baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label badtyd. Show all posts
Showing posts with label badtyd. Show all posts

Tuesday, January 20, 2009

Skeerroom!

Franco se pappa is sy held! (Soos dit mos hoort!) Elke oggend is Boeta vroeg-vroeg wakker, en ons bring hom dan na ons kamer toe. Ekke probeer dan so ekstra cuddle met die prinsie inkry, terwyl Gert solank opstaan en klaarmaak. Deesdae is die cuddle nie meer die grootste bederf nie - eerste prys is as Bieliebam in verwondering kan sit en kyk hoe Gert skeer.
Gistermiddag het ek gekyk wat maak die klein Prins as hy sy eie beurt met die magic white fluffy stuff kry :-)
Aanvanklik was Franco skepties, en het eers net die saak met een handjie ondersoek.
Franco het so hard probeer om die wit goed met die een handjie van die ander handjie af te haal, dat sy neus ook in die slag gebly het

Toe word daar boedel oorgegee, en word die spulletjie met groot entoesiasme doodgeslaan.


Die finale "kunswerk" - tot die een voetjie was in die slagveld


Hande afvee was skielik net so interessant (al doen ons die na elke ete!)


Vroeg vanaand: Groot pret om te staan en kyk hoe die badwater intap


Always smile.....Ons Blou-oog modelleer sy nuutste tandjies
Ai Gogga-patata! Daar is soveel kosbare oomblikke met jou saam - elke dag is daar nuwe dinge! Jy maak jou mamma se hart sommer week - of sy jou jammer kry as jy soos gisteraand skrik vir die donderweer of saam met jou kraai van die lag as ons peek-a-boo speel en jy jouself in die spieel ontdek. Saam met elke nuwe mylpaal en nuwe ontdekking staan ek net verstom en besef hoe GROOT die Here is - dat Hy uit 2 klein selletjies die mensie kon skep wat Franco is. 'n Mensie met jou eie gedagtes, jou eie voorkeure en jou eie unieke dingetjies. Woorde is daar nie om die GROOTSHEID en die GOEDHEID van die Here te besing nie! Mamma wens dat jy dit self eendag sal ervaar..
3 slapies voor 9 maande
(Ps - vanaand is Amerika se eerste swart president ingelyf. Al sal jy dit nie kan onthou nie, sal jy darem kan se jy was daar toe die geskiedenisboeke herskryf is, en het saam met Pappa en Mamma gebid dat Jesus vir Barack Obama sal lei)

Thursday, December 4, 2008

Wat 'n week!

Die week het behoorlik verby gevlieg - ek is skoon agter met die stories! :-)
Saterdag was ons bietjie na tannie Duifie se 90ste verjaarsdag op Goodland (die F's se wildsplaas, so 10 min se ry van my ma-hulle af). Baie van my perdry herrinderinge is verweef met Goodland en dit was ook my en Gert se trou venue! Dus is dit altyd lekker om soontoe te gaan, en baie "onthou jy?'s" te beleef. Die keer was geen uitsondering nie, met Franco wat vir die eerste keer uit 'n glas gedrink het! Ouma Miekie het selfs 'n videotjie daarvan op haar blog van 29 Nov '08.
Sondag het Franco weer begin met verkoue en siek wees. :-( Ek het saam met Seuna erg verkoue gekry, terwyl Gert die verkoue vrygespring het net om Vrydag met mangelontsteking gediagnoseer te word! Dis goed die vakansie is om die draai - ons al 3 kan doen met bietjie rus en imuniteit opbou.

Franco kry een van vele stoombehandelings.

Dieselfde seuntjie na die behandeling, besig om die pyp te kou. Prys die Here vir behandelings wat so goed werk!

Maandag-nag was ons krag vir 'n lang ruk af. Groot furstrasie all round - Franco kon nie gestoom word nie, en saam met koue bottels het dit gesorg vir 'n omgekrapte seuntjie. (Die pikdonker het darem gemaak dat ons die maan en twee planete ekstra mooi kon sien! Ons Skepper het darem maar gesorg vir 'n wondermooie skouspel)

Dinsdag was ek vir die dag Botswana toe om probleme by een van ons takke uit te sorteer. Maandag-nag se omgekrapte seuntjie + vroeg opstaan om 5h00 by die lughawe te wees + heeldag in vrek warm Gaborone rond-mission (sonder lugversorging helfte van die tyd) en die vlug terug = 'n stokflou ekke wat 21h15 by die deur instrompel.

