baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label Siek wees. Show all posts
Showing posts with label Siek wees. Show all posts

Sunday, March 15, 2009

'n Maand is in 'n blur verby...

Sjoe! Kan skaars glo 'n MAAND is al verby sedert ek laas opgedatteer het! Dit was 'n besonders woeste maand - die afgelope maand was daar nie een dag wat daar nie iemand in die huis op die een of ander kursus antibiotika was nie. :-( Met die dat dit jaareinde einde Feb was, en dit ons drukste tyd van die jaar is, was ek nie vreeslik gewild met al die siekwees saam nie. As my base ooit hier sou lees - dankie julle dat julle wel verstaan! Ek hoop ek sal gou opmaak daarvoor!

Die lysie van siektes was ongeveer soos volg:
  • 2 x mangelontsteking (Franco en toe Gert)
  • 1 x maagstorie (Dorette)
  • 3 x erge loopneuse en gehoesery wat aflos speel tussen die huismense (ons al drie)
  • 2 x middel-oorontsteking (Franco en Franco)
  • Verskeie fisio-behandelings vir sinusse en siek borskaste (Franco, Gert en weereens Franco)
  • Erge nappy rash ten spyte van al die probiotikas saam met die anitbiotika (darem net Franco)
  • 1 x ge-crashde laptop (Dorette - groot furstrasie! En nog meer verlore werkstyd)
Ons was baie dankbaar vir die humidifier, die nebuliseerder en die Baby-Vac. Sonder die sou slaap nog minder gewees het! (Ervare kollegas het my destyds aangeraai - koop die goete met die eerste verkoue van jou eerste kind. Jy gaan dit ongelukkig meer kere gebruik as wat jy jou aanvanklik kon indink!)

Franco is op die stert-end van 'n tweede rondte antibiotika vir middel-oorontsteking, maar is al baie beter! Ons het uitgebrei van 'n standaard multi-vitamien vir ons elkeen, na 'n omslagtige storie wat Tonsolyt, Respitron, Infantiflora en Barley Green insluit. Hopelik begin al die doepas binnekort vrugte afwerp, en sal ons in die toekoms die antibiotika-trein bietjie minder ry.
'n Lee melkblik maak lekker geraas as jy hom oor die vloer rol...

Ongelukkig was die siekwees seisoen nie net beperk tot ons huis nie - kleine Martelize (Franco se niggie) en haar ouers het net so deurgeloop! Arme Juffroutjie moes glad Vrydag-aand hospitaal toe oor 'n koors wat nie wou breek nie - gelukkig gaan dit darem nou beter. Sterkte Frans en Thelwyn! Ons het baie simpatie en meegevoel! Hopelik is ons oor die hond se stert, en begin dinge nou beter gaan!


Die maand was darem nie net doom-en-gloom nie. Tussendeur het ons te lekker gespeel met ons Rakker, en verstom gestaan oor die ontwikkeling wat so vinnig plaasvind.

Franco help huis skoonmaak

'n Paar dingetjies wat uitgestaan het


  • Die verskyning van Franco se 5de tand! Daar is nou 3 bo en 2 onder (en nommer 6 & dalkies 7 stoei verwoed om deur te breek). Seuna se onsimmetriese glimlag laat ons ook sommer glimlag!
  • Raai wie is mal oor sy swaaitjie?

  • Meneertjie kan vinnig kruip as hy wil! Gunstelinge plekke om na te kruip - onder die (verbode) studeerkamertafel in met al sy rekenaarkabels, onder die pienk bank in die sitkamer (sodat ons ons kop kan stamp as ons probeer regop kom), 'n oop yskasdeur is altyd interessant en die jackpot is die skottelgoedwasser as daai deur durf oopgaan!
  • Mamma het maar gou 'n ongewilde einde gemaak aan heen-en-weer staan en surf met die laaitjie

  • Die pediater wil he Franco moet soveel as moontlik kruip, maar dis moeilik as Aspatatie slegs na die naaste voorwerp waarteen hy homself kan optrek kruip, en dan te heerlik staan en gesels.

  • Goggabie klap nou al hoe meer handjies, en is geniet liedjies waar ons moet handjies klap so baie. Laasweek het Franco so entoesiasties handjies geklap, dat hy homself onbewustelik van die bank weggestoot het en vir 'n paar sekondes op sy eie gestaan het! (Net om met 'n groot kabaal om te dons die oomblik toe ons agterkom ons staan self..)

