baby
Lilypie First Birthday tickers

Tuesday, January 13, 2009

'n Alles in een oor Franco

Sjoe! Ek raak agter! Daar is so baie stories om te vertelle, maar met die dat ons laasweek heelweek op die plaas gebly het, en die naweek propvol 4! verjaarsdagpartytjies was kom ek nie by alles uit nie. Sal maar so stuk-stuk vertel...
Franco
* Die kleine prinsie het al 3 tandjies! (En siestog - nog 2 wat dreig om te sny) Ons wenner (8 maande, 1 week) was 'n middeltand regs-onder wat die 30ste sy verskyning gemaak het. Sy maatjie net links van hom was 'n kortkop agter en het die nuwejaar vir ons ingelui. Die boonste regterkantste middeltandjie was 'n persent vir ons huweliksherdenking die 8ste Jan. Ons wag nog vir links-bo, en onder regs is daar 'n knobbel van 'n baie seer oogtand? (Is duidelik nie 'n tandarts nie - so die benamings is maar bietjie krom en skeef)
Boetman trek maar swaar met die tande saam, en dis 'n gedoente om in die warm weer 'n seuntjie te troos wat geliefie wil word maar geirreteerd raak as ons mekaar sopnat sweet. :-) Tandeborsel is nog 'n uitdaging vir hierdie nuwe ma met 'n onwillige seuntjie wat daai mondjie styf toeknyp en woeste gesigte trek, maar ons raak darem elke rondte bietjie meer effektief!


Franco se eerste tandeborsel

Elke nuwe tandjie laat hom net meer en meer soos 'n klein seuntjie lyk. Wat het van ons babatjie geword? Dit was dan net gister wat ons huis toe gekom het van die hospitaal!

Ek glimlag groot so tussen my Kerspersent, maar my tande sien julle nie! (Kyk net hoe lank word my hare - dit krul al skoon in my nek)

* Franco is mobile! (En was op 8 maande, 1 week) En het 'n sesde sintuig om reguit te mik vir die dinge waarmee hy nie mag speel nie. :-) Elke dag vind ons net nuwe dinge en hoekies wat weggepak/opgeskuif/toegesluit moet word. Die klein klitsie hou sy ouers (en sy Ouma Miekie) op hul tone!

Ons het die 30ste Des vir Franco so oulike elektronies hondjie gekoop om hom te help kruip. Dis toe nou al weke wat Franco mik-mik om te kruip, maar nie lekker agter die kap van die byl kon kom nie. Die woef is aan die duur kant vir so na Kersfees persent, maar was hoogs aanbeveel deur van my vriendinne (as jy hom tap dan "loop" die hondjie so paar treetjies vorentoe op die maat van musiek. Dan stop die hondjie en blaf vir jou om nader te kruip sodat jy hom weer kan tap en dan "loop" ons weer vorentoe). Ons wou kyk of ons nie 'n einde kon maak aan Gogga se furstrasie met die gesukkel om te kruip nie, en het toe maar 'n persentjie ter viering van sy eerste tand gekoop. :-)

Die hondjie was onmiddellik 'n reuse sukses! Franco was BAIE ingenome met die nuwe speelding, en het die hele dag agter die woef aangesukkel in 'n mengsel van seil op sy magie en regtig-egtig kruip. Ons was baie in ons skik met ons oulike aankoop en het fotos vir die vale geneem, totdat Franco na so 2 dae agtergekom het dat as jy die hondjie tap en dan dadelik aan sy stert gryp, die musiek nog speel maar hondjie nerens kan gaan nie en jy dus nie die moeite te doen om agter hom aan te kruip nie. :-)

Franco se eerste kruip! 30 Des 2008

Franco is maar 'n lui kruipertjie as die motivering nie reg is nie, en veral as hy weet jy kyk vir hom. Draai egter jou rug (of wees geeky soos ek en Gert en loer hom skelmpies af), en hy kan blitsig klaarspeel met die hele lengte van die vertrek.

Goeie motivering sluip in enige iets met drade (laptopkoorde, telefoonkoorde, Ouma se multiprop), enige iets waarmee hy nie mag speel nie (soos Pa se skroewedraaier wat per ongeluk geval het) en Martelize! Franco is versot op sy fraaie niggietjie, en sal hemel en aarde beweeg om by haar uit te kom.

* Sy eerste dada! Franco is al lank vol geselsies, maar ons sukkel maar nog om te verstaan. :-) Die laaste week of wat het hy egter begin dada en hallo se! Sy pa is nie bietjie trots nie, en terg my genadeloos omdat mamma nog glad nie sy verskyning gemaak het nie. Ek reken dis net goeie geluk aan sy kant - ons het dan eintlik pappa probeer leer! Maar dit lyk tog asof Franco Gert bedoel as hy dada se, want hy kyk elke keer direk vir hom. Die hallo is nog bietjie lukraak,maar hy geniet dit om dit vir al sy speelgoed te vertelle. (Ek weet, ek weet - nou kan ons nie wag dat hy begin praat nie, en oor 'n jaar of twee wens ons hy wil net bietjie stilbly!)

