baby
Lilypie First Birthday tickers

Friday, November 14, 2008

Skoon siek van verlange!

Gert het 'n besigheidstrip van 'n paar dae gehad. Boeta het so na sy pa verlang, dat hy sommer op aand 2 ewe skielik siek geword het. :-( Mamma het gedokter en gesus en getroos so al wat sy kan, maar dit was een moeilike nag.

Siektes kom natuurlik op dae wanneer dit die minste pas. Daar mis Franco toe sy heel eerste skoolkonsert (waarvoor ons ten duurste kaartjies gekoop het!) en gaan nou nie op sy klasfototjie pryk nie (waarvoor ons ook al betaal het). Die arme ander ouers - dink julle hulle sal vreeslik teleurgesteld wees as hulle agterkom die mooiste seuntjie in die klas is toe nie op die foto nie? :-)

Donderdag was die braking darem onder beheer, maar die koors wou nie wyk nie - toe gaan kuier ons maar vir tannie Dokter. (Dankie vir nudge, nudge Ouma Miekie!) Diagnose? Mangelontsteking! En Franco se heel eerste kursus antibiotika.

Ek en Franco het omtrent die happy dance gedoen toe Gert gisteraand by die deur instap! Nog 'n paar hande kom nogals handig te pas as mens stoei om medisyne in 'n kleine seuntjie in te kry. 5ml is darem 'n woeste lot medisyne om binne te kry! (En dan is daar nog 3 ander medisynes wat ook hul beurt moet kry!)

Die bietjie antibiotika wat 1) nie uit die druppertjie geloop het voor ons die mondjie kon oop forseer nie, en 2) nie onmiddellik in ons gesigte teruggespoeg is nie en 3) nie so 60 sekondes na die hele gedoente opgebring is nie - daai bietjie antibiotika lyk darem of dit help. :-) Gisteraand was 'n baie beter nag! My wereld is 'n soveel beter plek as my beste maatjie in die omtrek is!

Darem maar snaaks hoe reuke herinderinge terugbring? Ek dink ek het laas Ponstan en yskas-antibiotika geruik toe ek nog die kleine pasient was. Is net seker ek het nooit my ma so laat suffer met die medisyne gee nie - ek het mos altyd alles baie mooi gedrink, ne Ma? ;-)

6 maane 3 weke

Tuesday, November 11, 2008

My eerste sippy cup!

Franco drink deesdae sy bottel, maar dit gaan maar baie langtand. Die klein meneertjie verdra slegs Pigeon botteltiete en slegs formulemelk in 'n bottel. Geen water of borsmelk uit 'n bottel vir hom nie! En moenie eers probeer om enige ander botteltiet as Pigeon te probeer nie - geen Nuk, Avent, Baby Club of enige iets anders werk vir die fynproewer nie.

Die klinieksuster wil graag he hy moet meer water drink, en die skooltjie is gretig dat Seuna sy eie bottel begin vashou, maar Franco doen dinge op sy manier en op sy tyd :-) Vanaand het ek op die ingewing van die oomblik besluit om die sippy cup nader te trek. Het die bekertjie eers net met water vol gemaak want ek was seker Boeta sou dit net rondswaai en als bemors sonder om iets te drink. Was ek verbaas toe hy nie net die bekertjie mooi vashou nie, maar ook so ewe 'n hele paar slukke water drink!

Wat is die speelding? Nes Ma gedink het, word die bekertjie met gutso rondgeswaai...
Maar ek het begin regkom toe Mamma my op haar skoot tel en help om reg te mik. Amper daar...


Sjoe Mamma! Ek weet jy wil op die blog spog oor hoe mooi ek die bekertjie vashou en selfs die water drink, maar die flash is bietjie erg!
As ek geweet het dit sou so goed afloop, sou ek vir Gert gewag het om huis toe te kom. Dis nogals 'n uitdaging om 'n wriemelende baba op die skoot te hou, te wys hoe werk die bekertjie en nog 'n kamera te hanteer! Maar fotos moes ons he :-)
6 1/2 maande

Sunday, November 9, 2008

Konstruksie-ingenieur

Ek dink daar is te veel ingenieursbloed in hierdie seuntjie se are! Nes sy pa, oom en oupas moet Boeta alles inspekteer, en die limits toets van enige iets. (Hy is bv baie meer geintresseerd in sy swaaitjie se hoogte-verstellingsmeganisme, as in die eintlike speelgoed voor op die skinkbordjie). Vroeg Sondag-oggend was dit die speelgoedraam se beurt...

