ons groot nuus oor te dra. Oupa Jan was bietjie vinniger om te snap as Ouma Miekie! Ouma was so besig om met Franco te kuier, dat sy die woorde op die hempie vir 'n hele ruk skoon misgekyk het. :-)


Raai wie word 'n Ouboet in die jaar van groot sokker?


Naweke speel ons lekker met Franco op die klimrame by die parkie onder in die straat.


Sept 2009 - ek is tot die dood toe naar (net soos met Franco!) en kan nie veel van die maand onthou nie. Die slag verheug ek my in die naarheid - dis tog seker 'n teken van 'n goeie, gesonde swangerskap? Die helikopter klimraam is sy gunsteling! 17 maande oud



In die begin het Franco al huilende aan my been geklou as ek siek geword het. Later het die episodes al so algemeen geword dat hy slegs gefasineerd toegekyk het. As ek klaar was, het hy aangedring op sy beurt om in die toilet te spoeg voor ons kon spoel (Lekker gross!). Daarna was dit eers my beurt om tande te borsel, en dan MOET sy tande ook geborsel word. Ons prinsie het oor naweke sekerlik die skoonste tande in die land gehad! Dit was dan 6-7 keer per dag geborsel!


Okt 2009 - als gaan nog goed met swangerskap. Prys die Here! Word egter gediagnoseer met 'n groot ystertekort, en die trial run met verskillende ysteraanvullings begin. (Min het ek geweet al die pille sou slegs 'n klein verskil aan die ongelooflike moegheid maak, en dat ek nog steeds met 'n ystertekort sou sit tydens my 6 weke post partum ondersoek!)



Einde Okt kry ons onverwags die geleentheid om gratis saam in die Wildtuin te gaan naweek hou. Letterlik 'n geval van Donderdag besluit, Vrydag-middag ry. Franco (18 maande) geniet dit vreeslik - veral die rooibokkies en apies. Ons sien leeus baie naby die pad, maar hulle le te stil om eintlik interessant te wees vir die klein Avontutier. Eers in die Wildtuin lees ek 'n pamflet dat swanger vroue en kinders onder twee afgeraai word om die wildtuin te besoek weens malaria. Oeps! Ons smeer maar vreeslik anti-mozzie goed aan.



Nov 2009 -

Die sonar wys dis 'n dogtertjie! Ons was baie verbaas (was albei oortuig dis weer 'n seuntjie). Ek en Gert gaan vier dit met pienk melkskommels. Ons kondig ons groot nuus aan tydens 'n familie ete. Die Oumas was sommer baie opgewonde, en begin sommer dadelik die skattigste pienk kleertjies aandra.



Ons vier ook Gert se 30ste (so maand vroeg) met groot fanfare saam met 50 van ons pelle en naby familie. Dit was 'n heerlike aand en ons kuier so lekker dat ons veels te min fotos neem! Dankie vir Ma Miekie en Thelwyn (hulle het gasvrouens gespeel vir die aand sodat ek kon kuier), my werk (vir die gebruik van ons staff rec room, en al die eetgerei) en ons engel, Ouma Sara (sy het gehelp tafels dek, en deur al die berge skottelgoed kaf gedraf!). Met die ystertekort was ek stokflou, maar dit was 'n wonderlike aand. Geluk my man! Is elke dag so dankbaar dat jy vir my gekies het! Die lewe saam met jou raak net al hoe beter...


Des 2009 - Gert se ouers trek na ons stad toe! Wat 'n vreugde om hulle so naby ons te he! Nou kuier ons sommer baie, ipv net 2 keer per jaar! Franco (en nou ook Janita) is baie bevoorreg om altwee stelle grootouers so naby en so betrokke te he.



Ons ry ook af Natal toe vir die jaarlikse familiesaamtrek saam met Ma Miekie se familie. Wat 'n heerlike naweek! Vrydag-aand slaap ons in die mooiste Drakensberge oor, en die kuier begin so lank met van die familie. Saterdag sit ons die kuier voort in Kranskop, en Sondag-middag ry ons Newcastle toe om vir Liani op haar ouers se plaas te gaan kuier. Kuier al te heerlik Sondag-nag om (Liani is 'n dierbare vriendin, en ons kuier veels te min!).



