baby
Lilypie First Birthday tickers

Thursday, October 30, 2008

Speelgoedkaskanades!

Franco het 'n klomp nuwe speelgoed ontdek die week!

Dinsdag was dit 'n koerant wat mens kon frommel en skeur Wie loer hier uit? (Ek moes net keer - want Boeta wil als in sy mond druk!)
Die voetjies het gedeel in die pret
Woensdag was dit die tupperbakkie waarin die spaar foppie gehou word
Kyk al my ander speelgoed, maar ek wil eerder met die bakkie speel

Dis 'n anderste rateltjie die!

6 maande, 1 week

Sunday, October 26, 2008

Raai wie bad nou in die groot bad?

Franco pas nog net-net in sy bababadjie, maar die beentjies skop-skop so dat als naderand sopnat is. So van die week af, is dit bad in die groot bad vir die klein prins!



Badtyd is vet pret!
Sal die tandjie beter voel as ek die handdoek kou?

Wat gaan daar aan?
(Mens moet deesdae jou storie ken as jy doek omruil en klere aantrek - Boeta is 'n wikkelwurm wat die wereld vol rol)
6 maande 5 dae

Curriebeker senuwees!

Franco het gister sy eerste Curriebeker eindstryd beleef! Oupa Jan (en die res van ons!) geniet nogals sy rugby, en gister het ons gister het ons op die plaas gaan kuier om saam met Oupa ons span te ondersteun. Ongelukkig het die Blou Bulle 9 - 14 teen die Sharks verloor, maar dit was nogsteeds 'n lekker dag en kuier!
Oupa Jan en sy Bulletjie (Kyk Franco se rugbyballetjie!)

Aww, aww! Die spanning is eens te erg...

Sjoe! Uiteindelik verby! Ons klein drool machine :-)
6 maande, 3 dae

Die ideale "teething toy"!

Ek,Thelwyn en my ma was gister by Karin se ooievaarstee. Karin en Thelwyn is ewe oud, en ons was vir 17 jaar lank bure gewees! Ek, Thelwyn en Hendrik en Karin en Adriaan het so saam-saam grootgeword. :-) Dit was so spesiaal om hierdie vreugdevolle afwagting na Marko se klein boetie met haar te kon deel.


Franco en Martelize was ook saam, en was albei die soetste, vriendelikste babatjies wat 'n mamma maar voor kan wens. (Dit moet seker die goeie gene wees!). Franco stoei al 'n rukkie met sy eerste tandjie (hopelik die keer regtig-egtig!) wat moet deurkom, en het besluit Martelize se hand is net die regte ding om aan te kou. (Gelukkig is daar nog nie 'n tandjie wat gesny het nie - anders sou sy verseker geprotesteer het!)



Mmm...sal ek my eie hand gebruik?


Kom ek probeer twee hande gelyk...nee...wil nie lekker werk nie..



Het hom katvis! Net die regte grootte, en niks seer nie!



Sheez! Al daai vroumense! Baby showers is harde werk vir 'n klein prinsie
Franco 6 maande 2 dae, Martelize 12 1/2 weke

6 Maande Oud!

Franco was Donderdag 'n halwe jaartjie oud! Wow! Oor nog 6 maande Boeta is jy al EEN!
Hierdie maand het goed beginne - ons roetine van skool, werk & huis het begin vlot, jy het jou bottie mooi begin drink en begin beter regkom met die vaste kossies.
Maar o wee - toe tref die groot siekte ons huisgesin. Eers jy, toe jy en Mamma en net toe ons twee begin beter word toe word Pappa siek! Hier was omtrent omgekrapte magies, loopneuse en gehoesery in die huis. Gelukkig het jy twee ervare oumas wat jou dom ouers kon bystaan met raad en daad (en baie bid!) oor hoe om jou gou-gou weer gesond te kry.
Toe jy eers weer gesond is, toe is die lewe 'n fees! Jy lag en giggel en gesels en is net so oulik - ons wil jou sommer opvreet! Jy het ewe skielik besluit dat jy 'n honger seuntjie is, en kossies is nou 'n groot deel van die dag vir jou. Die pap is verseker beter as die butternut en groenboontjies, perskes is ok en pere is een groot groot bederf. Jy klink nes 'n motorkar soos wat jy ontevrede geluidjies maak as ons te lank vat om weer te skep en die volgende mondvol te voer.
Boeta boet, Goggabie, Seuna, Franco-Frank, Pa se bieliebam en Ma se Hart-se-punt - ons is SO SO lief vir jou! Elke dag kan ons die Here nie genoeg prys vir die wonderwerkie wat JY is nie. Jy is so perfek geskape, en is so 'n vriendelike seuntjie - dis 'n voorreg om jou ouers te wees. Ek en Pappa bid gereeld dat ons aanhou by ons Pa sal leer om net nog beter ouers vir jou te wees, en jou hopelik eendag na Hom toe kan lei.

6 maande oud vandag!

Kyk hoe groot word ek!

Speelgoed is soveel pret!

Monday, October 20, 2008

En Franco se naweek by Ouma en Oupa?

Vir die wat eerder fototjies van Franco as ons wil sien :-)

Kyk bietjie hier wat het Ouma Miekie als geskryf oor sy naweek.

Sunday, October 19, 2008

Groot Vyf!

Gert se werk het ons vir die naweek uitgenooi na 'n la di da lodge op 'n privaat wildresevaat. Ons is omtrent bederf met heerlike kos, uitstekende diens en wildbesigtigingsritte uit die boonste rakke! Ons het selfs al vyf van die Groot Vyf gesien!

Al nadeel? Franco was nie genooi nie, en moes die naweek by Ouma Miekie en Oupa Jan kuier. Ek weet hy kon nie vra vir meer toegewyde en liefdevolle oppassers nie, maar ek het my doodverlang, en kon Sondag nie vinnig genoeg by die plaas uitkom nie.

Aan die positiewe kant, het ek en Gert heerlik saamgekuier en pret gehad. (En ons eerste deurnag slaap in 6 maande se tyd was hemel op aarde!)

Afrika op sy mooiste
Daar is geen heinings om die lodge nie, en die wild het sommer naby naby kom wei
Saterdag-oggend net buite ons kamer

Sondag op pad huis toe.

Daai miershoop in die middel is eintlik die maanhaar van Koning Leeu. Belowe!
'n Renosterkalfie onder die wakende oog van sy ma. (Weet julle hoe het sulke gesigte my laat verlang na MY babatjie?)

Olifante was volop en pragtig

'n Buffel soek skadu


Luiperd se kind uit op jag! Slegs 'n entjie verder was 'n troppie ribbokke wat sy bekruip het. Die hoogtepunt van die naweek! (Sy wou nie haar move maak met ons in die omgewing nie, maar dit was vreeslik opwindend die ruk wat ons doodstil vir haar gewag het om op te spring)

Dankie Here vir so 'n spesiale bederf naweek! Dankie vir 'n Ouma en 'n Oupa wat lekker naby ons bly, en nog kans sien om 'n kleinseun 'n hele naweek lank te bederf met hul liefde. En Here Wow! U skepping is wondermooi!