Wie wil nou met die speelgoed speel as jy die hele raam kan rondskuif aan sy poot? (En dan stom verbaas wees wanneer die hele kontrapsie omval)

Net gou eers die boumateriaal inspekteer


Ha! Net hier is die fout - maar dis niks wat 'n bietjie timmer nie kan regmaak nie
Ps - Verskoon tog maar die frokkie. Die fotos is voeg Sondag-oggend (4h45!) geneem toe Boeta nie meer wou slaap nie, en daai tyd van die oggend het niemand nog lus om te lol met oulike kleertjies nie. :-)
Ps2 - Sou dit nie great wees as ons almal elke oggend met soveel entoesiasme kon wakker word nie? Seuna se glimlaggies maak selfs die vrek vroeg opstaan die moeite werd - ek kry skoon skaam as ek dink hoe dikwels moet my Vader in 'n grumpy gesig vaskyk as ek opstaan.
6 maande, 2 1/2 weke

Saturday, November 8, 2008

Oulike goedjies wat Franco deesdae doen

Ons het nog nie kon fotos kry van al die oomblikke nie, maar ek is bang as ek dit nie nou neerskryf nie en ons kry nooit 'n foto nie dan gaan ek dit vergeet. :-)

* Franco is 'n opgaarder van speelgoed. Hy sal dikwels op sy magie op die speelmat le en met sy twee armpies alle speelgoed in sig bymekaar maak. Op die ou end speel hy nie regtig met een ding nie (behalwe om alles groot-oog aan te staar) en le so half bo-op baie van die speelgoed - kan nie dink dat dit gemaklik is nie. :-) Le hy weer op sy ruggie op die mat, kry mens hom dikwels met 'n speelding in elke hand, en dan skop-skop die voete ook nog na speelgoed. Als "rattle and shake" en tussendeur lewer Franco ook nog deurlopend kommentaar!

Franco hou voorraadopname van sy speelgoed

* In die bad het die vreeslike geskoppery vir eers 'n bietjie afgeneem. Dit lyk nou eerder of die fokus is om soveel as moontlik badspeelgoed te "vang" in die hok tussen sy twee beentjies en die bad se rand.
* Al is hy so groot opgaarder van al die speelgoed, het hy fase waarin daar duidelike gunstelinge is! Die week is dit sulke deurskynende plastiekballe waarin daar sulke blink goedjies is wat fladder. Tot op hede, kon hy al mooi speelgoed vashou maar het gesukkel om 'n ronde voorwerp te "grip". Die week kon hy die balle met een handjie begin vashou, en hy was SO trots op homself! Die balle kan dryf ook, so dit wissel tussen op die speelmat of in die bad. Gisteraand het hy die een bal in die bad beetgekry, en so onder die arm vasgeknyp. Al die fokus was op sy speelgoed in die "hok", maar die bal moes onder die armpie vasgeknyp bly. Sou die balletjie laat val word, word die bewaking van die ander speelgoed eers gestaak todat bal weer op sy plek is. Dan is daar van nuuts af begin om die speelgoed te "vang".
Kyk Mamma! Twee balle gevang!

* Franco hou van hop! Ons het 'n joga oefenbal in die huis, en ons doen gereeld met Seuna oefeninge daarop om sy spiertonus en balans te verbeter. Ons Blou-oog het egter nie veel trek vir die stadige hop-hop sirkelbewegings soos deur die arbeidsterapeute gedemostreer nie. Hy gebruik veel eerder die bal soos 'n trampolein en spring-spring self met sy beentjies daarop (Ek moet net die bal vasknyp tussen die kniee anders trek die bal doer) Groot bederf is as ek of Gert hom so sittende op die bal vashou en hy kan hop. Hoe woester hoe beter.

* Franco begin Waar's hy?-Daar's hy speel! Sy hele gesig glimlag sommer saam as hy jou weer "kry". Dis mos om 'n Ma se hart te laat smelt...

Daar is Franco!

6 1/2 maande

Monday, November 3, 2008

Martelize se doop

Martelize is Sondag-oggend gedoop. Sy was 'n stroopsoet baba wat regdeur die hele seremonie geslaap het, en niks eers gehuil het toe die Dominee water op haar kop drup nie! En deur die hele teepartytjie en als was sy so rustig en ontspanne! Hierdie tannie is sommer BAIE trots Die ster van die dag in haar dooprok. Lyk sy nie te fraai nie?


Niggie en nefie (Franco is mal daaroor om aan Martelize te raak - hy kan hom verkyk aan haar!)



Tel ons op! Tel ons op!