Maandag-oggend is die kuier minder pret, met Franco wat erg klaerig en huilerig is. Dinge begin sin maak toe tannie Annemie baie diplomaties voorstel dat die klomp muskietbyte dalk eerder waterpokkies is. Nugter weet waar Franco die opgetel het, maar 'n apteker bevestig inderdaad die diagnose. Gelukkig het die klomp Natal kleinneefs en -niggies reeds waterpokkies gehad, en was Martelize nie saam af Natal toe nie. Die waterpokkies krap ons Kersfeesplanne om - gelukkig kan ons saam met Gert se familie kuier, want Oom Hannes het nog nie kinders nie.

Kersfees 2009 Franco speel met die grassnyer wat hy by Ouma Miekie gekry het - die waterpokkies so te se weg, maar ons is nog in kwarantyn


Ons Kersfeespersent aan onsself? 'n Sitkamerstel vir die tweede familiekamer en sonverhitting vir die swembad. Ons sit en swem te lekker!

Met Eskom se groot kragverhogings om die draai, knyp ons ook oe toe en laat 'n songeyser installeer.



Jan 2010 - die nuwe jaar begin volstoom met groot projekte by die werk vir my en Gert. Franco (20 maande) kondig self aan dis tyd vir potjielesse, toe hy self sy potjie in sy kas ontdek, dit badkamer toe dra en daarop gaan sit. Toe ons vir die grap sy doek afhaal, toe piepie hy terstond! Binne 'n week kry ons gereelde fondse van #1 en #2 in die potjie, en ek en Gert is tog te trots. (Min het ons geweet Janita se koms sou alles omverwerp, en dat ons einde Mei nie veel verder as daai eerste week in Jan sou wees nie. Sug! Eendag, eendag...)


Feb 2010 - dis jaareinde by die werk, en dinge gaan lekker dol. Ons word bederf met 'n babatee te ere van Sussie, en kry die mooiste kleertjies en kombersies.


22 maande. Ek het my kop oopgestamp teen die nuwe sandput by die skool, maar is baie trots op my Bob the Builder pleister!


Op 37 weke verf ons met Oupa Frans se hulp die babakamer. Ouma Miekie en Oupa Jan kom help met die finishing touches, en ons hang die nuwe gordyne ens wat Ouma Elna help maak het. Daar is niks soos 'n paar vals kontraksies om die "nesting instinct" volstoom te laat inskop nie. Sussie kan nou maar kom!

Maart 2010 - die dae raak min voor Sussie moet kom, maar gelukkig is ons so besig by die werk dat die dae verbyvlieg. Ek kry heelwat meer Braxton Hicks as met Franco, en dink kort-kort ek is in vroee kraam. (Franco was 'n induksie, en ek was nuut met die hele "wanneer gaan ons hospitaal toe? vraagstuk".

39 weke en 6 dae swanger! Franco gee vir Sussie 'n soentjie



Gert kry klierkoors en is regtig erg siek. Ek word beleefd versoek om nie vroeg in kraam te gaan nie, en ek le nagte langs my siek man en tel kontraksies - hoogs benoud dat ek wel in kraam is, en 'n koorsige Gert nie toegelaat gaan word om by te wees nie.
22 Maart 2010 'n Laaste swem van die seisoen. Mamma was daai dag ook in die swembad, maar het gesorg dat sy agter die kameralens bly!

Gelukkig is die Here goed, en werk alles reg uit! Sussie is nie haastig nie, en gee vir Gert genoeg kans om eers beter te word. Sondag 21 Maart (my verwagte datum) breek aan soos enige ander dag. Heelwat Braxton Hicks, maar dit was ek toe al gewoond. Het verslaap en was te laat vir kerk (later sou ons dankbaar wees vir die ekstra slaap!). Het toe maar die oggend verwyl met 'n laaste swem en besoek aan die parkie. Na 'n middagslapie het my Ma-hulle kom inloer. Het die aand bietjie TV gekyk, en toe maar so 21h gaan inkruip.



23h15 word ek egter wakker - en dis sulke tyd! Ek maak Gert wakker, ons bel vir Ma Elna-hulle (wat in 'n rekordtyd by ons huis aankom om vir slapende Franco op te pas) en ons ry hospitaal toe. Gert was nog effe deur die slaap, en het was heimlik nie so seker dat dit die slag regtig is nie - en het baie rustig hospitaal toe gery. :-) Slim man het egter sy gedagtes wyslik vir homself gehou.



Was net na 24h opgeneem, en toe gebeur dinge vinnig. Janita Elsa L is Maandag-oggend 3h50 gebore - so perfek as wat kan kom. 'n 50cm lange pakkie van 3,3kg wat ons net weereens verstom gelaat het oor hoe GOED die Here is!



