Wednesday, March 18, 2009
Herfs is aan die kom!
Sunday, March 15, 2009
'n Maand is in 'n blur verby...
- 2 x mangelontsteking (Franco en toe Gert)
- 1 x maagstorie (Dorette)
- 3 x erge loopneuse en gehoesery wat aflos speel tussen die huismense (ons al drie)
- 2 x middel-oorontsteking (Franco en Franco)
- Verskeie fisio-behandelings vir sinusse en siek borskaste (Franco, Gert en weereens Franco)
- Erge nappy rash ten spyte van al die probiotikas saam met die anitbiotika (darem net Franco)
- 1 x ge-crashde laptop (Dorette - groot furstrasie! En nog meer verlore werkstyd)
- Die verskyning van Franco se 5de tand! Daar is nou 3 bo en 2 onder (en nommer 6 & dalkies 7 stoei verwoed om deur te breek). Seuna se onsimmetriese glimlag laat ons ook sommer glimlag!
Raai wie is mal oor sy swaaitjie?
- Meneertjie kan vinnig kruip as hy wil! Gunstelinge plekke om na te kruip - onder die (verbode) studeerkamertafel in met al sy rekenaarkabels, onder die pienk bank in die sitkamer (sodat ons ons kop kan stamp as ons probeer regop kom), 'n oop yskasdeur is altyd interessant en die jackpot is die skottelgoedwasser as daai deur durf oopgaan!
- Die pediater wil he Franco moet soveel as moontlik kruip, maar dis moeilik as Aspatatie slegs na die naaste voorwerp waarteen hy homself kan optrek kruip, en dan te heerlik staan en gesels.
- Goggabie klap nou al hoe meer handjies, en is geniet liedjies waar ons moet handjies klap so baie. Laasweek het Franco so entoesiasties handjies geklap, dat hy homself onbewustelik van die bank weggestoot het en vir 'n paar sekondes op sy eie gestaan het! (Net om met 'n groot kabaal om te dons die oomblik toe ons agterkom ons staan self..)
- Guilemientjie se eerste blou-oog en knop op sy kop :-( Op warm middae neem die skool die babas buitentoe om in 'n hoekie van die speelterein te sit en speel en te kyk wat die groter maatjies doen. Boetman wil egter altyd eerder met die ouer maatjies speel as met die babas van sy portuur groep (nie dat hy mag nie), en as jy jou oe uitknip dan het die klein Houdini onder jou neus uitgekruip na die groter kinders toe.
Die nuwe assistent was onbewus van hierdie Franco-geit, en het haar doodgeskrik toe sy sien hoe Franco (wat nog nie kan loop of vas staan nie!) probeer om homself by die klimraam op te hys. Toe sy hoogsbenoud nader storm, toe skrik die Rakker,los alles, en stamp sy kop met die afkomslag. :-(
Gelukkig ken ons Franco goed genoeg om te weet hoe vinnig hy homself in moeilikheid kan kry, en kon dus die assistent geredelik vergewe. Dis moeilik om altyd betyds te keer! Franco loer al om die kamera om te kyk hoe sy Pappa-hero in die tuin werk. Kyk net die gekneusde linker-oogbank! (Het vergeet om 'n foto te neem om die "guts-en-glory" op sy ergste te wys)
- Die klouterkabouter het gister weereens sy ondernemingsgees ten toon gestel. Hy is lief daarvoor om by die bank te staan en speel, maar toe wou hy eerder op die bank speel. Aangesien Meneertjie nog te kort is om self op die klim, is die doeksak met 'n gesteun nader gestoot/kruiproller en toe gebruik as 'n trappie om op die bank te kom! My hart het amper gaan staan, en die doeksak is terstond bygevoeg as item #987 van dinge wat hoog weggepak moet word!
