baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label skooltjie. Show all posts
Showing posts with label skooltjie. Show all posts

Thursday, April 2, 2009

My hart wil smelt...

Daar is baie nuus om te vertelle, maar dis 'n onverwagse dol en hartseer week...

Gelukkig is daar 'n sekere kleinman in my lewe - hy en sy pa laat my hart sommer tjoklits klop!

Meneertjie is 'n klein klitsie en sy nuuskierigheid maak dat Mamma besig bly! As ons nie ons speelgoed die wereld vol ronddra nie, dan pak ons die tupperkas uit of verwoes 'n rol toiletpapier, smyt die arme plant om en of pak ons eie doeksak uit. Die doeksak-storie moet ons deesdae hoog wegbere en nogsteeds mooi kyk anders kom jy eers agter iets is soek as jy dit ver van die huis nodig het (hoog genoeg verander elke dag - om bloot die sak op die bank te tel werk nie meer nie!).

Hoe gaan die Flake advertensie? "One smile (bite), and all resistance crumbles"


Elke dag is ons meer seunskind, en minder babatjie..

Die assistente by die skool se bynaam vir Franco is "The King". Toe die skoolhoof vra hoekom, is die antwoord: "Want hy is die gelukkigste, gemoedlikste, happy-ste babatjie wat hierdie skool selde nog gesien het!"

Is dit moontlik dat jou hart terselfdertyd kan smelt van liefde en bars van trots?

11 maande, 1 week en 3 dae

Sunday, March 15, 2009

'n Maand is in 'n blur verby...

Sjoe! Kan skaars glo 'n MAAND is al verby sedert ek laas opgedatteer het! Dit was 'n besonders woeste maand - die afgelope maand was daar nie een dag wat daar nie iemand in die huis op die een of ander kursus antibiotika was nie. :-( Met die dat dit jaareinde einde Feb was, en dit ons drukste tyd van die jaar is, was ek nie vreeslik gewild met al die siekwees saam nie. As my base ooit hier sou lees - dankie julle dat julle wel verstaan! Ek hoop ek sal gou opmaak daarvoor!

Die lysie van siektes was ongeveer soos volg:
  • 2 x mangelontsteking (Franco en toe Gert)
  • 1 x maagstorie (Dorette)
  • 3 x erge loopneuse en gehoesery wat aflos speel tussen die huismense (ons al drie)
  • 2 x middel-oorontsteking (Franco en Franco)
  • Verskeie fisio-behandelings vir sinusse en siek borskaste (Franco, Gert en weereens Franco)
  • Erge nappy rash ten spyte van al die probiotikas saam met die anitbiotika (darem net Franco)
  • 1 x ge-crashde laptop (Dorette - groot furstrasie! En nog meer verlore werkstyd)
Ons was baie dankbaar vir die humidifier, die nebuliseerder en die Baby-Vac. Sonder die sou slaap nog minder gewees het! (Ervare kollegas het my destyds aangeraai - koop die goete met die eerste verkoue van jou eerste kind. Jy gaan dit ongelukkig meer kere gebruik as wat jy jou aanvanklik kon indink!)

Franco is op die stert-end van 'n tweede rondte antibiotika vir middel-oorontsteking, maar is al baie beter! Ons het uitgebrei van 'n standaard multi-vitamien vir ons elkeen, na 'n omslagtige storie wat Tonsolyt, Respitron, Infantiflora en Barley Green insluit. Hopelik begin al die doepas binnekort vrugte afwerp, en sal ons in die toekoms die antibiotika-trein bietjie minder ry.
'n Lee melkblik maak lekker geraas as jy hom oor die vloer rol...

Ongelukkig was die siekwees seisoen nie net beperk tot ons huis nie - kleine Martelize (Franco se niggie) en haar ouers het net so deurgeloop! Arme Juffroutjie moes glad Vrydag-aand hospitaal toe oor 'n koors wat nie wou breek nie - gelukkig gaan dit darem nou beter. Sterkte Frans en Thelwyn! Ons het baie simpatie en meegevoel! Hopelik is ons oor die hond se stert, en begin dinge nou beter gaan!