  • Guilemientjie se eerste blou-oog en knop op sy kop :-( Op warm middae neem die skool die babas buitentoe om in 'n hoekie van die speelterein te sit en speel en te kyk wat die groter maatjies doen. Boetman wil egter altyd eerder met die ouer maatjies speel as met die babas van sy portuur groep (nie dat hy mag nie), en as jy jou oe uitknip dan het die klein Houdini onder jou neus uitgekruip na die groter kinders toe.
    Die nuwe assistent was onbewus van hierdie Franco-geit, en het haar doodgeskrik toe sy sien hoe Franco (wat nog nie kan loop of vas staan nie!) probeer om homself by die klimraam op te hys. Toe sy hoogsbenoud nader storm, toe skrik die Rakker,los alles, en stamp sy kop met die afkomslag. :-(
    Gelukkig ken ons Franco goed genoeg om te weet hoe vinnig hy homself in moeilikheid kan kry, en kon dus die assistent geredelik vergewe. Dis moeilik om altyd betyds te keer!
  • Franco loer al om die kamera om te kyk hoe sy Pappa-hero in die tuin werk. Kyk net die gekneusde linker-oogbank! (Het vergeet om 'n foto te neem om die "guts-en-glory" op sy ergste te wys)

  • Die klouterkabouter het gister weereens sy ondernemingsgees ten toon gestel. Hy is lief daarvoor om by die bank te staan en speel, maar toe wou hy eerder op die bank speel. Aangesien Meneertjie nog te kort is om self op die klim, is die doeksak met 'n gesteun nader gestoot/kruiproller en toe gebruik as 'n trappie om op die bank te kom! My hart het amper gaan staan, en die doeksak is terstond bygevoeg as item #987 van dinge wat hoog weggepak moet word!

  • My kind is 'n opperste platjie, en 'n deel van my hart is benoud oor die grense wat hierdie mannetjie nog gaan toets. Laasnaweek was ons almal vir 'n slag saam op die plaas, en het Franco en Martelize weer al die nuus opgevang. Martelize het die afgelope ruk besluit sy wil nie meer haar foppie he nie, maar was vreeslik geintresseerd in haar nefie se foppie wat aan sy dummy chain vas was. (Sy wou nie die foppie in haar mond druk nie, net eintlik vashou en bietjie van naderby bekyk). Franco was vinnig om die belangstelling op te merk, en het ewe lieftallig sy foppie aangegee. Voor my moederhart te trots kon raak, toe ruk die klein karnallie die foppie weg die oomblik toe Marteliefie haar handjie uitsteek om dit raak te vat. Gedink dis 'n eenmalige gebeurtenis? Nee wat - weer en weer is die foppie met die onskuldigste gesiggie denkbaar aangebied, en weer en weer is die foppie voor die uitreikende handjie weggeruk - tot groot onsteltenis (met reg!) van Juffrou.
    Het solank op aanbeveling Hettie Brits se "Kweek kinders met karakter" aangeskaf en begin opswot oor hoe om hierdie platjie-geid in die regte rigting te stuur. Gelukkig is ons Pa ook altyd daar om raad te gee!
Mnr Besig ondersoek Marteliefie se voet. Een van die min dae die afgelope ruk wat nie een of albei siek was nie
Daar is nog 'n ton nuus, maar dalk moet ons maar eers hier halt roep!

Franco-Frank jy is 'n Goggapatat, en enig in jou soort. Jy leer ons elke dag soveel nuwe dinge - van onsself en van jou! Jy raak elke dag meer en meer jou eie mensie met jou eie maniertjies van dinge doen- jy het al defnitiewe voor- en afkeure en kan dit al goed komunikeer! Jy is 'n wikkelwurm, en jou almal om jou heeldag op hul tone met jou mannewales, maar ons geniet jou so-so baie! Jou laggie (wat deurbreek selfs al is jy baie siek!), oopbek spoeg-soene en dierbare drukkies laat ons harte terselfdertyd smelt van liefde en bars van trots.


Ons hoop en bid dat die gereeld siekwees vir eers bietjie sal minder word - en is dankbaar vir die Here dat jy elke keer so mooi op die medikasie gereageer het en nie verdere komplikasies ontwikkel het nie! Jy was so 'n troopertjie met al die doktersbesoeke, medisyne gee en fisio saam - Mamma is sommer vreeslik trots op jou! Jy raak elke dag al hoe meer seunskind wat die wereld wil verower, en dis 'n voorreg om hierdie pad saam met jou te kan loop!