Is sy nie te mooi vir woorde nie? 1 week oud


Franco (23 maande) is ook baie ingenome met sy Nita


Nog baie nuus om te kom - maar hierdie raak nou veels te lank!

Sunday, April 19, 2009

'n Paar snapshots van die laaste ruk

Sjoe! Deesdae is ons dae so vol en besig en Franco bemeester so vinnig nuwe dingetjies, as ek weer sien is ons agter met die blog!

Die laaste week of wat het ons:
  • teruggekom van ons Middelburg naweek. Die wasgoed, tuinwerk en regte werk-werke was als agter van die paar dae wat ons weg was en moes ingehaal geword het.
  • tussen-in moes ons beplan vir Die Partytjie. Groot pret, maar die tyd was net so min! ;-)
  • Franco het sy deel van die partytjie beplanning gedoen, en sy ouers bederf? deur tand nommer 6 & 7 die 2 dae voor die partytjie te sny. Daar is min dinge soveel pret soos besige dae, en laaaang nagte met kwantiteit gesinstyd nie
  • en die belangrikste? Dit was Paasfees! Gesinstyd, introspeksie-tyd, dankie se tyd. Dankie Jesus vir U groot,groot offer! Dankie dat ons kan Lewe omdat U bereid was om in ons plek te sterwe.
  • Ons het een heerlike partytjie gehad en toe moes
  • Mamma met 'n baie swaar hart Bloemfontein toe gaan vir werksgoete. Niks teen die Rosestad nie, maar 3 uit die laaste 4 keer wat ek daar was, was ons vlugte vertraag. Dink ek ken nou die (vrek klein aircon-lose) lughawe goed genoeg.

Die partytjie was 'n reuse-sukses! En Franco (en sy ouers!) het dit so-so baie geniet. Om die waarheid te se - ek en Gert het die partytjie so baie geniet, dat ons vergeet het om 'n enkele fototjie te neem! (Al het ons so ewe die aand voor die tyd die kamera se battery spesiaal gelaai) Dankie tog vir 'n parate Ouma, Oom Hannes en Tannie Thelwyn wat die Hasie-partytjie vir ons gedokumenteer het. Nou is die uitdaging net om al die fotos by die verskillende kamera-eienaars te kry. Ouma Miekie was so oulik om 'n hele CD vol fotos spesiaal by my werk af te lewer (dankie Ma!), maar daar vergeet ek die CD Vrydag op my lessenaar. :-( Grrr,grrrrr vir myself! Die partytjie-fotos kom - belowe, maar intussen moet hierdie maar instaan...

Ons was druk besig om te pak vir ons Middelburg-naweek toe Franco skielik tjoepstil word en ons wis ons moet gaan loer....

Meneertjie was druk besig om 'n rol toiletpapier te dissekteer - die konsentrasie was iets om te aanskou!Uitgevang! Al is hy hoe klein, Franco weet as hy iets doen wat hy nie veronderstel is nie - en kan nes 'n verskrikte bokkie lyk as hy agterkom hy is uitgevang. :-)

Aan die einde van elke ete dring Franco deesdae aan om self te probeer eet. Dis maar 'n morsige storie (ek sou ook sukkel as ek die lepel kort-kort onderstebo of agterstevoor het), en sy mamma leer lesse in geduld, maar dis te skattig om te sien!
Franco was baie geintreseerd in my sap, en het dadelik nader gestaan vir sy beurt. Moet se - hy het nogals oulik reggekom! As ouers van 'n seuntjie wat nie-hou-van-vreemde-goete-in-sy-mond-nie was dit 'n groot verrassing! Ons was sommer baie trots!

(En kyk net die lelike skraap op die gesig - Franco het saam-saam help klere uitpak, en moes hom op een of ander manier met die gespes gekrap het :-( Hy het niks eers gehuil nie - al het ek my byna boeglam geskrik toe ek dit opmerk. My arme kind lyk nes 'n wilde seerower!)

Kyk hoe rond staan my pensie na ete! Franco het een oggend amper 20 lepels pap geeet! Boeta het net gevra vir nog en nog en nog...


Paasnaweek was ons op die plaas en Franco het Oupa Jan se pantoffels ontdek. (Vir nog skattige Paasnaweekfotos kyk bietjie op Ouma se blog hier)
Oupa jy is my hero, en ek gaan eendag net so groot soos jy wees!

