baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label Toewyding. Show all posts
Showing posts with label Toewyding. Show all posts

Monday, February 9, 2009

Klaasvakie is duidelik met vakansie

Dankie vir al die goeie wense en sms'e! Ek het Franco Donderdag by die pediater gehad vir sy 9 maande ondersoek, en die se toe die mangeltjies lyk stukke beter! Boeta is geweeg, gemeet, getoets en wat nog als. Die dokter was baie tevrede - beskryf hom net as "klein en fyn". (Dis natuurlik 'n groot verrassing vir almal wat sy ouers ken ;-) Die dokter dag eers dis omdat hy te min eet, maar nadat ek vertel het van hoe gretig Franco sy 3 (groot) maaltye per dag wegsit verklaar dis seker maar omdat Gogga so woelig is. (Die 2 Oumas - hy wou weet of een van sy ouers "woelig" was. Ek het gese ek sal uitvind, maar ons was maar altwee mos stil en bedees of hoe?)

Saterdag was 'n doodlekker dag, en gister is ons na die inseening van klein Pieter Josua. 'n Baie mooi intieme geleentheid, en ons voel geeerd dat ons daar kon wees! Weereens baie geluk Fanie en Terese! Mag Pieter vir julle sommer baie vreugde en trots bring en die man word wat God hom bestem het om te wees. En geluk aan Ousus Stephanie ook!

Franco het Sondag voor ons na die inseening gegaan het, 'n lekker oggendslapie gehad en was baie vrolik by die partytjie. Hy was so geesdriftig oor die storie, dat ek ons tweetjies 'n wyle moes verskoon - Franco gesels dan harder as die pastoor!

By Pieter se inseening - Franco en Marli (25 maande) trek tou oor 'n speelding. Franco mag "klein en fyn" wees, maar hy het 'n baie sterk willetjie en 'n sterk genoeg arm gehad om die "veldslag" te wen.

Met die vreemde plek, en belangriker nog al die maatjies was daar nie sprake van 'n middagslapie nie. Toe ons sowat 'n uur na sy gewone middagslapie tuis kom was Seuna al op sy tweede asem en glad nie lus vir slaap nie. Het toe lustig gespeel en gekruip tot na aandete, en toe homself gate uitgeniet met badtyd. Die badroetine was soos elke ander aand, met 'n storie en 'n cuddle agterna maar Klaasvakie was skoonveld. Die het sowat 'n uur se harde baklei gekos om hom aan die slaap te kry - net sodat die Prinsie 'n 15 min "power nap" kon vat en daarna weer aan die gang wees vir nog 2 ure. Meneertjie was so vrolik - behalwe vir 1 keer se huil was dit heeltyd speeltyd. :-)


Hallo Mamma! Hoor jy ook hoe die koek-koek twaalf uur slaan? :-) Mnr Vrolik is op sy stukke

Kyk Mamma! Ek het sommer geweet jy gaan my ook verlang, toe staan ek solank op en wag vir jou!
So 1:00 het ek opgegee, en Franco by ons in die bed getel. (Vorige kere het dit gewerk as 'n last resort om die Kabouter aan die slaap te kry). Moenie glo nie, Aspatat het in die donker kiertsregop tussen sy ma en pa gesit en handjies klap en gesels. Toe hy nie genoeg reaksie kry nie, het hy probeer om oor sy ouers (wat gehoop het dat as hulle hom ignoreer hy sou slaap) te klouter. Ek het hard probeer, maar dis moeilik om te slaap as daar kort-kort aan jou hare getrek word, of 'n kleine handjie jou oor ondersoek. Operasie Ignoreer het finaal misluk toe 'n spoegbekkie met 4 tandjies in 'n niksvermoedende Pappa se sy wegsink. Gert het met 'n "Goeie Ouers!" wawyd wakker geskrik en Franco het gekraai van die lag - reaksie was al wat hy wou he. (Een kyk na Gert se gesig het my oortuig om maar eerder stilletjies in my mou te lag :-)

Jy maak verniet of jy my nie sien nie! Ek loer vir jou!