Die maand was darem nie net doom-en-gloom nie. Tussendeur het ons te lekker gespeel met ons Rakker, en verstom gestaan oor die ontwikkeling wat so vinnig plaasvind.

Franco help huis skoonmaak

'n Paar dingetjies wat uitgestaan het


  • Die verskyning van Franco se 5de tand! Daar is nou 3 bo en 2 onder (en nommer 6 & dalkies 7 stoei verwoed om deur te breek). Seuna se onsimmetriese glimlag laat ons ook sommer glimlag!
  • Raai wie is mal oor sy swaaitjie?

  • Meneertjie kan vinnig kruip as hy wil! Gunstelinge plekke om na te kruip - onder die (verbode) studeerkamertafel in met al sy rekenaarkabels, onder die pienk bank in die sitkamer (sodat ons ons kop kan stamp as ons probeer regop kom), 'n oop yskasdeur is altyd interessant en die jackpot is die skottelgoedwasser as daai deur durf oopgaan!
  • Mamma het maar gou 'n ongewilde einde gemaak aan heen-en-weer staan en surf met die laaitjie

  • Die pediater wil he Franco moet soveel as moontlik kruip, maar dis moeilik as Aspatatie slegs na die naaste voorwerp waarteen hy homself kan optrek kruip, en dan te heerlik staan en gesels.

  • Goggabie klap nou al hoe meer handjies, en is geniet liedjies waar ons moet handjies klap so baie. Laasweek het Franco so entoesiasties handjies geklap, dat hy homself onbewustelik van die bank weggestoot het en vir 'n paar sekondes op sy eie gestaan het! (Net om met 'n groot kabaal om te dons die oomblik toe ons agterkom ons staan self..)

  • Guilemientjie se eerste blou-oog en knop op sy kop :-( Op warm middae neem die skool die babas buitentoe om in 'n hoekie van die speelterein te sit en speel en te kyk wat die groter maatjies doen. Boetman wil egter altyd eerder met die ouer maatjies speel as met die babas van sy portuur groep (nie dat hy mag nie), en as jy jou oe uitknip dan het die klein Houdini onder jou neus uitgekruip na die groter kinders toe.
    Die nuwe assistent was onbewus van hierdie Franco-geit, en het haar doodgeskrik toe sy sien hoe Franco (wat nog nie kan loop of vas staan nie!) probeer om homself by die klimraam op te hys. Toe sy hoogsbenoud nader storm, toe skrik die Rakker,los alles, en stamp sy kop met die afkomslag. :-(
    Gelukkig ken ons Franco goed genoeg om te weet hoe vinnig hy homself in moeilikheid kan kry, en kon dus die assistent geredelik vergewe. Dis moeilik om altyd betyds te keer!
  • Franco loer al om die kamera om te kyk hoe sy Pappa-hero in die tuin werk. Kyk net die gekneusde linker-oogbank! (Het vergeet om 'n foto te neem om die "guts-en-glory" op sy ergste te wys)

  • Die klouterkabouter het gister weereens sy ondernemingsgees ten toon gestel. Hy is lief daarvoor om by die bank te staan en speel, maar toe wou hy eerder op die bank speel. Aangesien Meneertjie nog te kort is om self op die klim, is die doeksak met 'n gesteun nader gestoot/kruiproller en toe gebruik as 'n trappie om op die bank te kom! My hart het amper gaan staan, en die doeksak is terstond bygevoeg as item #987 van dinge wat hoog weggepak moet word!

