baby
Lilypie First Birthday tickers

Wednesday, June 2, 2010

Waar het die tyd heen gegaan?

Waarskuwing: Hierdie is baie lank. Dis neergeskryf sodat ons dit als later sal onthou. Julle is regtig nie verplig om als te lees nie!
Sjoe! Kan skaars glo meer as 'n jaar is verby sedert ek laas geblog het. Het nie gedink ek sal weer begin nie, maar ek sal moet - anders gaan ek te min van Janita se grootword vergeet. Blogging is 'n baie goeie motiveerder om genoeg fotos te neem, en stories neer te skryf!
'n Opsomming van die laaste jaar of wat:

22 April 2009 - Franco word 1 jaar oud! Ons vier die groot mylpaal met 'n Paashaas partytjie 'n week voor die tyd, en 'n lekker vakansie by die see! (Groot bonus toe die Nasionale Verkiesingsdag as openbare vakansiedag aangekondig word. Ons maak ons vakansie 1 dag langer, en ry vroeg die oggend see toe en gaan stem by Glenmore)

Een jaartjie oud en geniet die see vreeslik!


Mei 2009 - Ons huiskoop word uiteindelik gefinaliseer. (Daar was probleme met vorige eienaars wat nie verbeteringe deur die regte kanale aangebring het nie, en die koop (wat ons in Jan 2009 begin het) kon nie deurgaan todat als goedgekeur en geregistreer by die stadsraad was nie.


12 Junie 2009 - Franco moet pypies in sy ore kry! Ma se hart was hoogs benoud, maar gelukkig het die operasie sonder voorval verloop. Hopelik hou die chroniese mangelontstekings bietjie op!

My dapper seuntjie in hospitaalklere

16 Junie 2009 - 'n Hartseer dag toe ek ons babatjie verloor op 5 1/2 weke. Dis 'n vakansiedag, en ek kon nie my ginekoloog in die hande kry nie. Land op die end by iemand anders op, maar daar is niks wat hulle kon doen nie. Ironies - want ons het beplan om ons groot nuus op einste Jeugdag met almal te deel. Dit voel te simpel om slegte nuus te deel - en ons dra toe maar ons seer so stil-stil.



'n Hele reeks bloedtoetse volg (Franco was ook 'n dreigende miskraam, en tesame met 'n chemiese swangerskap in April wou die dokters 'n paar goed seker maak) Die prognose is nie te goed nie - my hormone is heeltemal deurmekaar en ek word gese dat ek waarskynlik sal aanhou om vroee miskrame te he as ek nie hormoonaanvullings kry op kritiese tye nie. Dr Liz werk vir ons 'n detailplan uit van wanneer om te kom vir bloedtoetse, scans ens.



Ons harte is nog baie rou, dus besluit ons om vir eers te fokus om die Groot Trek en oor 'n paar maande eers te begin met Die Plan.


10 Julie 2009 - Die dag van die Groot Trek. Wat 'n deurmekaarspul! Die vorige 2 weke was eers Gert en toe ek vrot van die griep. Die week van die trek sit ons 36 ure lank sonder krag, en Franco raak toe boonop siek! In plaas van pak, is ek besig met oorlog teen 'n hoe koors, en Gert teen die munisipaliteit. Gert het vinniger gewen as ek :-)



Die dag van die trek is daar nog heelwat "odds & sods" wat gepak moet word, en Franco was nog veels te siek om te kon skooltjie toe gaan. Dankie tog vir wonderlike Oumas & Oupas wat kom help met die deurmekaarspul!



Na 'n woeste dag - met kussings wat skoonveld is, en Franco se bababed wat weens 'n skerp hoek nie by sy kamer kan in nie - raak ons uitgeput aan die slaap. Ons 1ste aand in ons nuwe huis!