10 maande, 2 weke

Tuesday, February 3, 2009

Nie my beste 24 uur ooit nie

Sjoe! Wat 'n deurmekaar 24 uur - hoop nie daar le nog baie sulkes vorentoe op die lewenspad nie. Sal maar by die begin begin...



Ek is in die Kaap vir werksdinge die week. Was Sondag-aand so 20min reeds in die lug, toe die mikrofoon kraak "Ladies and gentelman, this is your Captain speaking....". Blyk toe dat een van die deure nie mooi seel nie, ons pressure verloor!?, en dat ons maar eerder gaan omdraai. Net na die aankondiging is ons deur woeste turbulensie - is seker die turbulensie het geen verband gehad met die deur wat nie seel nie, maar dit is maar erg skrikkerig om so te wip-wip deur die lug as jy nou net gehoor het daar is fout. Ek het maar baie gebid!



Die vroutjie langs my was heeltemal uitgefreak deur die storie en het vir die res van die rit met haar gesig in haar hande gesit en bid/huil/prewel. Die geleentheid om met haar te praat wou homself nie voordoen nie, maar ek sal aanhou om vir haar bid. Is ons Koningskinders nie bevoorreg nie? Al wil ek nie vreeslik graag nou doodgaan nie, weet ek dat ek weet dat ek weet - my lewe is Christus, en selfs die dood is 'n wins.



Ons was so 40min op die grond, toe kon ons darem weer opstyg sonder probleme. Die rede hoekom ons laterig Sondae-aande vlieg is om maksimum tyd saam met ons families te he, maar nogsteeds so te vlieg dat ons 'n volle nag se slaap inkry sodat ons kan skerp wees tydens al die vergaderings Maandag. Noddeloos om te se - die "land net voor 21h en is voor 22h by die hotel en in die bed" raak toe meer 'n "land net na 23h en is so 24h by die hotel". Fun times. En nie te bevordelik vir op en wakker wees nie. My gewone slaaptyd is nader aan 21h :-)



Maandag-more was ons skaars aan die gang, of Franco se skooltjie bel. Boeta het opgegooi, het koors en is vreeslik huilerig. Crack goes my heart. Nie die ding wat jy wil hoor as jy ver van die huis af is en jouself alreeds doodverlang nie.



Gert was gister self besig met belangrike vergaderings, maar het als gekanselleer en opsy geskuif en toe vir Bieliebam dokter toe gevat. Dis weereens mangelontsteking, en die keer is die oortjies ook erg rooi. Dejavu met antibiotika, koorsmedisyne en baie liefie en troos. My arme arme babatjie! En my arme man!



Gert was (soos altyd) 'n ster van 'n pa wat maar als in sy stride vat, maar toe ek gisteraand met hom gesels was hy maar flou. Dis woes om solo te vlieg met 'n siek seuntjie as jy self ook koorsig voel. (Gert het 'n geneigdheid om by sy seuntjie aan te steek - ek hoop nie dis weer die geval nie!) Sterkte my Engel! Jy weet ek is vreeslik lief vir jou en waardeer jou ne!



Laat gisteraand kom die sms deur: "Boeta het nou sy tweede asem teruggekry. Ons le nou en speel in die bed. Tot 'n bietjie gelag en gekruip. Ek dink die medisyne begin nou werk!" Prys die Here! Ek was lanklaas so bly oor 'n sms in die middel van die nag.



9 maande, 1 week

Thursday, December 4, 2008

Wat 'n week!

Die week het behoorlik verby gevlieg - ek is skoon agter met die stories! :-)
Saterdag was ons bietjie na tannie Duifie se 90ste verjaarsdag op Goodland (die F's se wildsplaas, so 10 min se ry van my ma-hulle af). Baie van my perdry herrinderinge is verweef met Goodland en dit was ook my en Gert se trou venue! Dus is dit altyd lekker om soontoe te gaan, en baie "onthou jy?'s" te beleef. Die keer was geen uitsondering nie, met Franco wat vir die eerste keer uit 'n glas gedrink het! Ouma Miekie het selfs 'n videotjie daarvan op haar blog van 29 Nov '08.
Sondag het Franco weer begin met verkoue en siek wees. :-( Ek het saam met Seuna erg verkoue gekry, terwyl Gert die verkoue vrygespring het net om Vrydag met mangelontsteking gediagnoseer te word! Dis goed die vakansie is om die draai - ons al 3 kan doen met bietjie rus en imuniteit opbou.

