baby
Lilypie First Birthday tickers

Sunday, April 19, 2009

'n Paar snapshots van die laaste ruk

Sjoe! Deesdae is ons dae so vol en besig en Franco bemeester so vinnig nuwe dingetjies, as ek weer sien is ons agter met die blog!

Die laaste week of wat het ons:
  • teruggekom van ons Middelburg naweek. Die wasgoed, tuinwerk en regte werk-werke was als agter van die paar dae wat ons weg was en moes ingehaal geword het.
  • tussen-in moes ons beplan vir Die Partytjie. Groot pret, maar die tyd was net so min! ;-)
  • Franco het sy deel van die partytjie beplanning gedoen, en sy ouers bederf? deur tand nommer 6 & 7 die 2 dae voor die partytjie te sny. Daar is min dinge soveel pret soos besige dae, en laaaang nagte met kwantiteit gesinstyd nie
  • en die belangrikste? Dit was Paasfees! Gesinstyd, introspeksie-tyd, dankie se tyd. Dankie Jesus vir U groot,groot offer! Dankie dat ons kan Lewe omdat U bereid was om in ons plek te sterwe.
  • Ons het een heerlike partytjie gehad en toe moes
  • Mamma met 'n baie swaar hart Bloemfontein toe gaan vir werksgoete. Niks teen die Rosestad nie, maar 3 uit die laaste 4 keer wat ek daar was, was ons vlugte vertraag. Dink ek ken nou die (vrek klein aircon-lose) lughawe goed genoeg.

Die partytjie was 'n reuse-sukses! En Franco (en sy ouers!) het dit so-so baie geniet. Om die waarheid te se - ek en Gert het die partytjie so baie geniet, dat ons vergeet het om 'n enkele fototjie te neem! (Al het ons so ewe die aand voor die tyd die kamera se battery spesiaal gelaai) Dankie tog vir 'n parate Ouma, Oom Hannes en Tannie Thelwyn wat die Hasie-partytjie vir ons gedokumenteer het. Nou is die uitdaging net om al die fotos by die verskillende kamera-eienaars te kry. Ouma Miekie was so oulik om 'n hele CD vol fotos spesiaal by my werk af te lewer (dankie Ma!), maar daar vergeet ek die CD Vrydag op my lessenaar. :-( Grrr,grrrrr vir myself! Die partytjie-fotos kom - belowe, maar intussen moet hierdie maar instaan...

Ons was druk besig om te pak vir ons Middelburg-naweek toe Franco skielik tjoepstil word en ons wis ons moet gaan loer....

Meneertjie was druk besig om 'n rol toiletpapier te dissekteer - die konsentrasie was iets om te aanskou!Uitgevang! Al is hy hoe klein, Franco weet as hy iets doen wat hy nie veronderstel is nie - en kan nes 'n verskrikte bokkie lyk as hy agterkom hy is uitgevang. :-)

Aan die einde van elke ete dring Franco deesdae aan om self te probeer eet. Dis maar 'n morsige storie (ek sou ook sukkel as ek die lepel kort-kort onderstebo of agterstevoor het), en sy mamma leer lesse in geduld, maar dis te skattig om te sien!
Franco was baie geintreseerd in my sap, en het dadelik nader gestaan vir sy beurt. Moet se - hy het nogals oulik reggekom! As ouers van 'n seuntjie wat nie-hou-van-vreemde-goete-in-sy-mond-nie was dit 'n groot verrassing! Ons was sommer baie trots!

(En kyk net die lelike skraap op die gesig - Franco het saam-saam help klere uitpak, en moes hom op een of ander manier met die gespes gekrap het :-( Hy het niks eers gehuil nie - al het ek my byna boeglam geskrik toe ek dit opmerk. My arme kind lyk nes 'n wilde seerower!)

Kyk hoe rond staan my pensie na ete! Franco het een oggend amper 20 lepels pap geeet! Boeta het net gevra vir nog en nog en nog...