17 Julie 2009 - 5 jaar terug het ons verloof geraak by die Staatsteater! Die jaar gee ons die Staatsteater 'n mis, maar gaan vier darem tog die geleentheid by 'n nuwe eetplek naby die nuwe huis :-). Dis egter vrek koud, en ons eet maar vinnig. Gedurende die aand begin ons wonder - ek bly tot die dood toe moeg ten spyte van heelwat slaap. Kan dit nog toegeskryf word aan die griep en stresvolle trek - of is dit iets anders? 'n Tuistoets (gekoop by die noodapteek) wys twee baie duidelike strepies. Is dit groot nuus, of nog oorblyfsels van die miskraam? Sedert ons in April begin dink het aan 'n boetie of sussie vir Franco, is dit ons 3de positiewe toets en ons weet nie wat om te dink nie.



Die volgende week wat volg gebeur 2 groot dinge:

* Franco (15 maande) begin loop! Sy balans was 1000 maal beter na die grommets operasie, en hy het heel vernuftig met die "cruising" geraak. In die groter huis is die meubels egter bietjie verder van mekaar, en moet hy noodwendig 'n paar treetjies tussen-in loop! Dit gaan nog wankelrig, maar ons is baie opgewonde!!!

15 1/2 maande - So trots op homself!


* Bloedtoetse bevestig daar is inderdaad 'n baba met gesonde hartklop oppad! Net oor die 6 weke swanger! Die slag is al die hormoonvlakke 100% normaal. Die Dr is verstom - skaars 'n maand tevore was die prognose baie anders. Ons is minder verstom - ons dien immers 'n Groot,Groot Here - maar dit bly 'n warboel van emosies om te verwerk. Dan is ons swanger, dan nie, dan weer, dan nie. Gaan nommer 3 ons gelukbringer wees? Gelukkig kan ons elke tree saam met ons Pappa wandel - al weet ons nie altyd wat gaan die uitkoms gaan wees nie, weet ons altyd Hy loop elke tree saam met ons.

Augustus 2009 - Franco begin by sy nuwe skool. Die aanpassing verloop baie goed. Dankie Here!



Ons laat maak 'n spesiale Ouboet hempie vir Franco om ons groot nuus oor te dra. Oupa Jan was bietjie vinniger om te snap as Ouma Miekie! Ouma was so besig om met Franco te kuier, dat sy die woorde op die hempie vir 'n hele ruk skoon misgekyk het. :-)


Raai wie word 'n Ouboet in die jaar van groot sokker?


Naweke speel ons lekker met Franco op die klimrame by die parkie onder in die straat.


Sept 2009 - ek is tot die dood toe naar (net soos met Franco!) en kan nie veel van die maand onthou nie. Die slag verheug ek my in die naarheid - dis tog seker 'n teken van 'n goeie, gesonde swangerskap? Die helikopter klimraam is sy gunsteling! 17 maande oud



In die begin het Franco al huilende aan my been geklou as ek siek geword het. Later het die episodes al so algemeen geword dat hy slegs gefasineerd toegekyk het. As ek klaar was, het hy aangedring op sy beurt om in die toilet te spoeg voor ons kon spoel (Lekker gross!). Daarna was dit eers my beurt om tande te borsel, en dan MOET sy tande ook geborsel word. Ons prinsie het oor naweke sekerlik die skoonste tande in die land gehad! Dit was dan 6-7 keer per dag geborsel!


Okt 2009 - als gaan nog goed met swangerskap. Prys die Here! Word egter gediagnoseer met 'n groot ystertekort, en die trial run met verskillende ysteraanvullings begin. (Min het ek geweet al die pille sou slegs 'n klein verskil aan die ongelooflike moegheid maak, en dat ek nog steeds met 'n ystertekort sou sit tydens my 6 weke post partum ondersoek!)



Einde Okt kry ons onverwags die geleentheid om gratis saam in die Wildtuin te gaan naweek hou. Letterlik 'n geval van Donderdag besluit, Vrydag-middag ry. Franco (18 maande) geniet dit vreeslik - veral die rooibokkies en apies. Ons sien leeus baie naby die pad, maar hulle le te stil om eintlik interessant te wees vir die klein Avontutier. Eers in die Wildtuin lees ek 'n pamflet dat swanger vroue en kinders onder twee afgeraai word om die wildtuin te besoek weens malaria. Oeps! Ons smeer maar vreeslik anti-mozzie goed aan.