Franco ontpop deesdae in 'n klein helpertjie. As ek of Gert besig is met iets, dan is Seuna vinnig om nader te kruip en aan te dring om te wil "help". Nou veroorsaak die "hulp" nog effens uitdagings, maar ons hoop maar hy bly so fluks sy lewe lank!

Die oggend van die partytjie het Gert die opblaas swembadjie opgepomp en Franco het vinnig nadergestaan en ernstig na die instruksies geluister...
Op en af, op en af! Franco het gedink dis skreeusnaaks. (Franco het darem ietsie van sy ma geerf - sy oe gaan ook toe as hy lekker lag. Nie juis die mees fotogenieste eienskap nie :-)

Franco staan (en stap selfs!) deesdae al oulik - sy selfvertroue is net nog bietjie min. Hy raak verboureerd as hy agterkom hy staan self en dan gaan sit hy sommer dadelik. Die betrokke oggend het hy lank gestaan terwyl hy aan die pomp se pyp vasgehou het - min het hy besef dat so 'n pyp eintlik geen ondersteuning bied nie...

Mamma word darem ook gehelp! Hier help Franco fluks sy eie wasgoed sorteer

Doen ek dit reg Mamma? Dis mos Lig, Medium en Donker ne? So 'n hoop wasgoed maak 'n baie lekker speelding, en Franco kan homself 'n lang ruk daarmee amuseer.

Julle moet 'n lekker aand he! En lief bly vir Liewe Jesus! Ek is tog Donderdag 'n volle EEN jaar oud!

Wednesday, April 8, 2009

Fotos van die naweek

Al was die rede vir die kuier 'n hartseer ene (sien inskrywing net voor die ene), was dit nogtans lekker om die familie te sien :-) Ons het so lekker gekuier, dat ek op die end baie minder fotos geneem het as wat ek gedink het ek het!
By die begrafnis-tee. Ons klein drool-machine :-)


Jaag my Lee-Anne! Besig met 'n kruipkompetisie


Die tee was in die dorpsaal gehou met die pragtigste verhoog. Franco en sy kleinnefie en -niggie het alte gou die gordyn ontdek en hope pret gehad! Die helder kinderlaggies was salwend op 'n seer gemoed. Die kleertjies was maar goed stowwerig, maar gelukkig maak Omo weer alles silwerskoon.

Soms was Meneertjie so haastig, hy het skoon geski op die verhoog


Waar's hy? Daar's hy! Graeme is Lee-Anne se ouboet en was wonderlik met die kleintjies



'n Poging tot 'n groepsfoto van die kleinnefies en -niggie. Van links na regs:

is 'n onwillige Lee-Anne (3 in Oktober), Graeme (9 jaar), Hannelize met Fouche (8 maande - tannie Sandy se skoondogter en enigste kleinkind) en Gert met Franco

Fouche verwonder hom aan Graeme wat as kwaai Ouboet vir Lee-Anne tot orde probeer bring en Franco oefen sy waai-tegniek. (Hy het agter gekom dit lok groot reaksie uit, en vir 'n paar dae was dit die nuutste thing om oor-en-oor te doen)

Probeerslag nommer twee. Lee-Anne is erens 'n pienk spikkel agter die gordyn
Fouche is 'n klein bulletjie, en is langer en swaarder as ons klein Aspatatie al is daar 3 maande verskil tussen die twee. Franco is duidelik my en Gert se kind! Reuse is ons nie :-)

Saam met Ouma en Oupa

Baie vroeg Sondag-oggend toe ons wou ry, besef ek skielik ons het so lekker gekuier dat ons nooit 'n foto van Franco saam met Ouma Elna en Oupa Lappies geneem nie! Skuus ons vang julle so in jul nagklere - maar 'n foto moes ons darem he!
Die afry deur die middag/aand was nie so sleg nie, en Franco was droomsoet (en groot dele in droomland!) - maar toe ons so kort na Donderdag weer die langpad aandurf was Boeta minder ingenome. Ons het maar kort-kort gestop en allerhande interessante plekke ontdek. Dink hierdie was by Kroonvaal.

Oom Hannes hou piekniek, en Franco toets die swaaie uit

Die piekniekmandjie het kersietamaties opgelewer, en ons wou kyk wat Franco daarmee maak. Soos verwag, gaan die nuwe fonds glad nie mond toe nie maar die handjies het als ywerig ondersoek.

Hmmm - wat is die? Kom ons slaan/druk dit dood! .

Na die eerste tamatietjie oopgebars is (en Gert lekker nat gesquirt is!), het Franco gedink dis 'n lekker speletjie en wou net nog en nog tamaties he. :-)


'n Nabyskoot van die gemors. Dankie tog vir afveedoekies!