Paasnaweek was ons op die plaas en Franco het Oupa Jan se pantoffels ontdek. (Vir nog skattige Paasnaweekfotos kyk bietjie op Ouma se blog hier)
Oupa jy is my hero, en ek gaan eendag net so groot soos jy wees!

Franco ontpop deesdae in 'n klein helpertjie. As ek of Gert besig is met iets, dan is Seuna vinnig om nader te kruip en aan te dring om te wil "help". Nou veroorsaak die "hulp" nog effens uitdagings, maar ons hoop maar hy bly so fluks sy lewe lank!

Die oggend van die partytjie het Gert die opblaas swembadjie opgepomp en Franco het vinnig nadergestaan en ernstig na die instruksies geluister...
Op en af, op en af! Franco het gedink dis skreeusnaaks. (Franco het darem ietsie van sy ma geerf - sy oe gaan ook toe as hy lekker lag. Nie juis die mees fotogenieste eienskap nie :-)

Franco staan (en stap selfs!) deesdae al oulik - sy selfvertroue is net nog bietjie min. Hy raak verboureerd as hy agterkom hy staan self en dan gaan sit hy sommer dadelik. Die betrokke oggend het hy lank gestaan terwyl hy aan die pomp se pyp vasgehou het - min het hy besef dat so 'n pyp eintlik geen ondersteuning bied nie...

Mamma word darem ook gehelp! Hier help Franco fluks sy eie wasgoed sorteer

Doen ek dit reg Mamma? Dis mos Lig, Medium en Donker ne? So 'n hoop wasgoed maak 'n baie lekker speelding, en Franco kan homself 'n lang ruk daarmee amuseer.

Julle moet 'n lekker aand he! En lief bly vir Liewe Jesus! Ek is tog Donderdag 'n volle EEN jaar oud!

7 comments:

Charmaine said...

Dis dierbare fototjies Dorette. Julle kleinman kruip sommer diep in my hart in. Hulle word vreeslik vinnig groot. Ek sien uit na die verjaardagfotos en baie geluk met die Franco se eerste verjaardag. Mag hy altyd vir julle soveel vreugde verskaf.

Sandra said...

As hierdie man begin vinnig loop gaan hy julle nog baie besig hou met sy help sien ek. Sien ook uit om die verjaarsdagfoto's te sien. Partytjie julle weer Donderdag?

Dorette said...

Dankie Charmaine! Ons dink ook hy word te vinnig groot - 'n jaar terug was hy 'n pap babatjie, nou kruip/waggel ons die wereld vol!

Sandra - die "hulp" kan nogals 'n uitdaging wees, veral as ons haastig is. Franco deesdae vasbeslote om ook sy beurt te kry :-)

Donderdag is ons lekker by die see!!!!!! Franco kry 'n emmertjie en grafie, en sal hopelik sy eerste sandkasteel "help" bou :-)

Jan and Miekie said...

Dankie vir die oulike fotos! Die een met die toiletpapier herhinner aan een van jou vol Fissan pasta - dis payback time! Gelukkig vir jou is die melkbottels deesdae van plastiek - jy het my gehelp deur 'n yslike glasbottel melk op die teelvloer te laat val net toe ons oppad was - toe was jy al amper twee. So hef aan le nog voor! (Kan nie wag vir die seevakansie nie!! Is daar nog Hasiekoek oor?)

Muriel said...

Dierbaar Dorette!!!

Baie geluk aan Franco met sy 1ste verjaarsdag!!! Deur die blog, geniet ek hom saam met julle...... Geluk ook aan mamma en pappa en Miekie en Oupa!!!

Julle is bevoorreg!!!
x x
http://wipneus.co.za

loeloe said...
This comment has been removed by the author.
loeloe said...

Dorette, ek probeer uitvind wat van jou mammie geword het? Is regtig erg bekommerd!