- My kind is 'n opperste platjie, en 'n deel van my hart is benoud oor die grense wat hierdie mannetjie nog gaan toets. Laasnaweek was ons almal vir 'n slag saam op die plaas, en het Franco en Martelize weer al die nuus opgevang. Martelize het die afgelope ruk besluit sy wil nie meer haar foppie he nie, maar was vreeslik geintresseerd in haar nefie se foppie wat aan sy dummy chain vas was. (Sy wou nie die foppie in haar mond druk nie, net eintlik vashou en bietjie van naderby bekyk). Franco was vinnig om die belangstelling op te merk, en het ewe lieftallig sy foppie aangegee. Voor my moederhart te trots kon raak, toe ruk die klein karnallie die foppie weg die oomblik toe Marteliefie haar handjie uitsteek om dit raak te vat. Gedink dis 'n eenmalige gebeurtenis? Nee wat - weer en weer is die foppie met die onskuldigste gesiggie denkbaar aangebied, en weer en weer is die foppie voor die uitreikende handjie weggeruk - tot groot onsteltenis (met reg!) van Juffrou.
Het solank op aanbeveling Hettie Brits se "Kweek kinders met karakter" aangeskaf en begin opswot oor hoe om hierdie platjie-geid in die regte rigting te stuur. Gelukkig is ons Pa ook altyd daar om raad te gee!
Franco-Frank jy is 'n Goggapatat, en enig in jou soort. Jy leer ons elke dag soveel nuwe dinge - van onsself en van jou! Jy raak elke dag meer en meer jou eie mensie met jou eie maniertjies van dinge doen- jy het al defnitiewe voor- en afkeure en kan dit al goed komunikeer! Jy is 'n wikkelwurm, en jou almal om jou heeldag op hul tone met jou mannewales, maar ons geniet jou so-so baie! Jou laggie (wat deurbreek selfs al is jy baie siek!), oopbek spoeg-soene en dierbare drukkies laat ons harte terselfdertyd smelt van liefde en bars van trots.
Ons hoop en bid dat die gereeld siekwees vir eers bietjie sal minder word - en is dankbaar vir die Here dat jy elke keer so mooi op die medikasie gereageer het en nie verdere komplikasies ontwikkel het nie! Jy was so 'n troopertjie met al die doktersbesoeke, medisyne gee en fisio saam - Mamma is sommer vreeslik trots op jou! Jy raak elke dag al hoe meer seunskind wat die wereld wil verower, en dis 'n voorreg om hierdie pad saam met jou te kan loop!
10 maande, 2 weke
Sunday, February 15, 2009
Dag van Liefde
Vroeg-vroeg begin die bederf al. Om saam met Pappa te bad is groot groot pret!
Franco was nie so seker van die (vuil!) springkasteel nie
Die groot trampolien was meer na Boeta se smaak
Hallo blogland! Ek raak nog gewoond aan die glyplank ding!
Die eendjies op die dam was nie vir lank interessant nie
Franco was maar eers lugtig vir die boerbokke
Seuna se benadering tot die boerbokke was vir ons skreeusnaaks. Aanvanklik het die hele lyfie skoon geruk van spanning. Toe ons hom wou wegvat (om hom 'n skrik op die lyf te jaag is die laaste ding wat ons wou he!), toe protesteer Meneertjie luidkleels. Skrikkerig of te nie, Franco het met alle mag vorentoe gebeur - aan die bokkie wil hy vat! Dit het so paar probeerslae gekos, maar hy het dit ten einde laaste reggekry - en toe is hy vreeslik trots op homself. Ek was skoon aangedaan - my babatjie raak by die dag meer 'n dapper seunskind, en wil al klaar die wereld begin verower!
Op die zebra skoppelmaai - Franco was bietjie deurmekaar, en het heeltyd brrr-brrr geluidjies gemaak.
Spesiaal vir Oupa Jan - Oupa se bulletjie op 'n Blou Bul motorfietsie. (Natuurlik toe is die broem-broem geluidjies skoonveld, en Boeta vreeslik geamuseerd met sy Pa wat so staan en broem-broem..)
Saterdag-aand was ons plaas toe vir Oupa Jan se verjaarsdag-vieringe. Wat 'n dag! Eers was daar 'n dief wat in die bosse kom wegkruip het, en al die mans in die omgewing cowboys-en-crooks (Pa Jan se woorde) gespeel het om hom te probeer vang. Toe net voor ete, sien Thelwyn 'n slang in die spaarkamer - die kamer waar die babas moet slaap! Toe moes al die mans weer probeer om die slang te vang. Ek was baie bly dat ek nie 'n man is nie - sal baie eerder slaai maak in die kombuis! Gelukkig was almal darem ongedeerd - al was groot furstrasie toe die dief wegkom, en die slang nie opgespoor kon word nie.