  • My kind is 'n opperste platjie, en 'n deel van my hart is benoud oor die grense wat hierdie mannetjie nog gaan toets. Laasnaweek was ons almal vir 'n slag saam op die plaas, en het Franco en Martelize weer al die nuus opgevang. Martelize het die afgelope ruk besluit sy wil nie meer haar foppie he nie, maar was vreeslik geintresseerd in haar nefie se foppie wat aan sy dummy chain vas was. (Sy wou nie die foppie in haar mond druk nie, net eintlik vashou en bietjie van naderby bekyk). Franco was vinnig om die belangstelling op te merk, en het ewe lieftallig sy foppie aangegee. Voor my moederhart te trots kon raak, toe ruk die klein karnallie die foppie weg die oomblik toe Marteliefie haar handjie uitsteek om dit raak te vat. Gedink dis 'n eenmalige gebeurtenis? Nee wat - weer en weer is die foppie met die onskuldigste gesiggie denkbaar aangebied, en weer en weer is die foppie voor die uitreikende handjie weggeruk - tot groot onsteltenis (met reg!) van Juffrou.
    Het solank op aanbeveling Hettie Brits se "Kweek kinders met karakter" aangeskaf en begin opswot oor hoe om hierdie platjie-geid in die regte rigting te stuur. Gelukkig is ons Pa ook altyd daar om raad te gee!
Mnr Besig ondersoek Marteliefie se voet. Een van die min dae die afgelope ruk wat nie een of albei siek was nie
Daar is nog 'n ton nuus, maar dalk moet ons maar eers hier halt roep!

Franco-Frank jy is 'n Goggapatat, en enig in jou soort. Jy leer ons elke dag soveel nuwe dinge - van onsself en van jou! Jy raak elke dag meer en meer jou eie mensie met jou eie maniertjies van dinge doen- jy het al defnitiewe voor- en afkeure en kan dit al goed komunikeer! Jy is 'n wikkelwurm, en jou almal om jou heeldag op hul tone met jou mannewales, maar ons geniet jou so-so baie! Jou laggie (wat deurbreek selfs al is jy baie siek!), oopbek spoeg-soene en dierbare drukkies laat ons harte terselfdertyd smelt van liefde en bars van trots.


Ons hoop en bid dat die gereeld siekwees vir eers bietjie sal minder word - en is dankbaar vir die Here dat jy elke keer so mooi op die medikasie gereageer het en nie verdere komplikasies ontwikkel het nie! Jy was so 'n troopertjie met al die doktersbesoeke, medisyne gee en fisio saam - Mamma is sommer vreeslik trots op jou! Jy raak elke dag al hoe meer seunskind wat die wereld wil verower, en dis 'n voorreg om hierdie pad saam met jou te kan loop!

10 maande, 2 weke

Monday, February 9, 2009

Klaasvakie is duidelik met vakansie

Dankie vir al die goeie wense en sms'e! Ek het Franco Donderdag by die pediater gehad vir sy 9 maande ondersoek, en die se toe die mangeltjies lyk stukke beter! Boeta is geweeg, gemeet, getoets en wat nog als. Die dokter was baie tevrede - beskryf hom net as "klein en fyn". (Dis natuurlik 'n groot verrassing vir almal wat sy ouers ken ;-) Die dokter dag eers dis omdat hy te min eet, maar nadat ek vertel het van hoe gretig Franco sy 3 (groot) maaltye per dag wegsit verklaar dis seker maar omdat Gogga so woelig is. (Die 2 Oumas - hy wou weet of een van sy ouers "woelig" was. Ek het gese ek sal uitvind, maar ons was maar altwee mos stil en bedees of hoe?)

Saterdag was 'n doodlekker dag, en gister is ons na die inseening van klein Pieter Josua. 'n Baie mooi intieme geleentheid, en ons voel geeerd dat ons daar kon wees! Weereens baie geluk Fanie en Terese! Mag Pieter vir julle sommer baie vreugde en trots bring en die man word wat God hom bestem het om te wees. En geluk aan Ousus Stephanie ook!

Franco het Sondag voor ons na die inseening gegaan het, 'n lekker oggendslapie gehad en was baie vrolik by die partytjie. Hy was so geesdriftig oor die storie, dat ek ons tweetjies 'n wyle moes verskoon - Franco gesels dan harder as die pastoor!

By Pieter se inseening - Franco en Marli (25 maande) trek tou oor 'n speelding. Franco mag "klein en fyn" wees, maar hy het 'n baie sterk willetjie en 'n sterk genoeg arm gehad om die "veldslag" te wen.