Vanoggend was ons al 3 leep-oog. Toe ontdek ek dat ons jongste gesinslid se neusie weer erg toe is, en dat daar 3 erg geswelde tandvleisknobbels is - waarskynlik die rede vir die middernag kapperjolle. Meneer het natuurlik lekker geslaap by die skooltjie, terwyl sy ouers maar moes staatmaak op die filterkoffie by die werk. Ek het die skool mooi gevra dat hy nie toegelaat word om so baie slaap dat hy vanaand weer wil speel nie, en dit lyk darem of dit gewerk het. Seuna was goed moeg toe ek hom gaan oplaai het, en het net na badtyd aan die slaap geraak! Klink vir my na 'n goeie idee!

Julle moet almal 'n heerlike nagrus en 'n wonderlike week he!

Ampertjies vergeet ek: Woo-hoo! Baie, baie geluk met nog 'n suksesvolle Midmar-myl Ouma Miekie! Ons is vrek trots op jou! Ma maak my net bekommerd - my Ouma Ethie het Fauresmith uithourit gery en gewen nadat sy ouma geword het en Franco se Ouma swem Midmar-myle so amper sonder om te oefen. Gits! Wat sal ek die dag moet doen as ek ouma is? :-)

Monday, November 3, 2008

Martelize se doop

Martelize is Sondag-oggend gedoop. Sy was 'n stroopsoet baba wat regdeur die hele seremonie geslaap het, en niks eers gehuil het toe die Dominee water op haar kop drup nie! En deur die hele teepartytjie en als was sy so rustig en ontspanne! Hierdie tannie is sommer BAIE trots Die ster van die dag in haar dooprok. Lyk sy nie te fraai nie?


Niggie en nefie (Franco is mal daaroor om aan Martelize te raak - hy kan hom verkyk aan haar!)



Tel ons op! Tel ons op!


Ai man! Dit was so spesiaal, en het my sommer terug gevat na die dag toe ons vir Franco ingeseen het, en Martelize 'n skrale 12 daggies oud was! Die tyd vlieg darem maar so vinnig...

Jesus, die tyd vlieg so vinnig en daar is soveel kosbare oomblikke met die kleingoed saam. Maar ek hoop ek word gespaar om eendag die grootste van die groot oomblikke saam met my kind te mag beleef, en dis die dag wat Franco (en Martelize!) vir U sal kies om saam met U journey. Gee asb dat hulle inseening/doop meer sal wees as net 'n groot dag met mooi kleertjies aan, en dat hulle eendag die beloftes wat ons as ouers gemaak het verder sal vat, en self kies om Koningskinders te word. Dankie dat U vir elkeen van ons, groot en klein se sondes gesterf het.


Franco - 6 maande 2 weke

Martelize - 3 maande 1 week


Friday, August 15, 2008

Familiefotos van Franco se toewyding


Gert se kant van die familie.
(Let net op na ons Woeliekous se kousies. Sy mooie satynskoentjies wat spesiaal vir die geleentheid gekoop was, was nie bestand teen mnr Wikkelwurm nie. Na die soeveelste aantrek van die skoene, het ek opgegee en maar meer praktiese kousies aangetrek - wat op die ou end ook nie bestand was teen al die gewoel nie)
Oom Hannes, Gert, Dorette met Woeliekous Franco, Ouma Elna, Oupa Frans


My kant van die familie. Eers was ons net 5 - nou is ons al 9!

Oupa Jan, tannie Thelwyn met Martelize, Oom Frans, Dorette & Franco, Gert, Ouma Miekie en Oom Hendrik
(Martelize - 12 dae, Franco 3 maande 1 week 4 dae)




Franco se toewyding


Franco - Free Man (Van Oupa Frans en Oupa Jan se Nicolaas)
"..Dit verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.." Joh 8:34-36

Jean - Shining/ God is gracious (Dis die Franse se Johannes. Jean het dieselfde betekenis as Johan (Oupa Frans se tweede naam) en Jan. Die stamvader van ons van wat as Hugenoot hier aangekom het, het sy seun ook Jean gedoop)
"You are the light of the world. A City that is set on a hill cannot be hidden" Matt 5:14

Franco se toewyding was so super spesiaal! Dit was in twee sarsies - die Woensdag-aand het die naby familie by die kerk saamgekom, met Franco wat te spoggerig was in die sy pakkie wat Ouma Miekie spesiaal vir die geleentheid gemaak het. (Wikkelwurm Franco was net so 'n woeliekous dit was moeilik om 'n fototjie te kry van die hele outfit!)