Gert was 'n ster van 'n pa wat die hele oggend- en aandroetine vir die eerste keer op sy eie aangepak het. Ek het dit al genoeg kere in die verlede gedoen om te weet dis moontlik, maar nie maklik nie - die Here het geweet wat Hy doen toe hy gesinnetjies met 'n pa EN 'n ma ontwerp het!

Kaalbaskruip na badtyd is die beste ding ooit!

Woensdag-aand het ons ons afdeling se jaareindfunksie gehad en almal saam Steve Hofmeyer gaan kyk. (Ek het my eie opinie oor die man, maar sal dit maar eerder los vir 'n ander dag) Nietemin was die kos en geselskap heerlik en gee die duiwel wat hom toekom - die man is 'n goeie kunstenaar. Franco het heerlik by Oom Gerhard en Tannie Marlize gebly en met Marli gespeel - dankie julle!

Donderdag-aand het ons slaap ingehaal, en vanaand pas ons vir Martelize op. (Eintlik ekke - Gert is koorsig en ons hou hom maar weg van die babas. Tans sit ek en blog terwyl die ander sieletjies in die huis almal slaap. Ons verbeter met die oppas - dis al baie rustiger as die eerste keer!

Het sy nie die mooiste haartjies nie? Kleine juffrou soet in droomland

Franco en een van die maatjies by die skool het geleer om so oor en weer vir mekaar tong uit te steek. Sederdien is dit sy nuutste party trick en sal hy sy tongetjie uitsteek vir enige iemand van die dokter tot winkelassistent. Huidiglik is hy so opvreetbaar oulik as hy dit doen, maar ons is net so effe bekommerd oor die lang termyn gevolge as ons dit te veel aanmoedig. Hopelik steek hy nie tong uit op sy gradeplegtigheid nie! :-)
Sjjt - ek weet ek is supercute, maar Mamma se jy mag dit nie hardop se nie!

Ek is more-oggend gasvrou vir 'n ooievaarstee. My klein blou-oog skat het hom omtrent verwonder aan die heliumballon wat ek by die huis aangebring het.

7 maande, 1 1/2 weke, Martelize 4 maande

Giggelgogga

Ek het so baie stories om te vertelle, maar die week is ongelooflik besig. Om te keer dat Ouma Miekie onttrekkingsimptome kry, is hier 'n kort video'tjie van Franco. Die klein prinsie dink die Mamma wat sy magie soen na badtyd is vreeslik snaaks...


7 maande, 1 1/2 week

Saturday, November 22, 2008

Seuntjies mag ook van pienk hou

Toe ek Franco Dinsdag by die skooltjie gaan haal toe lyk hy ligpienk van kop tot tone. Die rede? Vingerverf! Seuna het glo 'n voorliefde vir die rooi verf gehad, en homself gate uit geniet. :-) Gelukkig gebruik die slim skool nie-toksiese, wasbare verf!


Vingerverf is soveel pret! Franco het baie om te vertel :-)

Ligpienk handjies, 'n pienk getinte speelpakkie en die kamera-strap!



Wat bedoel Pa pienk is vir dogtertjies? Die karretjie proe dan so lekker!
(Kyk net die woeste water - Franco se beentjies voer alweer oorlog!)
6 maande, 4 weke

Sunday, October 26, 2008

Raai wie bad nou in die groot bad?

Franco pas nog net-net in sy bababadjie, maar die beentjies skop-skop so dat als naderand sopnat is. So van die week af, is dit bad in die groot bad vir die klein prins!



Badtyd is vet pret!
Sal die tandjie beter voel as ek die handdoek kou?

Wat gaan daar aan?
(Mens moet deesdae jou storie ken as jy doek omruil en klere aantrek - Boeta is 'n wikkelwurm wat die wereld vol rol)
6 maande 5 dae