* Staan is meer pret as sit! Franco het die vakansie agtergekom hoe lekker dit is om te staan en probeer hom nou optrek teen amper enige iets. Aanvanklik was dit baie snaaks om te sien hoe hy sy boudjies oppluk as hy nie wil sit nie, maar dit het vinnig 'n toets geraak vir ons geduld en behendigheid met soveel dinge wat op 'n stoeigeveg uitloop. :-)

Kyk waar staan ek!

Die staan oomblikke van ons dag:
> Stoei om stewige beentjies wat vasskop in die karstoeltjie vas te maak, want hul eienaar wil staan en vir die karre kyk, en niks weet van sit waar hy nie kan uitkyk nie.
> Wees paraat tydens speeltyd, en keer as hy wil optrek teen goed wat nie sy gewig sal dra nie (soos die buigbare boee (arches) van die speelmat, die speelgoedbalie ens). Wees ook naby genoeg om te kan vang as hy baie trots op homself by die bank of koffietafel staan - Franco het nog nie geleer van gaan sit as jy moeg is nie, en gaan reguit van staan na le en sy kop kap teen die grond. :-(
> Probeer Seuna leer van staan, en dan kaplakse boude gaan sit as jy moeg is. Gee na 'n rukkie op as jy agterkom hoe sterk so klein seuntjie eintlik is as hy nie-nou-wil-gaan-sit-nie.
> Pak sy badgoedjies uit, en stoei om die staande,dansende Wikkelwurm se klere uit te trek en sy doek mid-air af te haal.
> Kry honderd gryshare as Franco die handvatsels in die bad ontdek, en homself uit sy badstoeltjie uit lig. Keer vir 'n vale, kry jouself sopnat en pak blitsig daai skeermes op die bad se rand weg.
> Droog 'n kosbare bababondeltjie af, en begin van voor af stoei met die aantreksessie. Dis nou as jy gelukkig genoeg is om 'n doek aan 'n wikkelwurm wat probeer wegkruip aan te kry sonder om als vol boudjiesalf te smeer.
> Lag maar, stoei verder en se 'n duisend dankies vir ons Pappa vir ons groot geskenk.

* Ek het die jaar maar so vroeg as moontlik begin werk, sodat ek genoeg verlof kan he wanneer Seuna siek word (hopelik nooit, en dan kan ek Des 'n lekker lang vakansie saam met hom he!). Franco was weer in Ouma Miekie se speelskool, en het dit omtrent geniet! Dankie Ouma vir al die oppas en liefde! Ek het die swem, liedjies en jolly jumper jolly baie geniet! En dankie dat Ouma my opgepas het toe my ma-hulle gaan uiteet het vir hul herdenking - hulle het hulle eerste alleen-date gehad vandat ek gebore is en dit baie geniet!

Ai ons liefie-liefie kind! Jy is 'n handvol, maar die harde werk is pret! Ons geniet jou so-so baie en raak net al hoe liewer vir jou soos wat die dae deur ons vingers glip. Dankie dat jy maak dat ons ons grense verbreed, dat jy ons leer van geduld en nederigheid en bederf ons met jou sopnat babasoene en lomp drukkies. Jy is 'n super spesiale seuntjie Franco!

8 - 81/2 maande

7 comments:

Sandra said...

Was nou lekker om al die nuus te lees, Franco word nou regtig groter by die dag. Geniet hom!

Dorette said...

Hy word groter somer so voor ons oe Sandra! Ons geniet hom vreeslik!

Jan and Miekie said...

Ag dit was 'n groot plesier om hom op te pas! Hy was net 'n liefie-diefie - hy weet hoe om baie diep in sy ouma en oupa se harte te kruip! Ek verruil die week vir niks nie! So baie dankie dat julle nie te ver bly nie en gereeld kom kuier!!

Dorette said...

Ons is baie geseend met julle so naby Ma! Soms dink ons aan hoe ampertjies ons in Australie opgeland het, en dan is ons die Here baie dankbaar dat Hy dit so gewil het dat ons maar gebly het - nou hierdie spesiale tyd met julle kan deel.

Mariette. said...

Kan nie glo die karnallie word so gou groot nie. Ons sin is net so oulik maar jong die tyd wil nie stil staan nie. Ek sien hoe jy Franco se tandjies borsel, Shame dit is te kosbaar. My ou asempie doen dit al self, hy het ongelukkig bottel sindroom en dit het die ou tandjies so bietjie vrot gemaak, maar ons kyk mooi na dit sodat dit so lank as moontlik kan hou.

Geniet die woelighied, wanneer hy heeltemal moebiel raak dan gaan daardie woord 'n ander betekenis kry. Ha-ha-ha!!

Lekker week

Charmaine said...

Jinne dis geen wonder jy hou nie by met die vertel nie. Die klein man is besig en ja, dis baie kosbaar Dorette. Ek kan hoor julle koester elke oomblik.. geluk met die herdenking van julle huwelik.

Dorette said...

Sandvlooitjie - die tandeborsel is maar 'n stryd! Maar ek probeer! My ma moes iets reg gedoen het met die tandeborsel saam - nie een van ons 3 kinders het 'n gaatjie of stopsel nie, en ek is haar (en die goeie gene) baie dankbaar daarvoor!

Charmaine - ek moet nog oor ons huweliksherdenking ook blog! (Eendag!) Kan skaars glo dis al 4 wonderlike jare. Dankie vir die inloer!