Ai man! Dit was so spesiaal, en het my sommer terug gevat na die dag toe ons vir Franco ingeseen het, en Martelize 'n skrale 12 daggies oud was! Die tyd vlieg darem maar so vinnig...

Jesus, die tyd vlieg so vinnig en daar is soveel kosbare oomblikke met die kleingoed saam. Maar ek hoop ek word gespaar om eendag die grootste van die groot oomblikke saam met my kind te mag beleef, en dis die dag wat Franco (en Martelize!) vir U sal kies om saam met U journey. Gee asb dat hulle inseening/doop meer sal wees as net 'n groot dag met mooi kleertjies aan, en dat hulle eendag die beloftes wat ons as ouers gemaak het verder sal vat, en self kies om Koningskinders te word. Dankie dat U vir elkeen van ons, groot en klein se sondes gesterf het.


Franco - 6 maande 2 weke

Martelize - 3 maande 1 week


Lee-Anne word twee jaar oud!

Saterdag-aand was dit Franco se kleinniggie se tweede verjaarsdag. Lee-Anne is die jongste kind van Peter en Onja. (Onja is Gert se niggie aan vaderskant). Ek leer baie "tricks of the trade" by Onja, en ons is maar te dankbaar vir al die hand me down speelgoed en klere!

Lee-Anne is een skattige bondeltjie energie wat haar verjaarsdag vreeslik geniet het.
Die verjaarsdagmeisie (Die pleister op die arm is omdat sy haar knie gestamp het, maar op 'n pleister op haar ARM aangedring het om die eina beter te maak)


Geskenke oopmaak is soveel lekkerder as mens die papier maar kan skeur! (En na die tyd speel hulle lekkerder met die papier en bokse as met die eintlike persente ne)

Franco wonder waaroor die bohaai gaan. (Toemaar Boeta, een van die dae is dit Kersfees en dan sal jy gou-gou leer van die wonder van persente!)

6 maande, 2 weke

Raai waar was ons? En raai saam met wie?

Gert moes 'n paar dae verlof neem voor einde Oktober anders sou hy dit verbeur. Ek het toe ook verlof ingesit, en ons het toe vir Oupa Frans en Ouma Elna genooi om by ons te kom kuier! Die sterre van 'n oupa en ouma het al die pad met die bus gekom!
Hannes het toe ook verlof ingesit, en ons Dieretuin uitstappie kom meemaak. (Na Sandvlooi se vertelling was ons ook lus om te gaan) Groot pret! Veral toe tannie Thelwyn en Martelize ook nog saamgekom het!
Die uitstappie het wonderlik afgeloop, ten spyte van die warm son. Franco is nog bietjie klein, maar het wel van die diere (flaminke! apies! papegaaie!) wat die regte hoogte was en genoeg beweeg het groot-oog aangestaar. Te cute vir woorde!
Ons prossesie met die twee babawaentjies het natuurlik ook heelwat aandag getrek. Gelukkig was altwee babas stroopsoet, en kon ons te lekker met hulle spog! (En nee - ek en Thelwyn is nie 'n tweeling nie. En die enderste kleur T-hemde was nie beplan nie!)


Sonblok aan en hoedens op die kop! Oupa Frans, Ouma Elna met Franco, Dorette (Franco kyk net flaminke) Gert en Franco kyk vir die apies Thelwyn met Martelize

Doekparade in die buitelug!

Dis lekker in die Dieretuin! Oom Hannes en Franco

Martelize is min beindruk nadat Franco haar rateltjie gesteel het.
(Sussie, jy moet maar vinnig grootword - anders gaan hierdie nefie van jou al jou speelgoed steel. Sy mamma kan nie altyd gou genoeg keer nie, so jy moet hom maar beginne vasvat hoor!)
Twee ewe groot apies! :-)
Martelize was nog 'n bietjie lugtig, maar ander apie was vreeslik ingenome met Martelize! Hy het omtrent haar voetjies en hande teen syne gemeet en probeer uitmaak wie is die grootste. Hy dink seker ook sy is die pragtigste dingetjie!

Wie lyk die moegste? Ouma Elna, Oupa Frans en Franco


Stokflou geloop na 'n lang dag. Oupa en kleinseun, Gert, Hannes en Thelwyn
Dit was so spesiaal om hierdie "eerste" met Franco se ander Oupa en Ouma te kon gedeel het. Hulle bly gans te ver, en die paar keer 'n jaar is heeltemal te min! Telefoonkuiers is mos maar nie dieselfde as die ware Jakob nie. Dis altyd super lekker om hulle hier te he. :-)
6 maande, 1 week