Nov 2009 -

Die sonar wys dis 'n dogtertjie! Ons was baie verbaas (was albei oortuig dis weer 'n seuntjie). Ek en Gert gaan vier dit met pienk melkskommels. Ons kondig ons groot nuus aan tydens 'n familie ete. Die Oumas was sommer baie opgewonde, en begin sommer dadelik die skattigste pienk kleertjies aandra.



Ons vier ook Gert se 30ste (so maand vroeg) met groot fanfare saam met 50 van ons pelle en naby familie. Dit was 'n heerlike aand en ons kuier so lekker dat ons veels te min fotos neem! Dankie vir Ma Miekie en Thelwyn (hulle het gasvrouens gespeel vir die aand sodat ek kon kuier), my werk (vir die gebruik van ons staff rec room, en al die eetgerei) en ons engel, Ouma Sara (sy het gehelp tafels dek, en deur al die berge skottelgoed kaf gedraf!). Met die ystertekort was ek stokflou, maar dit was 'n wonderlike aand. Geluk my man! Is elke dag so dankbaar dat jy vir my gekies het! Die lewe saam met jou raak net al hoe beter...


Des 2009 - Gert se ouers trek na ons stad toe! Wat 'n vreugde om hulle so naby ons te he! Nou kuier ons sommer baie, ipv net 2 keer per jaar! Franco (en nou ook Janita) is baie bevoorreg om altwee stelle grootouers so naby en so betrokke te he.



Ons ry ook af Natal toe vir die jaarlikse familiesaamtrek saam met Ma Miekie se familie. Wat 'n heerlike naweek! Vrydag-aand slaap ons in die mooiste Drakensberge oor, en die kuier begin so lank met van die familie. Saterdag sit ons die kuier voort in Kranskop, en Sondag-middag ry ons Newcastle toe om vir Liani op haar ouers se plaas te gaan kuier. Kuier al te heerlik Sondag-nag om (Liani is 'n dierbare vriendin, en ons kuier veels te min!).



Maandag-oggend is die kuier minder pret, met Franco wat erg klaerig en huilerig is. Dinge begin sin maak toe tannie Annemie baie diplomaties voorstel dat die klomp muskietbyte dalk eerder waterpokkies is. Nugter weet waar Franco die opgetel het, maar 'n apteker bevestig inderdaad die diagnose. Gelukkig het die klomp Natal kleinneefs en -niggies reeds waterpokkies gehad, en was Martelize nie saam af Natal toe nie. Die waterpokkies krap ons Kersfeesplanne om - gelukkig kan ons saam met Gert se familie kuier, want Oom Hannes het nog nie kinders nie.

Kersfees 2009 Franco speel met die grassnyer wat hy by Ouma Miekie gekry het - die waterpokkies so te se weg, maar ons is nog in kwarantyn


Ons Kersfeespersent aan onsself? 'n Sitkamerstel vir die tweede familiekamer en sonverhitting vir die swembad. Ons sit en swem te lekker!

Met Eskom se groot kragverhogings om die draai, knyp ons ook oe toe en laat 'n songeyser installeer.



Jan 2010 - die nuwe jaar begin volstoom met groot projekte by die werk vir my en Gert. Franco (20 maande) kondig self aan dis tyd vir potjielesse, toe hy self sy potjie in sy kas ontdek, dit badkamer toe dra en daarop gaan sit. Toe ons vir die grap sy doek afhaal, toe piepie hy terstond! Binne 'n week kry ons gereelde fondse van #1 en #2 in die potjie, en ek en Gert is tog te trots. (Min het ons geweet Janita se koms sou alles omverwerp, en dat ons einde Mei nie veel verder as daai eerste week in Jan sou wees nie. Sug! Eendag, eendag...)


Feb 2010 - dis jaareinde by die werk, en dinge gaan lekker dol. Ons word bederf met 'n babatee te ere van Sussie, en kry die mooiste kleertjies en kombersies.


