baby
Lilypie First Birthday tickers

Sunday, August 31, 2008

More is D-dag

More is my kraamverlof amptelik verby :-( Ek kan skaars glo dis 4 1/2 maande wat ek weg was van die werk - dit voel soos 'n oomblik!

Ai Boeta! Waar kan Mamma begin om dankie te se vir die laaste paar maande? Ek geniet jou so-so baie, en staan verstom oor hoeveel jy al gegroei en ontwikkel het. Die dag toe ek jou (uiteindelik!) in lewende lywe ontmoet het, was jy 'n brose, kleine pasgebore seuntjie; nou is jy al 'n yslike bondel baba-energie vol persoontlikheid! In die begin het jy net gevoed en geslaap, nou is jy AL hoe meer wakker en spelerig. Ek en Pappa dink gereeld jy kan nie nog ouliker word as wat jy reeds is nie, en net die volgende dag verras jy ons met ietsie nuuts wat maak dat jy net nog dieper in ons harte inkruip.

Soms dink ek, ek sien 'n glimps van Pappa of myself in jou, ander kere verras jy my met ietsie heel onverwags - 'n handgebaartjie, uitdrukking of laggie wat net aan jou behoord! Hierdie unieke Franco dinge (soos dat jy amper nooit stilsit nie en heeltyd wil perdjie ry, of hoe jy sug van lekkerkry as ons jou in die bad tel of die kyk in jou ogies as jy hard konsentreer of vreeslik opgewonde is) maak jou super-spesiaal! Dis die Skepper se vingerafdruk op jou - bewyse van hoe kunstig en kreatief Hy jou aanmekaar geweef het toe jy nog in Mamma se magie was.

Dalk is dit gepas dat dit more lente-dag is. Die eerste dag van 'n nuwe seisoen in ons albei se lewens - Mamma as 'n werkende mamma, en jy as 'n oulike lid van die Vissieklas. My hart is maar hartseer, want ek weet nuwe seisoene kom nie sonder groeipyne nie en elke nuwe ding bring noodwendig 'n afskeid van sekere ou dinge saam. Maar as ons nie los dit wat agter is nie, dan mis ons uit op die blessings van die nuwe seisoen. Mamma gaan baie verlang, maar hoop jy speel so lekker met die maatjies dat die daggie sommer vinnig verbyvlieg! Ek is lief vir jou my kind...

Friday, August 29, 2008

En nou is ons vier...

darem net vir die aand! Thelwyn en Frans moes na 'n troue toe gaan, en dis vir ons heerlik om fyne Martelize by ons te he vir die aand. (Sy is so skattig! En so fyntjies! En so lig!)
Dis heel raar om 'n seun en 'n dogter in die huis te he - ek & Gert het 'n idee gekry oor hoe dit sou wees om 'n tweeling te gehad het. Het darem goed gegaan - na 'n rondte melkies, winde uitvryf en doeke omruil het ek en manlief lekker gele en DVD kyk elkeen met 'n bababondeltjie op die skoot. (Kort net nog 'n paar hande - wie moet Hot Choclate maak as altwee babas so lekker doe-does?)
Dit was bietjie dol toe altwee babas gelyk wakker was, maar hier is darem 'n ou fototjie van die slapende skoonheid...

Eerste skooldag!

Met die dat ek Maandag weer moet terug werk toe, het Franco gister en vandag vir so paar uurtjies by die skooltjie gaan kuier.
Voor die tyd: so koel soos 'n komkommer in een van sy Ouma Elna truitjies
(Sy borslap se - Thank heaven for little boys - ons hart se punt van die hemel af gebid!)

Dit was baie swaar om hom daar te los! En nee - ek het nie gehuil nie, maar dit was maar hard sluk aan die knop in my keel. (Franco het sommer dadelik begin koer vir die juffrouens, en min gespin gewees met Ma wat skoon tranerig is) Die skooltjie se personeel het voorgestel ek moet erens 'n koffietjie of so inwerk, en 'n bederf-dingetjie vir myself koop. Kon my egter nie keer nie, en het die heel oggend in die winkels se baba-afdelings gebrowse, en op die ou end speelgoed en klere vir Boeta gekoop...

Na die tyd: Wat is nou so erg aan skool Ma? Ek is so gelukkig as wat kan kom!

Franco was erg besig om homself te verwonder aan die ander babas (3) toe ek daar aankom, en het nie eers besonders bly gelyk om my te sien nie. Nie goed vir my ego en verlangende hart nie, maar hopelik is dit eerder 'n teken dat hy die aanpassing gaan maklik vind.

Boeta was vol geselsies oor sy eerste skooldag!

Ag Here! Maandag is 'n groot dag vir ons gesinnetjie, en ek is maar benoud oor hoe dinge gaan uitwerk. Maar U ken my hart, en U ken my en Gert se drome. Dankie dat ons altyd ons harte by U voete kan kom uitstort, en weet dat U luister. Maak seblief die pad voor ons gelyk, en dat die aanpassing vir ons al 3 glad sal verloop. Dankie dat U ons gehelp het om plek te kry in 'n oulike skooltjie, met personeel wat ons venote wil wees om 'n gelukkige, self-standige seuntjie groot te maak. Maar bowenal Here, is ons grootste gebed dat ons 'n seuntjie sal grootmaak wat U ken en vir U Koninkryk lewe.

18 1/2 weke

Wednesday, August 27, 2008

4 Maande en raai wat!

Nie die beste foto nie - maar kyk hoe sit ons!

