baby
Lilypie First Birthday tickers

Friday, August 15, 2008

Franco se toewyding


Franco - Free Man (Van Oupa Frans en Oupa Jan se Nicolaas)
"..Dit verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.." Joh 8:34-36

Jean - Shining/ God is gracious (Dis die Franse se Johannes. Jean het dieselfde betekenis as Johan (Oupa Frans se tweede naam) en Jan. Die stamvader van ons van wat as Hugenoot hier aangekom het, het sy seun ook Jean gedoop)
"You are the light of the world. A City that is set on a hill cannot be hidden" Matt 5:14

Franco se toewyding was so super spesiaal! Dit was in twee sarsies - die Woensdag-aand het die naby familie by die kerk saamgekom, met Franco wat te spoggerig was in die sy pakkie wat Ouma Miekie spesiaal vir die geleentheid gemaak het. (Wikkelwurm Franco was net so 'n woeliekous dit was moeilik om 'n fototjie te kry van die hele outfit!)

Daar was drie ander babas en hul families, met Franco wat die jongste was. Ons het die geleentheid gehad om as ouers, en as die groter familie almal saam vir hom te bid en die Here te vra om vir Franco te seen - net soos die mense in toeka se tyd ook vir Jesus gevra het om die kindertjies te seen. Ook het ek en Gert in die openbaar plegtig belowe om hierdie kosbare geskenk wat aan ons toevertrou is, na die beste van ons vermoe groot te maak soos wat Hy wil he ons moet.

Sondag-oggend het hy weer sy spesiale pakkie aangtrek, en is voorgestel aan die gemeente! Met nog 'n korporatiewe gebed vir hierdie seuntjie se lewe!

Daarna was dit tyd vir 'n teepartytjie by ons huis met die lekkerste koek en tee denkbaar. Franco is darem 'n baie gelukkige seuntjie met besonderse Oumas wat kan bederf met sulke lekker eetgoed. Dink dit was die grootste partytjie was ons woninkie nog gehad het, en het omtrent 'n kreatiewe rondskuif van meubels nodig gehad om almal te kon akkomodeer. Gelukkig was Ouma Miekie naby genoeg en gaaf genoeg dat ons haar pragtige teestelle kon leen. (Royal Albert nogals!)

Net om julle lus te maak - die spyskaart!
'n Groot House of Coffees Caramel Meringue koek
Driehoek-kaaskoek van Ouma Miekie
Melktert van Ouma Elna
Koeksisters geskenk deur Ouma Miekie
Skons met sout-bolae van Ouma Elna
Frikkadelletjies (Ma het darem ook gehelp!)
Woolies worsrolletjies
Mosterdsous
Broodjies en patee van tannie Lisa (dankie vriendin!)

Net om die Sondag-kuier super lekker te maak - het tannie Thelwyn-hulle kom kuier met kleine Martelize! 'n Brose 12 daggies oud, en tannie Thelwyn lyk fantasties! Dankie sus - ek weet dis moeilik om met so 'n kleine bondeltjie uit die huis te kom, en waardeer dit so dat julle hierdie spesiale dag met ons gedeel het!

Dankie Jesus - dat ons kan weet kindertjies is geskenke reguit uit U hand uit. Dankie Here dat ons kan weet, al kan ons as ouers nie altyd daar wees vir ons kind nie - U altyd daar sal wees al die dae van sy lewe! En dankie Here dat ons hierdie spesiale dag met ons familie kon deel - veral Franco se twee Oupas! Dankie dat U hulle gespaar het vir ons nadat hulle elkeen 'n beurt vroeer die jaar gehad het om ons groot te laat skrik! Ons loof U naam!

No comments: