baby
Lilypie First Birthday tickers

Monday, December 29, 2008

Familie Kersfees-fotos

Nota: Ek het gister begin om te skryf oor Franco se eerste Kersfees, en agtergekom dit vat lank. :-) Het toe maar intussen die familie-fototjies opgesit. Toe ek vandag die Kersfees inskrywing klaarmaak, toe publiseer Blogger dit onder die inskrywing!
Dis bietjie laat, maar: Geseende Kersfees! Hoop die Christus fees was 'n wonderlike spesiale dag deurdrenk met vrede en liefde.

Kers-oggend na kerk het ons gou aangetree vir die fotosessie
Ons gesinnetjie van 3. Mamma vertel ek was 'n wikkelkous wat geweier het om te sit, en eintlik net my bottel wou he :-) Nou vir wat neem hulle fotos as hulle weet ek is honger?
Wat kyk jy so? Het jy nog nooit 'n baba sien bottel drink nie?
'n Bottie maak sommer baie dinge reg in die lewe! Saam met Oupa Lappies en Ouma Elna

Ons manne was almal (onbepland) in blou. Het jy al 4 sulke mooi paar blou kykers bymekaar gesien? Mamma hoop my ogies bly blou nes my Pappa s'nne. (Maar ek is seker sy sal vir my lief bly maak nie saak watter kleur my ogies opeindig nie)

Ons 3 FJ's. Oom Frans Johannes, Oupa Frans Johan en ekke (Franco Jean).

Ekke kon nie ook 'n Frans wees nie - netnou het Oom Hannes eendag 'n seuntjie wat hy Frans wil noem! En moenie vergeet van my ander oom Frans wat met tannie Thelwyn getroud is nie. Dalk het hulle ook eendag 'n seuntjie wat lyk soos 'n Frans!

8 maande en dae oud

Franco se eerste Kersfees

Franco het sy eerste Kersfees so-so geniet! Al het die tandjies nog gepla (sien inskrywing net hieronder), was Boeta in 'n besonders goeie bui tydens Kersdag. Ek wil graag glo dat alhoewel hy nog te klein is om regtig te verstaan waaroor Kersfees gaan, hy deur 'n baie spesiale Iemand aangeraak is en Seuna se gees agtergekom het dat dit 'n baie spesiale dag is!

'n Paar dae voor Kersfees, en Boeta verkyk hom aan Oom Hannes wat liggies op die kersboom hang. Die verwondering was groot, maar 'n klein handjie het stewig aan my arm vasgehou vir morele ondersteuning!

Die pret en plesier het sommer al voordag begin toe ons kerk toe gestap het. Franco het sy vroeg-oggend stappie in sy waentjie baie geniet, en gekraai van die lag! Die pret het nie daar opgehou nie, en Seuna het aanhou lag vir alles en almal - die tannie wat agter ons in die kerk gesit het, die dominee daar hoog bo op die kansel, die klanksisteem wat op 'n stadium probleme gegee het - als was een groot vreugde.
Ek en tannie Rina Kock ('n vriendin van Ouma Elna) maak grappies na kerk. My pakkie verklaar "I'm a good boy" - dink julle dit sal help dat ek baie persente kry?

Franco het by die huis nie regtig die hele persent oopskeur ding verstaan nie, maar het tog met 'n groot glimlag sit en aanskou hoe Gert al sy persente vir hom oopmaak. Anders as wat ons verwag het, was Franco toe nie so geinteresseerd in die geskenkpapier en bokse nie, maar wel baie in sy heel eerste persent - 'n bottel bababadseep van tannie Gertude! Die bottel was aanvanklik baie meer pret as al die ander speelgoed en klere! :-)
BAIE opgewonde oor my lekker bad-seep! Dankie tannie Gerty!

mmm - wat is hierdie papier storie nou eintlik?

Die houtblokkies van tannie Sandra moes eers doodgeslaan word
Klere en 'n tandekry ratel van Oom Hannes. Die rattel is dadelik met groot ywer geskud, voor dit reguit mond toe is Nog klere! Die keer van Ouma Elna en Oupa Lappies. En dit terwyl ek van die klere wat ek by Ouma Miekie gekry het modelleer! Dink my Oumas het gehoor toe my ma vertel dat ek so vinnig gegroei het die laaste paar weke dat al my ander klere te klein is! Dankie julle - nou hoef Mamma nie amper elke dag wasgoed te was nie. :-)

Oupa en kleinseun ondersoek al die nuwe speelgoed!