22 maande. Ek het my kop oopgestamp teen die nuwe sandput by die skool, maar is baie trots op my Bob the Builder pleister!


Op 37 weke verf ons met Oupa Frans se hulp die babakamer. Ouma Miekie en Oupa Jan kom help met die finishing touches, en ons hang die nuwe gordyne ens wat Ouma Elna help maak het. Daar is niks soos 'n paar vals kontraksies om die "nesting instinct" volstoom te laat inskop nie. Sussie kan nou maar kom!

Maart 2010 - die dae raak min voor Sussie moet kom, maar gelukkig is ons so besig by die werk dat die dae verbyvlieg. Ek kry heelwat meer Braxton Hicks as met Franco, en dink kort-kort ek is in vroee kraam. (Franco was 'n induksie, en ek was nuut met die hele "wanneer gaan ons hospitaal toe? vraagstuk".

39 weke en 6 dae swanger! Franco gee vir Sussie 'n soentjie



Gert kry klierkoors en is regtig erg siek. Ek word beleefd versoek om nie vroeg in kraam te gaan nie, en ek le nagte langs my siek man en tel kontraksies - hoogs benoud dat ek wel in kraam is, en 'n koorsige Gert nie toegelaat gaan word om by te wees nie.
22 Maart 2010 'n Laaste swem van die seisoen. Mamma was daai dag ook in die swembad, maar het gesorg dat sy agter die kameralens bly!

Gelukkig is die Here goed, en werk alles reg uit! Sussie is nie haastig nie, en gee vir Gert genoeg kans om eers beter te word. Sondag 21 Maart (my verwagte datum) breek aan soos enige ander dag. Heelwat Braxton Hicks, maar dit was ek toe al gewoond. Het verslaap en was te laat vir kerk (later sou ons dankbaar wees vir die ekstra slaap!). Het toe maar die oggend verwyl met 'n laaste swem en besoek aan die parkie. Na 'n middagslapie het my Ma-hulle kom inloer. Het die aand bietjie TV gekyk, en toe maar so 21h gaan inkruip.



23h15 word ek egter wakker - en dis sulke tyd! Ek maak Gert wakker, ons bel vir Ma Elna-hulle (wat in 'n rekordtyd by ons huis aankom om vir slapende Franco op te pas) en ons ry hospitaal toe. Gert was nog effe deur die slaap, en het was heimlik nie so seker dat dit die slag regtig is nie - en het baie rustig hospitaal toe gery. :-) Slim man het egter sy gedagtes wyslik vir homself gehou.



Was net na 24h opgeneem, en toe gebeur dinge vinnig. Janita Elsa L is Maandag-oggend 3h50 gebore - so perfek as wat kan kom. 'n 50cm lange pakkie van 3,3kg wat ons net weereens verstom gelaat het oor hoe GOED die Here is!



Is sy nie te mooi vir woorde nie? 1 week oud


Franco (23 maande) is ook baie ingenome met sy Nita


Nog baie nuus om te kom - maar hierdie raak nou veels te lank!

3 comments:

Jan and Miekie said...

Glad nie te lank nie! Ek het lekker gelees en weer onthou! Kort net meer fotos! Met die dat my rekenaar gesteel was, en my laaste backup laas Feb was, het ek net die blogfotos van Franco en Martelize van 2009! Leer maar uit jou ma se ondervinding! Die rekenaar se hardeskyf is nie 'n veilige plek vir die bere van fotos nie!

Charmaine said...

Dis baie lekker om jou weer op die blog raak te lees Dorette.Ek stem saam met jou ma, ek het ook heerlik gelees aan die blog en so saam gehuil en gestress on gejuig oor die pragtige twee kinders.. Sien uit na hoofstuk 2 :-)

Dorette said...

Ma - die fotos sal so stuk-stuk kom. 'n Jaar se fotos is baie om uit te sorteer! :-)

Charmaine - kan nie glo dis so lank wat ek uit blogland weg was nie. Is so stadig besig om weer almal se nuus op te vang. Dankie vir die inloer!