baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label speelgoed. Show all posts
Showing posts with label speelgoed. Show all posts

Sunday, February 15, 2009

Dag van Liefde

"Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het" 1 Joh 4:19
Ek en Gert is nie groot meedoeners aan Valentynsdag nie (bietjie te gekomersialiseerd en fake na ons smaak). Tog hou ons daarvan om mekaar met kwaliteittyd te bederf, en ietsie kleins te doen (al is dit dan nou glad nie hou die media Valentynsdag-vieringe probeer voorskryf nie!)
Die jaar was ons vir die eerste keer op die rooi dag 'n gesinnetjie van 3! Gert wou my bederf met 'n lekker ontbyt, en ons het gekies om die ontbyt te gaan geniet by 'n kwekery naby ons. Die eetplek is onder sulke groot akkerbome, en mens kan uitkyk oor die kinderspeelplek. Die vorige keer was Franco nog bietjie klein, maar die keer kon hy (net-net!) op van die swaaie ens. speel! Meneertjie het ons vroeg-vroeg Saterdag wakker gehad, en dit was netsowel want 8h15 was ons amper die enigste mense daar en kon ons lekker met Franco speel. :-)

Vroeg-vroeg begin die bederf al. Om saam met Pappa te bad is groot groot pret!
Franco was nie so seker van die (vuil!) springkasteel nie Die groot trampolien was meer na Boeta se smaak

Hallo blogland! Ek raak nog gewoond aan die glyplank ding!


Die eendjies op die dam was nie vir lank interessant nieFranco was maar eers lugtig vir die boerbokke

Vinnig is daar maatjie gemaak, en die klein Prins vertel laaaang stories aan sy nuwe vriend.


Seuna se benadering tot die boerbokke was vir ons skreeusnaaks. Aanvanklik het die hele lyfie skoon geruk van spanning. Toe ons hom wou wegvat (om hom 'n skrik op die lyf te jaag is die laaste ding wat ons wou he!), toe protesteer Meneertjie luidkleels. Skrikkerig of te nie, Franco het met alle mag vorentoe gebeur - aan die bokkie wil hy vat! Dit het so paar probeerslae gekos, maar hy het dit ten einde laaste reggekry - en toe is hy vreeslik trots op homself. Ek was skoon aangedaan - my babatjie raak by die dag meer 'n dapper seunskind, en wil al klaar die wereld begin verower!

Op die zebra skoppelmaai - Franco was bietjie deurmekaar, en het heeltyd brrr-brrr geluidjies gemaak. Spesiaal vir Oupa Jan - Oupa se bulletjie op 'n Blou Bul motorfietsie. (Natuurlik toe is die broem-broem geluidjies skoonveld, en Boeta vreeslik geamuseerd met sy Pa wat so staan en broem-broem..)

Saterdag-aand was ons plaas toe vir Oupa Jan se verjaarsdag-vieringe. Wat 'n dag! Eers was daar 'n dief wat in die bosse kom wegkruip het, en al die mans in die omgewing cowboys-en-crooks (Pa Jan se woorde) gespeel het om hom te probeer vang. Toe net voor ete, sien Thelwyn 'n slang in die spaarkamer - die kamer waar die babas moet slaap! Toe moes al die mans weer probeer om die slang te vang. Ek was baie bly dat ek nie 'n man is nie - sal baie eerder slaai maak in die kombuis! Gelukkig was almal darem ongedeerd - al was groot furstrasie toe die dief wegkom, en die slang nie opgespoor kon word nie.


Terwyl daar slaai gemaak is, het Franco en Martelize onder Gert se wakende oog met die honde gespeel (Martelize haal haar nefie in - hulle tweetjies is nou al amper ewe groot!)


Ma Miekie het baie moeite gedoen met die ete - en na al die drama van die dag was die Hartjie-my-liefie hoenderpastei 'n groot bederf! Dankie Pa dat jy verjaar het, en dankie Ma vir al die lekker kos! Dit was lekker om julle op die dag van liefde ook te kon liefhe!

Al die girls was in rooi opgetof vir die spesiale ete! Is Juffroutjie nie te skattig nie? Martelize en haar nefie was albei die laaste week of wat woes verkoue, en het te heerlik hulle mammas aangesteek - verskoon tog maar die waterige ogies!