Nog 'n tamatie seblief Mamma? Maar Pappa se NEE ;-)


Dis lekker besig by die werk - ons is altyd besig die tyd van die jaar, en April se baie vakansiedae is lekker, maar die deadlines skuif nie aan nie. :-)


Verder beplan ons lekker aan Franco se verjaarsdag-partytjie. Dis al Maandag! Gits! En behalwe vir almal uitnooi, het ek nog niks eintlik voorberei nie. Sal maar die naweek rondhardloop - en baie dankbaar wees vir Ouma Miekie wat wil help! Die verjaarsdag is eintlik eers die 23ste, maar ons hou dan bietjie vakansie (yeah!) en omdat Franco se ander Ouma en Oupa nou by ons sou kom kuier het, het ons die partytjie bietjie vroeer gemaak sodat hulle ook kon by wees. Maar nou ja, die Here het ander planne gehad en hulle help nou eers dinge in Middelburg uitsorteer.


Op 'n ander punt - is die Here se skeppingswerk nie ongelooflik nie? Minder as 'n jaar terug was Franco nog 'n pap babatjie wat nie eers kon glimlag nie (maar nogtans diep in ons harte gekruip het!). Deesdae is pure klein seuntjie wat al saam met maatjies kan saamspeel en saamlag! Noudat ek 'n mamma is, dink ek, ek verstaan effens beter van hoe lekker dit vir die Here moet wees as Hy sien hoe ons groei en ontwikkel (en hoe gefurstreerd Hy moet raak as ons deur ongehoorsaamheid daai ontwikkeling verlangsaam). En tog gee Hy nooit moed op met Sy kinders nie. Dankie Here! Vir U liefde, sorg en geduld. Dankie vir die blessing wat Franco is, en dat ek deur hom soveel lesse van U kan leer. Maak my hart sag en ontvanklik vir U stem, sodat daai lesse nooit verniet sal wees nie..

Tuesday, April 7, 2009

Ter nagedagtenis: Tannie Sandy

Tannie Sandy (soos ons haar geken het) is laasweek baie onverwags oorlede. Die dokter vermoed dit was 'n bloedklont deur haar hart. Sy was Pa Lappies se jongste suster, en ook hul buurvrou en vriendin. Haar dood was 'n groot skok - mens verwag nie dat iemand wat as gesonde mens gaan werk 'n paar uur later sal sterf nie. Ek weet daar is vele wat haar sal mis, en my hart gaan veral uit na Pa Lappies, Ma Elna, tannie Rina Kok en Conrad, haar enigste seun. Ek bid dat Jesus julle superstyf sal vashou, en salfies oor die seer sal smeer.


Gelukkig weet ons dat tannie Sandy 'n Koningskind is, en dat sy nou veilig by ons Pa is. Al is die gemis groot, bring dit tog vertroosting dat niks sonder Sy hand gebeur nie, en dat sy geensins gely het nie.


"Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie." Psalm 116:15

Franco in sy Cheeky Jeans - een van vele geskenke van tannie Sandy

Thursday, April 2, 2009

My hart wil smelt...

Daar is baie nuus om te vertelle, maar dis 'n onverwagse dol en hartseer week...

Gelukkig is daar 'n sekere kleinman in my lewe - hy en sy pa laat my hart sommer tjoklits klop!

Meneertjie is 'n klein klitsie en sy nuuskierigheid maak dat Mamma besig bly! As ons nie ons speelgoed die wereld vol ronddra nie, dan pak ons die tupperkas uit of verwoes 'n rol toiletpapier, smyt die arme plant om en of pak ons eie doeksak uit. Die doeksak-storie moet ons deesdae hoog wegbere en nogsteeds mooi kyk anders kom jy eers agter iets is soek as jy dit ver van die huis nodig het (hoog genoeg verander elke dag - om bloot die sak op die bank te tel werk nie meer nie!).

Hoe gaan die Flake advertensie? "One smile (bite), and all resistance crumbles"


Elke dag is ons meer seunskind, en minder babatjie..

Die assistente by die skool se bynaam vir Franco is "The King". Toe die skoolhoof vra hoekom, is die antwoord: "Want hy is die gelukkigste, gemoedlikste, happy-ste babatjie wat hierdie skool selde nog gesien het!"

Is dit moontlik dat jou hart terselfdertyd kan smelt van liefde en bars van trots?

11 maande, 1 week en 3 dae