Vroeg-vroeg begin die bederf al. Om saam met Pappa te bad is groot groot pret!
Franco was nie so seker van die (vuil!) springkasteel nie Die groot trampolien was meer na Boeta se smaak
Hallo blogland! Ek raak nog gewoond aan die glyplank ding!
Die eendjies op die dam was nie vir lank interessant nieFranco was maar eers lugtig vir die boerbokke
Vinnig is daar maatjie gemaak, en die klein Prins vertel laaaang stories aan sy nuwe vriend.Seuna se benadering tot die boerbokke was vir ons skreeusnaaks. Aanvanklik het die hele lyfie skoon geruk van spanning. Toe ons hom wou wegvat (om hom 'n skrik op die lyf te jaag is die laaste ding wat ons wou he!), toe protesteer Meneertjie luidkleels. Skrikkerig of te nie, Franco het met alle mag vorentoe gebeur - aan die bokkie wil hy vat! Dit het so paar probeerslae gekos, maar hy het dit ten einde laaste reggekry - en toe is hy vreeslik trots op homself. Ek was skoon aangedaan - my babatjie raak by die dag meer 'n dapper seunskind, en wil al klaar die wereld begin verower!
Op die zebra skoppelmaai - Franco was bietjie deurmekaar, en het heeltyd brrr-brrr geluidjies gemaak. Spesiaal vir Oupa Jan - Oupa se bulletjie op 'n Blou Bul motorfietsie. (Natuurlik toe is die broem-broem geluidjies skoonveld, en Boeta vreeslik geamuseerd met sy Pa wat so staan en broem-broem..)
Saterdag-aand was ons plaas toe vir Oupa Jan se verjaarsdag-vieringe. Wat 'n dag! Eers was daar 'n dief wat in die bosse kom wegkruip het, en al die mans in die omgewing cowboys-en-crooks (Pa Jan se woorde) gespeel het om hom te probeer vang. Toe net voor ete, sien Thelwyn 'n slang in die spaarkamer - die kamer waar die babas moet slaap! Toe moes al die mans weer probeer om die slang te vang. Ek was baie bly dat ek nie 'n man is nie - sal baie eerder slaai maak in die kombuis! Gelukkig was almal darem ongedeerd - al was groot furstrasie toe die dief wegkom, en die slang nie opgespoor kon word nie.
Terwyl daar slaai gemaak is, het Franco en Martelize onder Gert se wakende oog met die honde gespeel (Martelize haal haar nefie in - hulle tweetjies is nou al amper ewe groot!)
Ma Miekie het baie moeite gedoen met die ete - en na al die drama van die dag was die Hartjie-my-liefie hoenderpastei 'n groot bederf! Dankie Pa dat jy verjaar het, en dankie Ma vir al die lekker kos! Dit was lekker om julle op die dag van liefde ook te kon liefhe!
Al die girls was in rooi opgetof vir die spesiale ete! Is Juffroutjie nie te skattig nie? Martelize en haar nefie was albei die laaste week of wat woes verkoue, en het te heerlik hulle mammas aangesteek - verskoon tog maar die waterige ogies!
My liefie-liefie kind, ek hoop jy het jou eerste Valentynsdag sommer baie geniet! Ek hoop jy sal sommer op elke Valentynsdag omring wees met mense vir wie jy lief is, en wat jou liefhet. Maar mag jy vroeg-vroeg reeds besef dat liefde soveel meer is as die goedkoop ding wat die wereld daarvan maak: "God is liefde; wie in die liefde bly in God en God bly in hom. Hierin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wereld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus.. "1 Joh 4:16,17
9 maande 3 weke