Daar was drie ander babas en hul families, met Franco wat die jongste was. Ons het die geleentheid gehad om as ouers, en as die groter familie almal saam vir hom te bid en die Here te vra om vir Franco te seen - net soos die mense in toeka se tyd ook vir Jesus gevra het om die kindertjies te seen. Ook het ek en Gert in die openbaar plegtig belowe om hierdie kosbare geskenk wat aan ons toevertrou is, na die beste van ons vermoe groot te maak soos wat Hy wil he ons moet.

Sondag-oggend het hy weer sy spesiale pakkie aangtrek, en is voorgestel aan die gemeente! Met nog 'n korporatiewe gebed vir hierdie seuntjie se lewe!

Daarna was dit tyd vir 'n teepartytjie by ons huis met die lekkerste koek en tee denkbaar. Franco is darem 'n baie gelukkige seuntjie met besonderse Oumas wat kan bederf met sulke lekker eetgoed. Dink dit was die grootste partytjie was ons woninkie nog gehad het, en het omtrent 'n kreatiewe rondskuif van meubels nodig gehad om almal te kon akkomodeer. Gelukkig was Ouma Miekie naby genoeg en gaaf genoeg dat ons haar pragtige teestelle kon leen. (Royal Albert nogals!)

Net om julle lus te maak - die spyskaart!
'n Groot House of Coffees Caramel Meringue koek
Driehoek-kaaskoek van Ouma Miekie
Melktert van Ouma Elna
Koeksisters geskenk deur Ouma Miekie
Skons met sout-bolae van Ouma Elna
Frikkadelletjies (Ma het darem ook gehelp!)
Woolies worsrolletjies
Mosterdsous
Broodjies en patee van tannie Lisa (dankie vriendin!)

Net om die Sondag-kuier super lekker te maak - het tannie Thelwyn-hulle kom kuier met kleine Martelize! 'n Brose 12 daggies oud, en tannie Thelwyn lyk fantasties! Dankie sus - ek weet dis moeilik om met so 'n kleine bondeltjie uit die huis te kom, en waardeer dit so dat julle hierdie spesiale dag met ons gedeel het!

Dankie Jesus - dat ons kan weet kindertjies is geskenke reguit uit U hand uit. Dankie Here dat ons kan weet, al kan ons as ouers nie altyd daar wees vir ons kind nie - U altyd daar sal wees al die dae van sy lewe! En dankie Here dat ons hierdie spesiale dag met ons familie kon deel - veral Franco se twee Oupas! Dankie dat U hulle gespaar het vir ons nadat hulle elkeen 'n beurt vroeer die jaar gehad het om ons groot te laat skrik! Ons loof U naam!

Wednesday, August 6, 2008

Sneakpreview: Franco se Inseening foto


Franco word vanaand ingeseen tydens 'n intieme plegtigheid by die kerk. Sondag-oggend word hy voorgestel aan die groter gemeente, en die kerk wou 'n fototjie he van die klein prins.


Hier is die fototjie wat ons gekies het (dis een van die fotos van ons 3 maande studio sessie) Is hy nie die pragtigste, vriendelikste babatjie nie?
Ons voel so bevoorreg om die eer te he om ouers te wees vir hierdie spesiale seuntjie. Ons sal ons bes probeer Here, om hom groot te maak in U wil en ons bid dat hy sommer vroeg-vroeg sal besef hoe nodig ook hy vir U het. Dankie Here, dat daar vir ons kan LEWE wees omdat U reeds die gesterwe het!