Met die vreemde plek, en belangriker nog al die maatjies was daar nie sprake van 'n middagslapie nie. Toe ons sowat 'n uur na sy gewone middagslapie tuis kom was Seuna al op sy tweede asem en glad nie lus vir slaap nie. Het toe lustig gespeel en gekruip tot na aandete, en toe homself gate uitgeniet met badtyd. Die badroetine was soos elke ander aand, met 'n storie en 'n cuddle agterna maar Klaasvakie was skoonveld. Die het sowat 'n uur se harde baklei gekos om hom aan die slaap te kry - net sodat die Prinsie 'n 15 min "power nap" kon vat en daarna weer aan die gang wees vir nog 2 ure. Meneertjie was so vrolik - behalwe vir 1 keer se huil was dit heeltyd speeltyd. :-)


Hallo Mamma! Hoor jy ook hoe die koek-koek twaalf uur slaan? :-) Mnr Vrolik is op sy stukke

Kyk Mamma! Ek het sommer geweet jy gaan my ook verlang, toe staan ek solank op en wag vir jou!
So 1:00 het ek opgegee, en Franco by ons in die bed getel. (Vorige kere het dit gewerk as 'n last resort om die Kabouter aan die slaap te kry). Moenie glo nie, Aspatat het in die donker kiertsregop tussen sy ma en pa gesit en handjies klap en gesels. Toe hy nie genoeg reaksie kry nie, het hy probeer om oor sy ouers (wat gehoop het dat as hulle hom ignoreer hy sou slaap) te klouter. Ek het hard probeer, maar dis moeilik om te slaap as daar kort-kort aan jou hare getrek word, of 'n kleine handjie jou oor ondersoek. Operasie Ignoreer het finaal misluk toe 'n spoegbekkie met 4 tandjies in 'n niksvermoedende Pappa se sy wegsink. Gert het met 'n "Goeie Ouers!" wawyd wakker geskrik en Franco het gekraai van die lag - reaksie was al wat hy wou he. (Een kyk na Gert se gesig het my oortuig om maar eerder stilletjies in my mou te lag :-)

Jy maak verniet of jy my nie sien nie! Ek loer vir jou!

Vanoggend was ons al 3 leep-oog. Toe ontdek ek dat ons jongste gesinslid se neusie weer erg toe is, en dat daar 3 erg geswelde tandvleisknobbels is - waarskynlik die rede vir die middernag kapperjolle. Meneer het natuurlik lekker geslaap by die skooltjie, terwyl sy ouers maar moes staatmaak op die filterkoffie by die werk. Ek het die skool mooi gevra dat hy nie toegelaat word om so baie slaap dat hy vanaand weer wil speel nie, en dit lyk darem of dit gewerk het. Seuna was goed moeg toe ek hom gaan oplaai het, en het net na badtyd aan die slaap geraak! Klink vir my na 'n goeie idee!

Julle moet almal 'n heerlike nagrus en 'n wonderlike week he!

Ampertjies vergeet ek: Woo-hoo! Baie, baie geluk met nog 'n suksesvolle Midmar-myl Ouma Miekie! Ons is vrek trots op jou! Ma maak my net bekommerd - my Ouma Ethie het Fauresmith uithourit gery en gewen nadat sy ouma geword het en Franco se Ouma swem Midmar-myle so amper sonder om te oefen. Gits! Wat sal ek die dag moet doen as ek ouma is? :-)

Monday, December 29, 2008

Raai wie is terug? :-)

Ons is pas terug van 'n heerlike maar woeste rondomtalie kuiery! Eers het ons vir 'n week op die plaas gebly sodat Ouma Miekie vir Franco kon oppas (want sy skooltjie het toe reeds gesluit). Franco het 'n wonderlike tyd gehad by sy Ouma en Martelize, en Mamma kon nog 'n week werk en sodoende verlof spaar vir as kleinman dalk sou siek word. Dankie Ouma Miekie! Jy is 'n ware ster en ons waardeer jou SO SO baie! Lees meer oor Franco se tyd by Ouma op haar blog - hier en hier

Ouma-hulle is die Vrydag al troue toe, en toe het ek saam met Mamma kantoor toe gegaan vir haar laaste dag. Ek weet nie hoekom kla sy so oor werk nie? Kyk hoe lekker speel mens dan in haar kantoor!