Terwyl daar slaai gemaak is, het Franco en Martelize onder Gert se wakende oog met die honde gespeel (Martelize haal haar nefie in - hulle tweetjies is nou al amper ewe groot!)
Ma Miekie het baie moeite gedoen met die ete - en na al die drama van die dag was die Hartjie-my-liefie hoenderpastei 'n groot bederf! Dankie Pa dat jy verjaar het, en dankie Ma vir al die lekker kos! Dit was lekker om julle op die dag van liefde ook te kon liefhe!
Al die girls was in rooi opgetof vir die spesiale ete! Is Juffroutjie nie te skattig nie? Martelize en haar nefie was albei die laaste week of wat woes verkoue, en het te heerlik hulle mammas aangesteek - verskoon tog maar die waterige ogies!
My liefie-liefie kind, ek hoop jy het jou eerste Valentynsdag sommer baie geniet! Ek hoop jy sal sommer op elke Valentynsdag omring wees met mense vir wie jy lief is, en wat jou liefhet. Maar mag jy vroeg-vroeg reeds besef dat liefde soveel meer is as die goedkoop ding wat die wereld daarvan maak: "God is liefde; wie in die liefde bly in God en God bly in hom. Hierin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wereld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus.. "1 Joh 4:16,17
9 maande 3 weke
Tuesday, February 10, 2009
Oupa Jan verjaar vandag
Oupa Jan en sy kleinseun. 16 dae oud en die eerste keer op die plaas
Monday, February 9, 2009
Klaasvakie is duidelik met vakansie
Saterdag was 'n doodlekker dag, en gister is ons na die inseening van klein Pieter Josua. 'n Baie mooi intieme geleentheid, en ons voel geeerd dat ons daar kon wees! Weereens baie geluk Fanie en Terese! Mag Pieter vir julle sommer baie vreugde en trots bring en die man word wat God hom bestem het om te wees. En geluk aan Ousus Stephanie ook!
Franco het Sondag voor ons na die inseening gegaan het, 'n lekker oggendslapie gehad en was baie vrolik by die partytjie. Hy was so geesdriftig oor die storie, dat ek ons tweetjies 'n wyle moes verskoon - Franco gesels dan harder as die pastoor!
By Pieter se inseening - Franco en Marli (25 maande) trek tou oor 'n speelding. Franco mag "klein en fyn" wees, maar hy het 'n baie sterk willetjie en 'n sterk genoeg arm gehad om die "veldslag" te wen.
Met die vreemde plek, en belangriker nog al die maatjies was daar nie sprake van 'n middagslapie nie. Toe ons sowat 'n uur na sy gewone middagslapie tuis kom was Seuna al op sy tweede asem en glad nie lus vir slaap nie. Het toe lustig gespeel en gekruip tot na aandete, en toe homself gate uitgeniet met badtyd. Die badroetine was soos elke ander aand, met 'n storie en 'n cuddle agterna maar Klaasvakie was skoonveld. Die het sowat 'n uur se harde baklei gekos om hom aan die slaap te kry - net sodat die Prinsie 'n 15 min "power nap" kon vat en daarna weer aan die gang wees vir nog 2 ure. Meneertjie was so vrolik - behalwe vir 1 keer se huil was dit heeltyd speeltyd. :-)
Hallo Mamma! Hoor jy ook hoe die koek-koek twaalf uur slaan? :-) Mnr Vrolik is op sy stukke
Jy maak verniet of jy my nie sien nie! Ek loer vir jou!
Vanoggend was ons al 3 leep-oog. Toe ontdek ek dat ons jongste gesinslid se neusie weer erg toe is, en dat daar 3 erg geswelde tandvleisknobbels is - waarskynlik die rede vir die middernag kapperjolle. Meneer het natuurlik lekker geslaap by die skooltjie, terwyl sy ouers maar moes staatmaak op die filterkoffie by die werk. Ek het die skool mooi gevra dat hy nie toegelaat word om so baie slaap dat hy vanaand weer wil speel nie, en dit lyk darem of dit gewerk het. Seuna was goed moeg toe ek hom gaan oplaai het, en het net na badtyd aan die slaap geraak! Klink vir my na 'n goeie idee!Julle moet almal 'n heerlike nagrus en 'n wonderlike week he!