My liefie-liefie kind, ek hoop jy het jou eerste Valentynsdag sommer baie geniet! Ek hoop jy sal sommer op elke Valentynsdag omring wees met mense vir wie jy lief is, en wat jou liefhet. Maar mag jy vroeg-vroeg reeds besef dat liefde soveel meer is as die goedkoop ding wat die wereld daarvan maak: "God is liefde; wie in die liefde bly in God en God bly in hom. Hierin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wereld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus.. "1 Joh 4:16,17

9 maande 3 weke

Monday, December 29, 2008

Franco se eerste Kersfees

Franco het sy eerste Kersfees so-so geniet! Al het die tandjies nog gepla (sien inskrywing net hieronder), was Boeta in 'n besonders goeie bui tydens Kersdag. Ek wil graag glo dat alhoewel hy nog te klein is om regtig te verstaan waaroor Kersfees gaan, hy deur 'n baie spesiale Iemand aangeraak is en Seuna se gees agtergekom het dat dit 'n baie spesiale dag is!

'n Paar dae voor Kersfees, en Boeta verkyk hom aan Oom Hannes wat liggies op die kersboom hang. Die verwondering was groot, maar 'n klein handjie het stewig aan my arm vasgehou vir morele ondersteuning!

Die pret en plesier het sommer al voordag begin toe ons kerk toe gestap het. Franco het sy vroeg-oggend stappie in sy waentjie baie geniet, en gekraai van die lag! Die pret het nie daar opgehou nie, en Seuna het aanhou lag vir alles en almal - die tannie wat agter ons in die kerk gesit het, die dominee daar hoog bo op die kansel, die klanksisteem wat op 'n stadium probleme gegee het - als was een groot vreugde.
Ek en tannie Rina Kock ('n vriendin van Ouma Elna) maak grappies na kerk. My pakkie verklaar "I'm a good boy" - dink julle dit sal help dat ek baie persente kry?

Franco het by die huis nie regtig die hele persent oopskeur ding verstaan nie, maar het tog met 'n groot glimlag sit en aanskou hoe Gert al sy persente vir hom oopmaak. Anders as wat ons verwag het, was Franco toe nie so geinteresseerd in die geskenkpapier en bokse nie, maar wel baie in sy heel eerste persent - 'n bottel bababadseep van tannie Gertude! Die bottel was aanvanklik baie meer pret as al die ander speelgoed en klere! :-)
BAIE opgewonde oor my lekker bad-seep! Dankie tannie Gerty!

mmm - wat is hierdie papier storie nou eintlik?

Die houtblokkies van tannie Sandra moes eers doodgeslaan word
Klere en 'n tandekry ratel van Oom Hannes. Die rattel is dadelik met groot ywer geskud, voor dit reguit mond toe is Nog klere! Die keer van Ouma Elna en Oupa Lappies. En dit terwyl ek van die klere wat ek by Ouma Miekie gekry het modelleer! Dink my Oumas het gehoor toe my ma vertel dat ek so vinnig gegroei het die laaste paar weke dat al my ander klere te klein is! Dankie julle - nou hoef Mamma nie amper elke dag wasgoed te was nie. :-)

Oupa en kleinseun ondersoek al die nuwe speelgoed!


Ons liefste Goggatjie! Ek en Pappa is bly jy het jou eerste Kersdag soveel geniet! (Al was dit 'n titaniese stryd om jou in die bed te kry - jy het die hele dag 'n skrale 90 min geslaap, en wou teen bed toe gaan tyd nogsteeds niks weet van uitmis op die aksie nie :-) Ons hoop jy besef sommer vroeg-vroeg dat Kersfees oor soveel meer gaan as geskenke en lekker kos. Die grootste geskenk van alle tye is Jesus wat Sy lewe vir jou en vir ons gegee het sodat ons kan lewe! Ons hoop so dat jy die geskenk sommer vroeg in jou lewetjie sal aanvaar - en elke Kersfees sal verstom staan oor hoe groot God se genade en Sy liefde vir ons is. Dankie dat jy hierdie Kersfees saam met ons gedeel het - dit was super spesiaal om Kersfees deur jou ogies te beleef! Jy is van die hemel af gebid, en al het ons jou in April gekry is jy ons heel beste Kerspersent gewees!

Saturday, November 22, 2008

Seuntjies mag ook van pienk hou

Toe ek Franco Dinsdag by die skooltjie gaan haal toe lyk hy ligpienk van kop tot tone. Die rede? Vingerverf! Seuna het glo 'n voorliefde vir die rooi verf gehad, en homself gate uit geniet. :-) Gelukkig gebruik die slim skool nie-toksiese, wasbare verf!