'n Paar weke gelede het Ouma Miekie agtergekom hoe sterk Franco eintlik sit as jy hom vashou. Sy stel toe voor ons gaan haal die halfmaan-kussing en kyk wat maak hy. Franco het heel oulik vir 'n paar sekondes in die kussing gesit, en toe omgedons. My mond het oopgehang - my kleine babatjie is vinnig oppad om 'n grote seunskind te word! En 31/2 maande was darem vrek vroeg om al te sit (al is dit net ampertjies, en nog nie sit-SIT nie!)


Natuurlik toe ek vir sy Pa wou wys hoe oulik dit is, wou Woeliekous Franco glad niks weet van stilsit nie. Veel eerder rondwikkel en skop-skop. Ek dag dis die einde van die ampertjie sittery vir eers...


Gister en vandag wou Franco egter meer geredelik stil sit - en kyk nou net! Hy is nog maar baie onvas, en die half-platgevoude pannekoek posisie is nou nie juis elegant nie - maar ons kom daar! Die bietjies-bietjies wat hy op sy eie sit raak al hoe langer (dis nou solank Ma 'n vreeslike song & dance doen om sy aandag af te trek; die oomblik wat hy agterkom jy het sy lyfie gelos dop hy om!) :-)
Dalk werk dit beter met die kussing

Nee wat Mamma! Genoeg is genoeg vir een dag! Kyk eerder vir my somerklere in die Augustus hittegolf :-)

4 maande, 1 week oftewel 18 weke

Franco en sy Oumagrootjie Sara





Met die dat Ma weer moet terug werk toe, en Franco van Maandag af skooltjie toe gaan was vandag die laaste keer in 'n rukkie wat Franco sy self-aangestelde Oumagrootjie Sara sou sien.

Ouma Sara (soos sy verkies ek haar noem) is 'n engel in my lewe wat elke Woensdag haar towerstaf kom swaai en stof en strykwerk laat verdwyn! Ek sou verlore wees sonder my Ouma Sara. Sy is 'n baie groot juweel van onskatbare waarde in ons huisgesin.

Oumagrootjie Sara het met 'n swaar hart afskeid geneem van die klein prinsie in die huis, en is met 'n vol gemoed en 'n paar pas-geprinte fotos huis toe.(Die fotos is vir die spog-slag by die huis) Boeta is werklik geseend met 'n Oumagrootjie wat hom net so lief het as wat 'n bloed-eie Oumagrootjie so kon he!

Dankie Here dat Franco die voorreg het om in 'n multikulturele land groot te word, en te kan leer van hulle. Help ons om altyd die blessing daarvan raak te sien - veral wanneer sommige furstrasies die reenboog bietjie laat verdof! En Here, seen seblief vir Ouma Sara en haar gesin.

Tuesday, August 26, 2008

Eerste keer saam op die plaas!


Thelwyn met Martelize, Dorette met Franco
Vrydag-aand was Oupa Jan en Ouma Miekie se twee kleinkinders die eerste keer saam op die plaas. En was Oupa en Ouma nie trots nie! (Al het die nuwe geslag ons op 'n stadium enterain deur saam-saam 'n deut vir ons te "sing") Familie-etes is nou 'n heel ander gedoente...
Franco - 1 dag voor 4 maande, Martelize 3 1/2 weke

Funny bunny Franco!

Tannie Thelwyn en kleine Martelize het Vrydag-oggend vir ons kom kuier (yeah vir die een ou maandjie wat ons kraamverlof oorvleuel!)

Ek en sy (en die kiddos) het ietsie gaan nuttig by 'n kwekery se teetuin. Die oomblik was vir my bittersoet, want die enigste ander keer wat ek al daar was, was saam met Gert so +- 'n jaar gelede. Daai Saterdag-more was ons amper die enigste kinderlose paartjie daar (die teetuin kyk uit oor 'n speelparkie, en dus is daar heelwat ouers wat ietsie nuttig terwyl hulle kyk hoe die kleingoed speel). Daardie dag het ons ons voorgeneem dat ons eers weer sou gaan as ons ons eie kleinding het, en nou is ons al daar!

Energeval, na die teedrinkery was beide Franco & Martelize uitgeknikker en kon ons nie vir hulle die klein perdjies, eende ens. gaan wys nie. Ook maar goed so, want ons moes huis toe wikkel voor voedingstyd!

By die huis het ons altwee gevoed, en ek is op boontoe om die prins se doek te ruil. Toe ons afkom, was Martelize besig om al hikkende die windjies uit te stoei. Daar moes iets besonders aan die fyne newbron ie-ie hikkies gewees het, want toe ek en Boeta langs hulle plaasneem, het Franco een kyk na sy niggietjie gegee en uitgebars van die lag! Dit was die heel eerste keer dat ek hom hoor lag het, en die uit-die-maag uit laggies was super-spesiaal!

(Hoop maar Martelize is te klein om te onthou van haar ongeskikte nefie wat die heel eerste keer wat hy haar behoorlik raakgesien het, in haar gesig vir haar gelag het!)

Dankie Here dat U ons bless met laggies wat die dag sommer ophelder! Dankie dat U ons geskape het met 'n humorsin, en dat ek en my seuntjie dit sommer vroeg-vroeg al kan deel. En Here, as dit vir U so lekker is om my te hoor lag as wat dit vir my is om Franco te hoor, sal ek regtig probeer om meer gereeld uit my maag uit te lag. :-)

(1 dag voor 4 maande)