baby
Lilypie First Birthday tickers

Monday, February 9, 2009

Klaasvakie is duidelik met vakansie

Dankie vir al die goeie wense en sms'e! Ek het Franco Donderdag by die pediater gehad vir sy 9 maande ondersoek, en die se toe die mangeltjies lyk stukke beter! Boeta is geweeg, gemeet, getoets en wat nog als. Die dokter was baie tevrede - beskryf hom net as "klein en fyn". (Dis natuurlik 'n groot verrassing vir almal wat sy ouers ken ;-) Die dokter dag eers dis omdat hy te min eet, maar nadat ek vertel het van hoe gretig Franco sy 3 (groot) maaltye per dag wegsit verklaar dis seker maar omdat Gogga so woelig is. (Die 2 Oumas - hy wou weet of een van sy ouers "woelig" was. Ek het gese ek sal uitvind, maar ons was maar altwee mos stil en bedees of hoe?)

Saterdag was 'n doodlekker dag, en gister is ons na die inseening van klein Pieter Josua. 'n Baie mooi intieme geleentheid, en ons voel geeerd dat ons daar kon wees! Weereens baie geluk Fanie en Terese! Mag Pieter vir julle sommer baie vreugde en trots bring en die man word wat God hom bestem het om te wees. En geluk aan Ousus Stephanie ook!

Franco het Sondag voor ons na die inseening gegaan het, 'n lekker oggendslapie gehad en was baie vrolik by die partytjie. Hy was so geesdriftig oor die storie, dat ek ons tweetjies 'n wyle moes verskoon - Franco gesels dan harder as die pastoor!

By Pieter se inseening - Franco en Marli (25 maande) trek tou oor 'n speelding. Franco mag "klein en fyn" wees, maar hy het 'n baie sterk willetjie en 'n sterk genoeg arm gehad om die "veldslag" te wen.

Met die vreemde plek, en belangriker nog al die maatjies was daar nie sprake van 'n middagslapie nie. Toe ons sowat 'n uur na sy gewone middagslapie tuis kom was Seuna al op sy tweede asem en glad nie lus vir slaap nie. Het toe lustig gespeel en gekruip tot na aandete, en toe homself gate uitgeniet met badtyd. Die badroetine was soos elke ander aand, met 'n storie en 'n cuddle agterna maar Klaasvakie was skoonveld. Die het sowat 'n uur se harde baklei gekos om hom aan die slaap te kry - net sodat die Prinsie 'n 15 min "power nap" kon vat en daarna weer aan die gang wees vir nog 2 ure. Meneertjie was so vrolik - behalwe vir 1 keer se huil was dit heeltyd speeltyd. :-)


Hallo Mamma! Hoor jy ook hoe die koek-koek twaalf uur slaan? :-) Mnr Vrolik is op sy stukke

Kyk Mamma! Ek het sommer geweet jy gaan my ook verlang, toe staan ek solank op en wag vir jou!
So 1:00 het ek opgegee, en Franco by ons in die bed getel. (Vorige kere het dit gewerk as 'n last resort om die Kabouter aan die slaap te kry). Moenie glo nie, Aspatat het in die donker kiertsregop tussen sy ma en pa gesit en handjies klap en gesels. Toe hy nie genoeg reaksie kry nie, het hy probeer om oor sy ouers (wat gehoop het dat as hulle hom ignoreer hy sou slaap) te klouter. Ek het hard probeer, maar dis moeilik om te slaap as daar kort-kort aan jou hare getrek word, of 'n kleine handjie jou oor ondersoek. Operasie Ignoreer het finaal misluk toe 'n spoegbekkie met 4 tandjies in 'n niksvermoedende Pappa se sy wegsink. Gert het met 'n "Goeie Ouers!" wawyd wakker geskrik en Franco het gekraai van die lag - reaksie was al wat hy wou he. (Een kyk na Gert se gesig het my oortuig om maar eerder stilletjies in my mou te lag :-)

Jy maak verniet of jy my nie sien nie! Ek loer vir jou!

Vanoggend was ons al 3 leep-oog. Toe ontdek ek dat ons jongste gesinslid se neusie weer erg toe is, en dat daar 3 erg geswelde tandvleisknobbels is - waarskynlik die rede vir die middernag kapperjolle. Meneer het natuurlik lekker geslaap by die skooltjie, terwyl sy ouers maar moes staatmaak op die filterkoffie by die werk. Ek het die skool mooi gevra dat hy nie toegelaat word om so baie slaap dat hy vanaand weer wil speel nie, en dit lyk darem of dit gewerk het. Seuna was goed moeg toe ek hom gaan oplaai het, en het net na badtyd aan die slaap geraak! Klink vir my na 'n goeie idee!

Julle moet almal 'n heerlike nagrus en 'n wonderlike week he!

Ampertjies vergeet ek: Woo-hoo! Baie, baie geluk met nog 'n suksesvolle Midmar-myl Ouma Miekie! Ons is vrek trots op jou! Ma maak my net bekommerd - my Ouma Ethie het Fauresmith uithourit gery en gewen nadat sy ouma geword het en Franco se Ouma swem Midmar-myle so amper sonder om te oefen. Gits! Wat sal ek die dag moet doen as ek ouma is? :-)

4 comments:

Jan and Miekie said...

Dankie vir die gelukwensinge! (Ek is anders as Ouma Ethie, baie ver van wen af!) Ek sien jy blog ook so middernagtelik - hoop jy slaap al. Kon nie help om te lag nie... Jy stil en bedeesd - ga! Dis payback time hierdie! Ouma verlang verskriklike baie!

Sandra said...

Ek kan sien klaasvakie kuier by 'n ander plek. Sterkte vir julle! Die mannetjie word nou groot en een van die dae moet julle nog orals agter hom aanhardloop.

Mariette. said...

Kyk die klien ding is werklik waar mnr vrolik!
Shame dit is maar 'n ding met die tandjies sny - gelukkig is hy vrolik en nie huilirig nie.
hoop jul kan darm lekker rus in kry die nuwe week.

groetetjies

Dorette said...

Hi Ma - payback time? Watse paypack time? ;-) Dink ons 3tjies het al hoe woeleriger geword van oud na jonk. Hendrik kan dan nou nog nie stil sit nie! (As die trend oorerflik is - dan moet ons maar nie te veel kinders he nie :-)

Sandra - dit voel asof ek my oe knip, dan is daar alweer 'n maand verby! Ek is dankbaar vir die blog - ek lees soms in die argief, en onthou dan oomblikkies wat ek al vergeet het!

Sandvlooi -die slaap het darem gisteraand beter gegaan. Boeta was kort-kort wakker vir 'n dummy indruk of 'n ruggie vryf, maar het darem tussen-in geslaap! Ons was baie dankbaar!