Vingerverf is soveel pret! Franco het baie om te vertel :-)

Ligpienk handjies, 'n pienk getinte speelpakkie en die kamera-strap!



Wat bedoel Pa pienk is vir dogtertjies? Die karretjie proe dan so lekker!
(Kyk net die woeste water - Franco se beentjies voer alweer oorlog!)
6 maande, 4 weke

Sunday, November 16, 2008

'n Paar (effens minder) oulike goedjies wat Franco deesdae doen

Net eers - Franco is soveel beter! Prys die Here! Dit was Vrydag laas nodig om enige koorsmedisyne te gee, en te oordeel na die gelag en gesels gister en vandag sou mens skaars kon glo hy is eintlik 'n siek babatjie.
Ek is 'n seuntjie-seuntjie! Julle dink ek is nog siek, maar my kop is al klaar vol plannetjies!

Franco is so oulik, ons wil hom net heeldag opsoen en opdruk. Daar is egter deesdae die een of twee effens mindere oulike dingetjies wat hy ook aanvang...

1) Franco knyp mens! Dis wonderlik dat hy die "pincher's grasp" so goed bemeester, maar minder wonderlik as hy sy nuwe vaardigheid op jou bobeenspier/wang/watookal uitoefen. Daai twee vingertjies kan nogals stewig vasknyp.

2) Tesame met die knyp vaardighede, kan Franco deesdae ook "love bites" uitdeel. Hy het nou die dag tydens selgroep my arm sopnat gesoen/-suig en ek het hom maar laat begaan. Ek was salig onbewus van die blou kol todat iemand by die werk my daaroor uitgevra het.

3) Franco het 'n liefde vir oorbelle en brille ontwikkel. Dis al lankal wat Ma se lang hare en hangertjies om die nek groot teikens is vir handjies om te gryp, maar die afgelope week of wat het oorbelle en brille ook die lys van "Begeerlike Dinge om te Gryp (BDG)" gehaal.
"Boetman, Mamma kon nog haar hare vasmaak, en die juwele vir eers wegbere maar sy het regtig haar bril nodig om te kan sien waar sy loop! Vir jou eie veiligheid sal Mamma dit dus waardeer as jy haar bril uitlos, en nie kraai van die lag as jy dit by die trap afgooi terwyl sy jou dra nie!"

4) Ander dinge wat ook die BDG lys gehaal het sluit in die kamera en Pa se borshare (Glo nie Gert sal ooit weer aanbied om Franco se bottel te gee voordat hy sy hemp aangetrek het nie :-)

Gee daai kamera bietjie hier seblief man! Ons klein blou-oog met die lang wimpers (nes sy Pappa!)

5) Franco se nuwe manier om aan te kondig dat hy klaar ge-eet is, is om die laaste happie prrrrt uit te spoeg. Als binne tref-afstand (sy kleertjies,die tafeldoek, my klere en bril) verkry dus sigbare bewyse van wat ons ge-eet het. En as ek in my kwaai stem probeer raas, dan dink die klein Prins dis uiters snaaks en lag uit sy magie uit...

Gelukkig outshine Seuna se oulike kwaliteite by verre die paar klein effens lastige goedjies! Ons ry perdjie en speel "Was hy - das hy!" dat dit so klap. Franco sit AL langer stil en speel met sy speelgoedjies. Hy doen opstote, hy wikkel met die beentjies en het dit vandag selfs reggekry om te begin leopard crawl agter sy geliefde balle aan! Ons geniet hom SO-SO baie, en kan skaars ons lewe indink sonder die kleinman in ons lewe.

Die ene konsentrasie met sy aktiwiteitsspeelding

Dankie Here vir so spesiale klein seuntjie! Dankie dat U die Geneesheer was wat hom gesond gemaak het! Dankie dat hy soveel vreugde in ons huis bring, ons harte wil sommer bars so vol is dit. Here, help ons om die uitdagings van ouerskap ook so te hanteer soos wat U wil he ons moet. Help ons seblief om altyd U voorbeeld na te streef, en dat Franco selfs wanneer ons moet raas en kwaai wees nogsteeds die liefde wat ons vir hom het sal ervaar. Dankie Here dat ons kan liefhe, omdat U ons eerste liefgehad het.