Ampertjies vergeet ek: Woo-hoo! Baie, baie geluk met nog 'n suksesvolle Midmar-myl Ouma Miekie! Ons is vrek trots op jou! Ma maak my net bekommerd - my Ouma Ethie het Fauresmith uithourit gery en gewen nadat sy ouma geword het en Franco se Ouma swem Midmar-myle so amper sonder om te oefen. Gits! Wat sal ek die dag moet doen as ek ouma is? :-)
Tuesday, February 3, 2009
Nie my beste 24 uur ooit nie
Ek is in die Kaap vir werksdinge die week. Was Sondag-aand so 20min reeds in die lug, toe die mikrofoon kraak "Ladies and gentelman, this is your Captain speaking....". Blyk toe dat een van die deure nie mooi seel nie, ons pressure verloor!?, en dat ons maar eerder gaan omdraai. Net na die aankondiging is ons deur woeste turbulensie - is seker die turbulensie het geen verband gehad met die deur wat nie seel nie, maar dit is maar erg skrikkerig om so te wip-wip deur die lug as jy nou net gehoor het daar is fout. Ek het maar baie gebid!
Die vroutjie langs my was heeltemal uitgefreak deur die storie en het vir die res van die rit met haar gesig in haar hande gesit en bid/huil/prewel. Die geleentheid om met haar te praat wou homself nie voordoen nie, maar ek sal aanhou om vir haar bid. Is ons Koningskinders nie bevoorreg nie? Al wil ek nie vreeslik graag nou doodgaan nie, weet ek dat ek weet dat ek weet - my lewe is Christus, en selfs die dood is 'n wins.
Ons was so 40min op die grond, toe kon ons darem weer opstyg sonder probleme. Die rede hoekom ons laterig Sondae-aande vlieg is om maksimum tyd saam met ons families te he, maar nogsteeds so te vlieg dat ons 'n volle nag se slaap inkry sodat ons kan skerp wees tydens al die vergaderings Maandag. Noddeloos om te se - die "land net voor 21h en is voor 22h by die hotel en in die bed" raak toe meer 'n "land net na 23h en is so 24h by die hotel". Fun times. En nie te bevordelik vir op en wakker wees nie. My gewone slaaptyd is nader aan 21h :-)
Maandag-more was ons skaars aan die gang, of Franco se skooltjie bel. Boeta het opgegooi, het koors en is vreeslik huilerig. Crack goes my heart. Nie die ding wat jy wil hoor as jy ver van die huis af is en jouself alreeds doodverlang nie.
Gert was gister self besig met belangrike vergaderings, maar het als gekanselleer en opsy geskuif en toe vir Bieliebam dokter toe gevat. Dis weereens mangelontsteking, en die keer is die oortjies ook erg rooi. Dejavu met antibiotika, koorsmedisyne en baie liefie en troos. My arme arme babatjie! En my arme man!
Gert was (soos altyd) 'n ster van 'n pa wat maar als in sy stride vat, maar toe ek gisteraand met hom gesels was hy maar flou. Dis woes om solo te vlieg met 'n siek seuntjie as jy self ook koorsig voel. (Gert het 'n geneigdheid om by sy seuntjie aan te steek - ek hoop nie dis weer die geval nie!) Sterkte my Engel! Jy weet ek is vreeslik lief vir jou en waardeer jou ne!
Laat gisteraand kom die sms deur: "Boeta het nou sy tweede asem teruggekry. Ons le nou en speel in die bed. Tot 'n bietjie gelag en gekruip. Ek dink die medisyne begin nou werk!" Prys die Here! Ek was lanklaas so bly oor 'n sms in die middel van die nag.
9 maande, 1 week
Sunday, February 1, 2009
Foto-probleem gefix!
Kyk net die mooi koek!
Carl en Suzette met hul Callie-man
Daar was 'n swembadjie vol balle, maar dis net soveel pret om te probeer uitklim!

Hannes se verjaarsdagpartytjie in die natuurresevaat. Ons het die kamera tuis vergeet, en die selfoon moes toe maar diens doen. Kyk net die modderhande! Na 'n week se reen was die aarde heerlik klam, en 'n woelwater wat WIL kruip en nie vasgehou WIL wees nie, het te heerlik in die modder gespeel en homself van kop tot tone besmeer. Dankie tog vir Omo :-)
9 maande 1 week