Na die kuier op die plaas het ons een slapie by die huis gehad om wasgoed te was, te pak en skoon te maak en toe is dit af Vrystaat toe vir my neef Niel se troue met die mooie Marissa. Die troue was baie spesiaal, en dit was so mooi om 'n getuie te kon wees van hoe twee Koningskinders hulle opnuut aan die Here en aan mekaar toewy. (Elke troue wat ek bywoon bring weer sulke helder herinderinge terug van ons groot dag. Die opwinding van daai dag, en hoe min ons geweet het - the best is yet to come! Ek en Gert het soveel pret as getroudes en dit gee my hoendervleis as ek dink wat als vir Niel-hulle voorle). Ek was maar lui met die kamera tydens die trou-naweek, maar die getroue Ouma was op haar pos!

Een van die min troue fototjies. Pa spot ek sit op Mamma se plek! :-)

Na die Vrystaat kuiertjie het ons die pad gevat na Ouma Elna en Oupa Lappies se huis in die klein Karoo. Daar is so baie nuus om te vertelle van ons kuiertjie daar, dat ek maar so stuk-stuk sal moet opvang!

Tuesday, September 9, 2008

Nuusbrokkies

Sondag op die plaas in ware Franco wikkelwurm styl

* Die spa-treatment Donderdag was wonderlik! 'n Groot bederf en 'n ligpunt in 'n week wat andersinds maar vol moeilike aanpassings was.

* Boeta het Donderdag op 'n bottle strike gegaan - en wou Donderdag en Vrydag amper niks by die skool drink nie. My arme ou seuntjie - hy was SO honger toe ek hom opgelaai het Donderdag, en ons kon nie gou genoeg by die huis kom sodat hy kan voed nie. (Gelukkig was ek so ontspanne na al my masserings dat ek nie heeltemal uitgefreak het nie. 'n Mens is maar bekommerd, en wil so graag he dit moet goed gaan by die skool!)

* Vrydag het hy sy heel eerste formule-melkies in sy lewe gekry na 'n mix-up by die skool. (Ek melk nog elke dag uit vir hom). Weet egter nie of dit tel nie - agv die bottle strike het hy nou nie juis gedrink nie.

* Saterdag het ons ons eerste skoolfunksie gehad! Die skooltjie het verjaar, en ons het plegtig die verjaarsdag gaan bywoon. Franco is nog bietjie klein om die bak-en-brou en boeresport te waardeer, maar dit was amper onwerklik om die peuters dop te hou en te dink by die volgende partytjie is dit ons seuntjie wat so rondhardloop en homself met cup cakes besmeer! Het lekker gekuier met van die ander ouers in Franco se klassie.

* Sondag-oggend in die kerk ontdek ons dat die tema vir die maand "Visse" is. Hoe great is dit? Franco is ook in die Vissie-klas, en dit was vir my asof Jesus net self Sy hand op my skouer sit en se dat als ten goede sal uitwerk (Ten spyte van min slaap, aanpassingstories en bottle strikes!)

* Sondag was ons plaas toe vir my niggie se verjaarsdag. Het net voor die tyd gou bietjie by Ouma en Oupa gaan kuier - na 2 weke was Ouma Miekie se hart vol verlange! Ons het ons kamera vergeet, maar Ouma het baie fotos geneem - die foto hierbo is van Ouma se blog gesteel. Nog fotos en nuus te siene by www.janandmiekie.blogspot.com

* Gister het dit baie beter gegaan by die skool! Dis met vreugde dat ons kan rapporteer dat Franco 10:00 so 70ml gedrink het en 14:00 amper 135ml! Dit wil lyk of die baie gebede en Pappa se gedetermineerde oefening die naweek gehelp het! Prys die Heer! Ek voel soveel beter!

* Ons prinsie kan hande klap - nou nog nie op demand nie, maar sommer so op sy eie vir die lekker! Hy was vanoggend te skattig - le in die bed terwyl hy baie opgewonde vir homself handjies klap en abvvvvv, abvvvvv gesels. Baie trots op homself! (Natuurlik maak hierdie cute-geid amper vir Mamma laat vir werk. Kon myself net nie sover kry om op te hou kyk en klaar te maak vir werk nie!)