6 maande, 3 1/2 weke

Sunday, November 9, 2008

Konstruksie-ingenieur

Ek dink daar is te veel ingenieursbloed in hierdie seuntjie se are! Nes sy pa, oom en oupas moet Boeta alles inspekteer, en die limits toets van enige iets. (Hy is bv baie meer geintresseerd in sy swaaitjie se hoogte-verstellingsmeganisme, as in die eintlike speelgoed voor op die skinkbordjie). Vroeg Sondag-oggend was dit die speelgoedraam se beurt...

Wie wil nou met die speelgoed speel as jy die hele raam kan rondskuif aan sy poot? (En dan stom verbaas wees wanneer die hele kontrapsie omval)

Net gou eers die boumateriaal inspekteer


Ha! Net hier is die fout - maar dis niks wat 'n bietjie timmer nie kan regmaak nie
Ps - Verskoon tog maar die frokkie. Die fotos is voeg Sondag-oggend (4h45!) geneem toe Boeta nie meer wou slaap nie, en daai tyd van die oggend het niemand nog lus om te lol met oulike kleertjies nie. :-)
Ps2 - Sou dit nie great wees as ons almal elke oggend met soveel entoesiasme kon wakker word nie? Seuna se glimlaggies maak selfs die vrek vroeg opstaan die moeite werd - ek kry skoon skaam as ek dink hoe dikwels moet my Vader in 'n grumpy gesig vaskyk as ek opstaan.
6 maande, 2 1/2 weke

Saturday, November 8, 2008

Oulike goedjies wat Franco deesdae doen

Ons het nog nie kon fotos kry van al die oomblikke nie, maar ek is bang as ek dit nie nou neerskryf nie en ons kry nooit 'n foto nie dan gaan ek dit vergeet. :-)

* Franco is 'n opgaarder van speelgoed. Hy sal dikwels op sy magie op die speelmat le en met sy twee armpies alle speelgoed in sig bymekaar maak. Op die ou end speel hy nie regtig met een ding nie (behalwe om alles groot-oog aan te staar) en le so half bo-op baie van die speelgoed - kan nie dink dat dit gemaklik is nie. :-) Le hy weer op sy ruggie op die mat, kry mens hom dikwels met 'n speelding in elke hand, en dan skop-skop die voete ook nog na speelgoed. Als "rattle and shake" en tussendeur lewer Franco ook nog deurlopend kommentaar!

Franco hou voorraadopname van sy speelgoed

* In die bad het die vreeslike geskoppery vir eers 'n bietjie afgeneem. Dit lyk nou eerder of die fokus is om soveel as moontlik badspeelgoed te "vang" in die hok tussen sy twee beentjies en die bad se rand.
* Al is hy so groot opgaarder van al die speelgoed, het hy fase waarin daar duidelike gunstelinge is! Die week is dit sulke deurskynende plastiekballe waarin daar sulke blink goedjies is wat fladder. Tot op hede, kon hy al mooi speelgoed vashou maar het gesukkel om 'n ronde voorwerp te "grip". Die week kon hy die balle met een handjie begin vashou, en hy was SO trots op homself! Die balle kan dryf ook, so dit wissel tussen op die speelmat of in die bad. Gisteraand het hy die een bal in die bad beetgekry, en so onder die arm vasgeknyp. Al die fokus was op sy speelgoed in die "hok", maar die bal moes onder die armpie vasgeknyp bly. Sou die balletjie laat val word, word die bewaking van die ander speelgoed eers gestaak todat bal weer op sy plek is. Dan is daar van nuuts af begin om die speelgoed te "vang".
Kyk Mamma! Twee balle gevang!

* Franco hou van hop! Ons het 'n joga oefenbal in die huis, en ons doen gereeld met Seuna oefeninge daarop om sy spiertonus en balans te verbeter. Ons Blou-oog het egter nie veel trek vir die stadige hop-hop sirkelbewegings soos deur die arbeidsterapeute gedemostreer nie. Hy gebruik veel eerder die bal soos 'n trampolein en spring-spring self met sy beentjies daarop (Ek moet net die bal vasknyp tussen die kniee anders trek die bal doer) Groot bederf is as ek of Gert hom so sittende op die bal vashou en hy kan hop. Hoe woester hoe beter.

* Franco begin Waar's hy?-Daar's hy speel! Sy hele gesig glimlag sommer saam as hy jou weer "kry". Dis mos om 'n Ma se hart te laat smelt...

Daar is Franco!

6 1/2 maande

Thursday, October 30, 2008

Speelgoedkaskanades!

Franco het 'n klomp nuwe speelgoed ontdek die week!

