baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label werk. Show all posts
Showing posts with label werk. Show all posts

Monday, December 29, 2008

Raai wie is terug? :-)

Ons is pas terug van 'n heerlike maar woeste rondomtalie kuiery! Eers het ons vir 'n week op die plaas gebly sodat Ouma Miekie vir Franco kon oppas (want sy skooltjie het toe reeds gesluit). Franco het 'n wonderlike tyd gehad by sy Ouma en Martelize, en Mamma kon nog 'n week werk en sodoende verlof spaar vir as kleinman dalk sou siek word. Dankie Ouma Miekie! Jy is 'n ware ster en ons waardeer jou SO SO baie! Lees meer oor Franco se tyd by Ouma op haar blog - hier en hier

Ouma-hulle is die Vrydag al troue toe, en toe het ek saam met Mamma kantoor toe gegaan vir haar laaste dag. Ek weet nie hoekom kla sy so oor werk nie? Kyk hoe lekker speel mens dan in haar kantoor!


Na die kuier op die plaas het ons een slapie by die huis gehad om wasgoed te was, te pak en skoon te maak en toe is dit af Vrystaat toe vir my neef Niel se troue met die mooie Marissa. Die troue was baie spesiaal, en dit was so mooi om 'n getuie te kon wees van hoe twee Koningskinders hulle opnuut aan die Here en aan mekaar toewy. (Elke troue wat ek bywoon bring weer sulke helder herinderinge terug van ons groot dag. Die opwinding van daai dag, en hoe min ons geweet het - the best is yet to come! Ek en Gert het soveel pret as getroudes en dit gee my hoendervleis as ek dink wat als vir Niel-hulle voorle). Ek was maar lui met die kamera tydens die trou-naweek, maar die getroue Ouma was op haar pos!

Een van die min troue fototjies. Pa spot ek sit op Mamma se plek! :-)

Na die Vrystaat kuiertjie het ons die pad gevat na Ouma Elna en Oupa Lappies se huis in die klein Karoo. Daar is so baie nuus om te vertelle van ons kuiertjie daar, dat ek maar so stuk-stuk sal moet opvang!

Sunday, October 19, 2008

Groot Vyf!

Gert se werk het ons vir die naweek uitgenooi na 'n la di da lodge op 'n privaat wildresevaat. Ons is omtrent bederf met heerlike kos, uitstekende diens en wildbesigtigingsritte uit die boonste rakke! Ons het selfs al vyf van die Groot Vyf gesien!

Al nadeel? Franco was nie genooi nie, en moes die naweek by Ouma Miekie en Oupa Jan kuier. Ek weet hy kon nie vra vir meer toegewyde en liefdevolle oppassers nie, maar ek het my doodverlang, en kon Sondag nie vinnig genoeg by die plaas uitkom nie.

Aan die positiewe kant, het ek en Gert heerlik saamgekuier en pret gehad. (En ons eerste deurnag slaap in 6 maande se tyd was hemel op aarde!)

Afrika op sy mooiste
Daar is geen heinings om die lodge nie, en die wild het sommer naby naby kom wei
Saterdag-oggend net buite ons kamer

Sondag op pad huis toe.

Daai miershoop in die middel is eintlik die maanhaar van Koning Leeu. Belowe!
'n Renosterkalfie onder die wakende oog van sy ma. (Weet julle hoe het sulke gesigte my laat verlang na MY babatjie?)

Olifante was volop en pragtig

'n Buffel soek skadu


Luiperd se kind uit op jag! Slegs 'n entjie verder was 'n troppie ribbokke wat sy bekruip het. Die hoogtepunt van die naweek! (Sy wou nie haar move maak met ons in die omgewing nie, maar dit was vreeslik opwindend die ruk wat ons doodstil vir haar gewag het om op te spring)

Dankie Here vir so 'n spesiale bederf naweek! Dankie vir 'n Ouma en 'n Oupa wat lekker naby ons bly, en nog kans sien om 'n kleinseun 'n hele naweek lank te bederf met hul liefde. En Here Wow! U skepping is wondermooi!

Sunday, August 31, 2008

More is D-dag

More is my kraamverlof amptelik verby :-( Ek kan skaars glo dis 4 1/2 maande wat ek weg was van die werk - dit voel soos 'n oomblik!

Ai Boeta! Waar kan Mamma begin om dankie te se vir die laaste paar maande? Ek geniet jou so-so baie, en staan verstom oor hoeveel jy al gegroei en ontwikkel het. Die dag toe ek jou (uiteindelik!) in lewende lywe ontmoet het, was jy 'n brose, kleine pasgebore seuntjie; nou is jy al 'n yslike bondel baba-energie vol persoontlikheid! In die begin het jy net gevoed en geslaap, nou is jy AL hoe meer wakker en spelerig. Ek en Pappa dink gereeld jy kan nie nog ouliker word as wat jy reeds is nie, en net die volgende dag verras jy ons met ietsie nuuts wat maak dat jy net nog dieper in ons harte inkruip.

Soms dink ek, ek sien 'n glimps van Pappa of myself in jou, ander kere verras jy my met ietsie heel onverwags - 'n handgebaartjie, uitdrukking of laggie wat net aan jou behoord! Hierdie unieke Franco dinge (soos dat jy amper nooit stilsit nie en heeltyd wil perdjie ry, of hoe jy sug van lekkerkry as ons jou in die bad tel of die kyk in jou ogies as jy hard konsentreer of vreeslik opgewonde is) maak jou super-spesiaal! Dis die Skepper se vingerafdruk op jou - bewyse van hoe kunstig en kreatief Hy jou aanmekaar geweef het toe jy nog in Mamma se magie was.

Dalk is dit gepas dat dit more lente-dag is. Die eerste dag van 'n nuwe seisoen in ons albei se lewens - Mamma as 'n werkende mamma, en jy as 'n oulike lid van die Vissieklas. My hart is maar hartseer, want ek weet nuwe seisoene kom nie sonder groeipyne nie en elke nuwe ding bring noodwendig 'n afskeid van sekere ou dinge saam. Maar as ons nie los dit wat agter is nie, dan mis ons uit op die blessings van die nuwe seisoen. Mamma gaan baie verlang, maar hoop jy speel so lekker met die maatjies dat die daggie sommer vinnig verbyvlieg! Ek is lief vir jou my kind...