Franco kry een van vele stoombehandelings.

Dieselfde seuntjie na die behandeling, besig om die pyp te kou. Prys die Here vir behandelings wat so goed werk!

Maandag-nag was ons krag vir 'n lang ruk af. Groot furstrasie all round - Franco kon nie gestoom word nie, en saam met koue bottels het dit gesorg vir 'n omgekrapte seuntjie. (Die pikdonker het darem gemaak dat ons die maan en twee planete ekstra mooi kon sien! Ons Skepper het darem maar gesorg vir 'n wondermooie skouspel)

Dinsdag was ek vir die dag Botswana toe om probleme by een van ons takke uit te sorteer. Maandag-nag se omgekrapte seuntjie + vroeg opstaan om 5h00 by die lughawe te wees + heeldag in vrek warm Gaborone rond-mission (sonder lugversorging helfte van die tyd) en die vlug terug = 'n stokflou ekke wat 21h15 by die deur instrompel.

Gert was 'n ster van 'n pa wat die hele oggend- en aandroetine vir die eerste keer op sy eie aangepak het. Ek het dit al genoeg kere in die verlede gedoen om te weet dis moontlik, maar nie maklik nie - die Here het geweet wat Hy doen toe hy gesinnetjies met 'n pa EN 'n ma ontwerp het!

Kaalbaskruip na badtyd is die beste ding ooit!

Woensdag-aand het ons ons afdeling se jaareindfunksie gehad en almal saam Steve Hofmeyer gaan kyk. (Ek het my eie opinie oor die man, maar sal dit maar eerder los vir 'n ander dag) Nietemin was die kos en geselskap heerlik en gee die duiwel wat hom toekom - die man is 'n goeie kunstenaar. Franco het heerlik by Oom Gerhard en Tannie Marlize gebly en met Marli gespeel - dankie julle!

Donderdag-aand het ons slaap ingehaal, en vanaand pas ons vir Martelize op. (Eintlik ekke - Gert is koorsig en ons hou hom maar weg van die babas. Tans sit ek en blog terwyl die ander sieletjies in die huis almal slaap. Ons verbeter met die oppas - dis al baie rustiger as die eerste keer!

Het sy nie die mooiste haartjies nie? Kleine juffrou soet in droomland

Franco en een van die maatjies by die skool het geleer om so oor en weer vir mekaar tong uit te steek. Sederdien is dit sy nuutste party trick en sal hy sy tongetjie uitsteek vir enige iemand van die dokter tot winkelassistent. Huidiglik is hy so opvreetbaar oulik as hy dit doen, maar ons is net so effe bekommerd oor die lang termyn gevolge as ons dit te veel aanmoedig. Hopelik steek hy nie tong uit op sy gradeplegtigheid nie! :-)
Sjjt - ek weet ek is supercute, maar Mamma se jy mag dit nie hardop se nie!

Ek is more-oggend gasvrou vir 'n ooievaarstee. My klein blou-oog skat het hom omtrent verwonder aan die heliumballon wat ek by die huis aangebring het.

7 maande, 1 1/2 weke, Martelize 4 maande

Sunday, November 16, 2008

'n Paar (effens minder) oulike goedjies wat Franco deesdae doen

Net eers - Franco is soveel beter! Prys die Here! Dit was Vrydag laas nodig om enige koorsmedisyne te gee, en te oordeel na die gelag en gesels gister en vandag sou mens skaars kon glo hy is eintlik 'n siek babatjie.
Ek is 'n seuntjie-seuntjie! Julle dink ek is nog siek, maar my kop is al klaar vol plannetjies!

Franco is so oulik, ons wil hom net heeldag opsoen en opdruk. Daar is egter deesdae die een of twee effens mindere oulike dingetjies wat hy ook aanvang...

1) Franco knyp mens! Dis wonderlik dat hy die "pincher's grasp" so goed bemeester, maar minder wonderlik as hy sy nuwe vaardigheid op jou bobeenspier/wang/watookal uitoefen. Daai twee vingertjies kan nogals stewig vasknyp.