Dinsdag was dit 'n koerant wat mens kon frommel en skeur Wie loer hier uit? (Ek moes net keer - want Boeta wil als in sy mond druk!)
Die voetjies het gedeel in die pret
Woensdag was dit die tupperbakkie waarin die spaar foppie gehou word
Kyk al my ander speelgoed, maar ek wil eerder met die bakkie speel

Dis 'n anderste rateltjie die!

6 maande, 1 week

Friday, August 29, 2008

Eerste skooldag!

Met die dat ek Maandag weer moet terug werk toe, het Franco gister en vandag vir so paar uurtjies by die skooltjie gaan kuier.
Voor die tyd: so koel soos 'n komkommer in een van sy Ouma Elna truitjies
(Sy borslap se - Thank heaven for little boys - ons hart se punt van die hemel af gebid!)

Dit was baie swaar om hom daar te los! En nee - ek het nie gehuil nie, maar dit was maar hard sluk aan die knop in my keel. (Franco het sommer dadelik begin koer vir die juffrouens, en min gespin gewees met Ma wat skoon tranerig is) Die skooltjie se personeel het voorgestel ek moet erens 'n koffietjie of so inwerk, en 'n bederf-dingetjie vir myself koop. Kon my egter nie keer nie, en het die heel oggend in die winkels se baba-afdelings gebrowse, en op die ou end speelgoed en klere vir Boeta gekoop...

Na die tyd: Wat is nou so erg aan skool Ma? Ek is so gelukkig as wat kan kom!

Franco was erg besig om homself te verwonder aan die ander babas (3) toe ek daar aankom, en het nie eers besonders bly gelyk om my te sien nie. Nie goed vir my ego en verlangende hart nie, maar hopelik is dit eerder 'n teken dat hy die aanpassing gaan maklik vind.

Boeta was vol geselsies oor sy eerste skooldag!

Ag Here! Maandag is 'n groot dag vir ons gesinnetjie, en ek is maar benoud oor hoe dinge gaan uitwerk. Maar U ken my hart, en U ken my en Gert se drome. Dankie dat ons altyd ons harte by U voete kan kom uitstort, en weet dat U luister. Maak seblief die pad voor ons gelyk, en dat die aanpassing vir ons al 3 glad sal verloop. Dankie dat U ons gehelp het om plek te kry in 'n oulike skooltjie, met personeel wat ons venote wil wees om 'n gelukkige, self-standige seuntjie groot te maak. Maar bowenal Here, is ons grootste gebed dat ons 'n seuntjie sal grootmaak wat U ken en vir U Koninkryk lewe.

18 1/2 weke

Tuesday, August 19, 2008

My nuwe speelding!

Franco raak nou AL meer geintreseerd in speelgoedjies. Hy verskaf ure van "cheap entertainment" vir my en Gert - dis te kostelik om hom op sy speelmat (of baby gym) te sien soos wat hy na die speelgoed skop en slaan. Dis al 'n rukkie wat hy 'n rateltjie vashou, maar die laaste week of wat het die tye wat hy sy rateltjie vashou AL langer begin word. Ons het egter die idee gekry dat hy nog langer sou speel met die rateltjie, as die ding nie so swaar was nie.
Na ons eendag vir hom 'n strooitjie in 'n restuarant gegee het om vas te hou en dit 'n groot treffer was, het ek al meer begin wonder oor wat ons vir hom kon gee wat tegelyk lig en veilig was (Strooitjies, pypskoonmakers ens. het als skerp punte en ek was bang hy maak homself daarmee seer).
Vrydag-middag het ek tydens 'n opruim sessie op 'n ou tandeborsel afgekom. Eureka! 'n Liggewig item met 'n dun steeltjie en geen skerp punte nie!
Vrydag-aand het ons op die plaas vir Ouma Miekie en Oupa Jan gaan kuier - nuwe speelding natuurlik ingepak. Ouma Miekie het toe voorstelle gehad om die tandeborsel bietjie interessanter te maak, en ons het toe vir die tandeborsel 'n strik gesny uit 'n geel plastieksak. Franco was in sewende hemel!

Kyk my nuwe speelding!

Nee! Jy kan nie ook met my tandeborsel speel nie - kry jou eie!

In vandag se tye moet jy selfs in jou slaap jou kosbaarhede bewaak


NS - ons het Saterdag 'n winkeltjie opgespoor wat wel liggewig rateltjies verkoop, en 2 tot Franco se versameling gevoeg, maar die tandeborsel met die strik bly 'n gunsteling!


16 1/2 weke