* More-oggend is al weer inspuiting tyd. :-( Die vorige kere het dit darem redelik goed gegaan, so ek is hoopvol vir hierdie keer ook maar dit bly darem nie 'n lekker affere nie.

Dink dis ons nuus in 'n neutedop! Hoop dit gaan wonderlik goed met julle almal!

Wednesday, September 3, 2008

Ons oorleef!

Hi! Wou net inloer om te se ons leef darem nog! Om terug werk toe te gaan was ‘n GROOT aanpassing, en ek sukkel maar so deur die dag sonder my gebruiklike middagslapie maar sal seker nog aan die nuwe roetine gewoond raak.

Dis nogals ‘n storie om myself, Gert en Franco in die oggende gereed te kry. 3 sakke – 2 vir laptops, een vir doeke! Dis 2 stelle toebroodjies en 1 stel bottels! (Darem hoef ek en Gert nie spaar klere ens. ook nog saam te piekel nie)

Is met ope arms by die werk terug verwelkom, en dit is lekker om weer almal te sien en die stories te hoor. Ek word selfs more spa toe gestuur! (Ter ere van seketaresse-dag stuur die werk sommer AL die vrouens vir ‘n spa-dag. Een voordeel om vir grotendeels manlike firma te werk, en ‘n groot bederf vir hierdie nuwe mamma!)

Franco gaan baie goed aan by die skooltjie. Hy glimlag en koer vir die ander babas, en het nog nie een keer gehuil met die aflaai slag nie. Die mense daar se hy is te skattig, en hy het gelukkig nie probleem om skielik uit bottels te moet drink nie. Hy was gister en eergister doodmoeg toe hy by die huis kom – het amper Maandag tydens bad-tyd aan die slaap geraak. (Een voordeel van skooltjie toe gaan – ons daaglikse marathon stoei-sessies om hom in die bed te kry was die laaste 2 aande nie in sig nie)

Hy word net te vinnig groot! Die sittery is elke dag stewiger, en ek moes tot vandag op versoek van die skool vir hom tande-medisyne inpak (Lyk my Ouma Elna was tog reg toe sy gese het die tandjies is naby) My ou babatjie – jy is mos nog heeltemal te klein om te wil tandjies kry?

Dankie Here dat dit sover goed gaan! Dankie dat daar wel ‘n einde aan elke werksdag kom, al voel die dag ook hoe lank. En dankie dat U elke minuut van elke dag oor Boeta waak, en dat U daar is, selfs al is ek nie. Dankie dat U die Ultimate Ouer is, en ek soveel by U kan leer. Ek loof U naam!

Friday, August 29, 2008

Eerste skooldag!

Met die dat ek Maandag weer moet terug werk toe, het Franco gister en vandag vir so paar uurtjies by die skooltjie gaan kuier.
Voor die tyd: so koel soos 'n komkommer in een van sy Ouma Elna truitjies
(Sy borslap se - Thank heaven for little boys - ons hart se punt van die hemel af gebid!)

Dit was baie swaar om hom daar te los! En nee - ek het nie gehuil nie, maar dit was maar hard sluk aan die knop in my keel. (Franco het sommer dadelik begin koer vir die juffrouens, en min gespin gewees met Ma wat skoon tranerig is) Die skooltjie se personeel het voorgestel ek moet erens 'n koffietjie of so inwerk, en 'n bederf-dingetjie vir myself koop. Kon my egter nie keer nie, en het die heel oggend in die winkels se baba-afdelings gebrowse, en op die ou end speelgoed en klere vir Boeta gekoop...

Na die tyd: Wat is nou so erg aan skool Ma? Ek is so gelukkig as wat kan kom!

Franco was erg besig om homself te verwonder aan die ander babas (3) toe ek daar aankom, en het nie eers besonders bly gelyk om my te sien nie. Nie goed vir my ego en verlangende hart nie, maar hopelik is dit eerder 'n teken dat hy die aanpassing gaan maklik vind.

Boeta was vol geselsies oor sy eerste skooldag!