2) Tesame met die knyp vaardighede, kan Franco deesdae ook "love bites" uitdeel. Hy het nou die dag tydens selgroep my arm sopnat gesoen/-suig en ek het hom maar laat begaan. Ek was salig onbewus van die blou kol todat iemand by die werk my daaroor uitgevra het.

3) Franco het 'n liefde vir oorbelle en brille ontwikkel. Dis al lankal wat Ma se lang hare en hangertjies om die nek groot teikens is vir handjies om te gryp, maar die afgelope week of wat het oorbelle en brille ook die lys van "Begeerlike Dinge om te Gryp (BDG)" gehaal.
"Boetman, Mamma kon nog haar hare vasmaak, en die juwele vir eers wegbere maar sy het regtig haar bril nodig om te kan sien waar sy loop! Vir jou eie veiligheid sal Mamma dit dus waardeer as jy haar bril uitlos, en nie kraai van die lag as jy dit by die trap afgooi terwyl sy jou dra nie!"

4) Ander dinge wat ook die BDG lys gehaal het sluit in die kamera en Pa se borshare (Glo nie Gert sal ooit weer aanbied om Franco se bottel te gee voordat hy sy hemp aangetrek het nie :-)

Gee daai kamera bietjie hier seblief man! Ons klein blou-oog met die lang wimpers (nes sy Pappa!)

5) Franco se nuwe manier om aan te kondig dat hy klaar ge-eet is, is om die laaste happie prrrrt uit te spoeg. Als binne tref-afstand (sy kleertjies,die tafeldoek, my klere en bril) verkry dus sigbare bewyse van wat ons ge-eet het. En as ek in my kwaai stem probeer raas, dan dink die klein Prins dis uiters snaaks en lag uit sy magie uit...

Gelukkig outshine Seuna se oulike kwaliteite by verre die paar klein effens lastige goedjies! Ons ry perdjie en speel "Was hy - das hy!" dat dit so klap. Franco sit AL langer stil en speel met sy speelgoedjies. Hy doen opstote, hy wikkel met die beentjies en het dit vandag selfs reggekry om te begin leopard crawl agter sy geliefde balle aan! Ons geniet hom SO-SO baie, en kan skaars ons lewe indink sonder die kleinman in ons lewe.

Die ene konsentrasie met sy aktiwiteitsspeelding

Dankie Here vir so spesiale klein seuntjie! Dankie dat U die Geneesheer was wat hom gesond gemaak het! Dankie dat hy soveel vreugde in ons huis bring, ons harte wil sommer bars so vol is dit. Here, help ons om die uitdagings van ouerskap ook so te hanteer soos wat U wil he ons moet. Help ons seblief om altyd U voorbeeld na te streef, en dat Franco selfs wanneer ons moet raas en kwaai wees nogsteeds die liefde wat ons vir hom het sal ervaar. Dankie Here dat ons kan liefhe, omdat U ons eerste liefgehad het.

6 maande, 3 1/2 weke

Friday, November 14, 2008

Skoon siek van verlange!

Gert het 'n besigheidstrip van 'n paar dae gehad. Boeta het so na sy pa verlang, dat hy sommer op aand 2 ewe skielik siek geword het. :-( Mamma het gedokter en gesus en getroos so al wat sy kan, maar dit was een moeilike nag.

Siektes kom natuurlik op dae wanneer dit die minste pas. Daar mis Franco toe sy heel eerste skoolkonsert (waarvoor ons ten duurste kaartjies gekoop het!) en gaan nou nie op sy klasfototjie pryk nie (waarvoor ons ook al betaal het). Die arme ander ouers - dink julle hulle sal vreeslik teleurgesteld wees as hulle agterkom die mooiste seuntjie in die klas is toe nie op die foto nie? :-)

Donderdag was die braking darem onder beheer, maar die koors wou nie wyk nie - toe gaan kuier ons maar vir tannie Dokter. (Dankie vir nudge, nudge Ouma Miekie!) Diagnose? Mangelontsteking! En Franco se heel eerste kursus antibiotika.

Ek en Franco het omtrent die happy dance gedoen toe Gert gisteraand by die deur instap! Nog 'n paar hande kom nogals handig te pas as mens stoei om medisyne in 'n kleine seuntjie in te kry. 5ml is darem 'n woeste lot medisyne om binne te kry! (En dan is daar nog 3 ander medisynes wat ook hul beurt moet kry!)