Ons liefste Goggatjie! Ek en Pappa is bly jy het jou eerste Kersdag soveel geniet! (Al was dit 'n titaniese stryd om jou in die bed te kry - jy het die hele dag 'n skrale 90 min geslaap, en wou teen bed toe gaan tyd nogsteeds niks weet van uitmis op die aksie nie :-) Ons hoop jy besef sommer vroeg-vroeg dat Kersfees oor soveel meer gaan as geskenke en lekker kos. Die grootste geskenk van alle tye is Jesus wat Sy lewe vir jou en vir ons gegee het sodat ons kan lewe! Ons hoop so dat jy die geskenk sommer vroeg in jou lewetjie sal aanvaar - en elke Kersfees sal verstom staan oor hoe groot God se genade en Sy liefde vir ons is. Dankie dat jy hierdie Kersfees saam met ons gedeel het - dit was super spesiaal om Kersfees deur jou ogies te beleef! Jy is van die hemel af gebid, en al het ons jou in April gekry is jy ons heel beste Kerspersent gewees!

Daai klein wit dingetjies

Nie ons klein drool machine se beste pose nie - maar kyk net daai arme geswelde tandvleis! Seuna het skoon 'n rash op sy ken van al die dribble :-(

Voor iemand vra - nee daar is (helaas) nog geen kleine wit pereltjies in die Prinsie se mond wat al gesny het nie. (Dis nou ten spyte van Ouma Elna se voorspellings op 3 maande, Juffrou Sylvia se mening op 4 1/2 maande toe Franco skool begin het ens. ens) Maar daai ongesnyde tandjies is erg lastig! Daar is 2 geswelde mieliepitjies bo, en 2 twee pereltjies onder waarvan die wit al vir 'n week lank deurskyn. Arme Franco! Jy moet maar Thomas Edison se houding inneem, elke dag (mislukte eksperiment) is een dag (eksperiment) nader aan 'n glinsterende glimlag (gloeilamp)!

Teething toys van die afgelope maand:


Franco se plekmatjie by die huis

Ouma Elna (en enige ander beskikbare iemand) se vingers!




'n Yskoue tandering bring verligting


Die speelmat het omtrent deurgeloop, maak nie saak of ek op my


ruggie le,

op my magie rondkruip



en of ek staan nie!


As niks ander beskikbaar is nie, moet my eie handjies maar diens doen.

Ai ai! Die klein karnallie trek maar swaar in die nagte, al is hy gedurende die dag 'n troopertjie! Dankie tog vir dinge soos koue tanderinge, Teejel en die apteek se wonderlike tandemengsel!

8 maande oud

Raai wie is terug? :-)

Ons is pas terug van 'n heerlike maar woeste rondomtalie kuiery! Eers het ons vir 'n week op die plaas gebly sodat Ouma Miekie vir Franco kon oppas (want sy skooltjie het toe reeds gesluit). Franco het 'n wonderlike tyd gehad by sy Ouma en Martelize, en Mamma kon nog 'n week werk en sodoende verlof spaar vir as kleinman dalk sou siek word. Dankie Ouma Miekie! Jy is 'n ware ster en ons waardeer jou SO SO baie! Lees meer oor Franco se tyd by Ouma op haar blog - hier en hier

Ouma-hulle is die Vrydag al troue toe, en toe het ek saam met Mamma kantoor toe gegaan vir haar laaste dag. Ek weet nie hoekom kla sy so oor werk nie? Kyk hoe lekker speel mens dan in haar kantoor!


Na die kuier op die plaas het ons een slapie by die huis gehad om wasgoed te was, te pak en skoon te maak en toe is dit af Vrystaat toe vir my neef Niel se troue met die mooie Marissa. Die troue was baie spesiaal, en dit was so mooi om 'n getuie te kon wees van hoe twee Koningskinders hulle opnuut aan die Here en aan mekaar toewy. (Elke troue wat ek bywoon bring weer sulke helder herinderinge terug van ons groot dag. Die opwinding van daai dag, en hoe min ons geweet het - the best is yet to come! Ek en Gert het soveel pret as getroudes en dit gee my hoendervleis as ek dink wat als vir Niel-hulle voorle). Ek was maar lui met die kamera tydens die trou-naweek, maar die getroue Ouma was op haar pos!

Een van die min troue fototjies. Pa spot ek sit op Mamma se plek! :-)

Na die Vrystaat kuiertjie het ons die pad gevat na Ouma Elna en Oupa Lappies se huis in die klein Karoo. Daar is so baie nuus om te vertelle van ons kuiertjie daar, dat ek maar so stuk-stuk sal moet opvang!