Ag Here! Maandag is 'n groot dag vir ons gesinnetjie, en ek is maar benoud oor hoe dinge gaan uitwerk. Maar U ken my hart, en U ken my en Gert se drome. Dankie dat ons altyd ons harte by U voete kan kom uitstort, en weet dat U luister. Maak seblief die pad voor ons gelyk, en dat die aanpassing vir ons al 3 glad sal verloop. Dankie dat U ons gehelp het om plek te kry in 'n oulike skooltjie, met personeel wat ons venote wil wees om 'n gelukkige, self-standige seuntjie groot te maak. Maar bowenal Here, is ons grootste gebed dat ons 'n seuntjie sal grootmaak wat U ken en vir U Koninkryk lewe.

18 1/2 weke

Tuesday, July 22, 2008

Nuwe dingetjies elke dag!


So baie dinge gebeur deesdae! (Sal dat my linkerbrein oorneem en als puntsgewys neerskryf!)

* Ons het toe 'n skooltjie vir Franco gekry (die ene waaroor ek laas geskryf het). Gert het Vrydag weer saam met my gaan kyk, en ons altwee voel die skooltjie is kop-en-skouers bo baie ander wat ons gesien het. Ek dink 1 Sept (en nog baie dae daarna) gaan nogsteeds emosioneel rof wees op my, maar dit maak dit darem soveel makliker om te weet jou kind kry kwaliteit versorging!

* Ons sit op hete kole en wag vir DIE OPROEP dat Franco se niggie hier is! My sussie is voltermyn so dit kan nou enige oomblik gebeur! Kan nie wag nie! (Gert spot my en se ek is amper meer opgewonde oor Babatjie as wat ek was oor Junior. Dis darem nie heeltemal waar nie - maar voor Franco se geboorte was ek opgewonde en bang, nou is ek net opgewonde! ;-)

* Franco was 'n skatlam gisteraand en het van 1am tot 6am geslaap! Dankie my engeltjie - Mamma voel skoon soos 'n nuwe mens. (En vir die wat gewonder het - ja, hy slaap nogsteeds die hele aand in sy eie kamer. Ons al drie slaap nou soveel beter, maar ek mis my oulike warmwatersakkie in my bed. So 'n sagte baba-asempie in mens se nek is darem maar hemel op aarde!)

* Franco skud 'n ratel! Wel, so soorte van. Dis al lank wat Seuna die ratel sal vashou in sy hand (dink dis seker maar nog die infantile gryp refleks), maar hy het nog nooit self besef dat dit hy is wat die ratel skud nie. Die afgelope week het hy egter sy handjies met sy ogies ontdek (nie meer net sy mond nie), en nou kan hy in verwondering staar na die handjie wat die ratel so skud-skud. Nou werk ons net bietjie aan hand-oog koordinasie sodat hy self die rateltjie kan optel en belangriker nog - dat hy sal ophou om homself teen die kop te wack met die rateljie!

* Die klein prinsie se ouma & oupa kom kuier! Gert se ouers bly ver, en kon weens Oupa Frans se gesondheid nie vroeer die trippie aanpak om vir ons te kom kuier nie. Hulle kom egter volgende week, en sal dan hul eerste kleinkind vir die eerste keer ontmoet! Ons sien SO uit - telefoon kuiers is maar nie die ware Jakob nie. Hopelik slaap Seuna goed die rukkie wat hulle kuier, en sien hulle meer van die oulike happy baby wat hy dikwels is, as mr Grumpy (vir wie ons ongelukkig ook soms te siene kry!)

Sjoe! Dink dis die belangrikste so in 'n neutedop. Dankie Here, dat U ons so gelei het dat ons nog in hierdie land bly en nie ver in Australie sit soos wat die plan was nie. Dis so spesiaal om hierdie tye met familie te kan deel! En wees met Thelwyn as die tyd kom - dat die geboorte spoedig en veilig sal afloop en sy nie te veel pyn sal he nie. Dankie Jesus dat U vir ons klein kindertjies uit U hand uit leen - ons sal ons bes probeer om hulle vir die Koninkryk groot te maak!