Die bietjie antibiotika wat 1) nie uit die druppertjie geloop het voor ons die mondjie kon oop forseer nie, en 2) nie onmiddellik in ons gesigte teruggespoeg is nie en 3) nie so 60 sekondes na die hele gedoente opgebring is nie - daai bietjie antibiotika lyk darem of dit help. :-) Gisteraand was 'n baie beter nag! My wereld is 'n soveel beter plek as my beste maatjie in die omtrek is!

Darem maar snaaks hoe reuke herinderinge terugbring? Ek dink ek het laas Ponstan en yskas-antibiotika geruik toe ek nog die kleine pasient was. Is net seker ek het nooit my ma so laat suffer met die medisyne gee nie - ek het mos altyd alles baie mooi gedrink, ne Ma? ;-)

6 maane 3 weke

Sunday, October 5, 2008

In die huis deel ons allles! :-)

Tot heellaas ook die kieme! Laasnaweek het ons te vroeg optimisties begin raak - duidelik was ons novices met die siekwees ding, en min het ons geweet wat wag....

Franco se maagkiem het Sondag die wyk geneem, en hy was Sondag-aand so vrolik ons dag ons is home safely! Sondag-nag het die toe-neus van alle toe-neuse vir Boeta getref, en Maandag-oggend toe word ek die ene koue koors wakker.

Ek het probeer dapper speel en werk toe gegaan (ons is vreeslik besig by die werk, en baie van die projekte staan al maande en wag vir my terugkeer van kraamverlof af, die eksterne konsultante kan nie aangaan sonder my insette nie ens ens). Elke geval, het Maandag so 2 uurtjies gehou en toe maar huis te gekom. Dinsdag-oggend het ek net 'n vergadering gaan bywoon en toe maar weer in die bed kom klim...

Gelukkig is dit nou skoolvakansie, en was Ouma Miekie 'n groot hulp! Sy het Maandag, Dinsdag EN Woensdag haar vakansie opgeoffer om na die prinsie te kyk sodat ek net kon slaap. Ook het sy vir my en Boeta Dinsdag dokter toe gevat (Franco se nuus was goed, maar ek was sommer die heelweek afgeboek en moes antibiotika kry). Dankie Ouma!

Franco is Donderdag terug skooltjie toe - net sodat hy van voor af kon begin opgooi. :-( Dus was ons Vrydag en Saterdag toe maar fisio toe om bietjie die slyme uit te stoom en uit te klop. Dit lyk darem of dit help - dis weereens Sondag-middag en dit lyk of dit beter gaan!

Ek hoes en proes nog soos 'n tweedehandse trekker, maar sal darem more kan gaan werk. Net jammer Gert het gister-oggend die ene koue koors wakker geword...

(As mens die koste van die dokter, fisio en medisyne ignoreer, kan so siekte nogals ekonomies raak. Dis nou al die tweede naweek in 'n ry wat ons uit die winkels wegbly en niks spandeer nie!)

Wednesday, July 9, 2008

Franco is een omgekrapte seuntjie

Is besig om aan 'n inskrywing te werk met 'n bietjie meer detail oor Franco se geboorte. Dit vat net egter langer as verwag, want die klein prinsie in ons huis sukkel met 'n toe neus en is een erg ongelukkige seuntjie!

Die toe neus veroorsaak dat hy nie lekker kan voed nie, en algemeen misrabel is. My hart bloei vir hom - wens daar was ietsie meers as saline neusdruppels wat ek kon gee om te help. Kom agter hoe ouerskap my verander - vir die eerste keer in my lewe sou ek wat wou gee om iemand anders se verkoue namens hulle deur te suffer. Wens dit het so gewerk - ek kry Franco SO jammer!

In ander nuus het ons laaste 3 weke se goeie gewig optel tot 'n einde gekom, met die kliniek wat vandag slegs 60g vir die week bevestig het. :-( Hopelik is dit maar met die verkoue te doen, en is volgende week beter. In tussen is Ma maar terug om die Jungle Juice en pilletjies vir meer melk!

Die Here challenge my met die borsvoeding ding. Ek besef al hoe meer watter furstrasie Hy moet beleef as Hy al die nourishment het wat ons siele so broodnodig het, maar ons is te gefokus op ons eie dingetjies om behoorlik te drink! Dankie Here dat U ons weer en weer kanse gee, en dat U nie net vir ons voorsien in fisiese nourishment nie, maar ook die Lewende Water is wat ons siele so nodig het.

Tot later dan!