Thursday, December 4, 2008

Wat 'n week!

Die week het behoorlik verby gevlieg - ek is skoon agter met die stories! :-)
Saterdag was ons bietjie na tannie Duifie se 90ste verjaarsdag op Goodland (die F's se wildsplaas, so 10 min se ry van my ma-hulle af). Baie van my perdry herrinderinge is verweef met Goodland en dit was ook my en Gert se trou venue! Dus is dit altyd lekker om soontoe te gaan, en baie "onthou jy?'s" te beleef. Die keer was geen uitsondering nie, met Franco wat vir die eerste keer uit 'n glas gedrink het! Ouma Miekie het selfs 'n videotjie daarvan op haar blog van 29 Nov '08.
Sondag het Franco weer begin met verkoue en siek wees. :-( Ek het saam met Seuna erg verkoue gekry, terwyl Gert die verkoue vrygespring het net om Vrydag met mangelontsteking gediagnoseer te word! Dis goed die vakansie is om die draai - ons al 3 kan doen met bietjie rus en imuniteit opbou.

Franco kry een van vele stoombehandelings.

Dieselfde seuntjie na die behandeling, besig om die pyp te kou. Prys die Here vir behandelings wat so goed werk!

Maandag-nag was ons krag vir 'n lang ruk af. Groot furstrasie all round - Franco kon nie gestoom word nie, en saam met koue bottels het dit gesorg vir 'n omgekrapte seuntjie. (Die pikdonker het darem gemaak dat ons die maan en twee planete ekstra mooi kon sien! Ons Skepper het darem maar gesorg vir 'n wondermooie skouspel)

Dinsdag was ek vir die dag Botswana toe om probleme by een van ons takke uit te sorteer. Maandag-nag se omgekrapte seuntjie + vroeg opstaan om 5h00 by die lughawe te wees + heeldag in vrek warm Gaborone rond-mission (sonder lugversorging helfte van die tyd) en die vlug terug = 'n stokflou ekke wat 21h15 by die deur instrompel.

Gert was 'n ster van 'n pa wat die hele oggend- en aandroetine vir die eerste keer op sy eie aangepak het. Ek het dit al genoeg kere in die verlede gedoen om te weet dis moontlik, maar nie maklik nie - die Here het geweet wat Hy doen toe hy gesinnetjies met 'n pa EN 'n ma ontwerp het!

Kaalbaskruip na badtyd is die beste ding ooit!

Woensdag-aand het ons ons afdeling se jaareindfunksie gehad en almal saam Steve Hofmeyer gaan kyk. (Ek het my eie opinie oor die man, maar sal dit maar eerder los vir 'n ander dag) Nietemin was die kos en geselskap heerlik en gee die duiwel wat hom toekom - die man is 'n goeie kunstenaar. Franco het heerlik by Oom Gerhard en Tannie Marlize gebly en met Marli gespeel - dankie julle!

Donderdag-aand het ons slaap ingehaal, en vanaand pas ons vir Martelize op. (Eintlik ekke - Gert is koorsig en ons hou hom maar weg van die babas. Tans sit ek en blog terwyl die ander sieletjies in die huis almal slaap. Ons verbeter met die oppas - dis al baie rustiger as die eerste keer!

Het sy nie die mooiste haartjies nie? Kleine juffrou soet in droomland

Franco en een van die maatjies by die skool het geleer om so oor en weer vir mekaar tong uit te steek. Sederdien is dit sy nuutste party trick en sal hy sy tongetjie uitsteek vir enige iemand van die dokter tot winkelassistent. Huidiglik is hy so opvreetbaar oulik as hy dit doen, maar ons is net so effe bekommerd oor die lang termyn gevolge as ons dit te veel aanmoedig. Hopelik steek hy nie tong uit op sy gradeplegtigheid nie! :-)
Sjjt - ek weet ek is supercute, maar Mamma se jy mag dit nie hardop se nie!

Ek is more-oggend gasvrou vir 'n ooievaarstee. My klein blou-oog skat het hom omtrent verwonder aan die heliumballon wat ek by die huis aangebring het.

7 maande, 1 1/2 weke, Martelize 4 maande

Giggelgogga

Ek het so baie stories om te vertelle, maar die week is ongelooflik besig. Om te keer dat Ouma Miekie onttrekkingsimptome kry, is hier 'n kort video'tjie van Franco. Die klein prinsie dink die Mamma wat sy magie soen na badtyd is vreeslik snaaks...


7 maande, 1 1/2 week