baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label fotos. Show all posts
Showing posts with label fotos. Show all posts

Sunday, April 19, 2009

'n Paar snapshots van die laaste ruk

Sjoe! Deesdae is ons dae so vol en besig en Franco bemeester so vinnig nuwe dingetjies, as ek weer sien is ons agter met die blog!

Die laaste week of wat het ons:
  • teruggekom van ons Middelburg naweek. Die wasgoed, tuinwerk en regte werk-werke was als agter van die paar dae wat ons weg was en moes ingehaal geword het.
  • tussen-in moes ons beplan vir Die Partytjie. Groot pret, maar die tyd was net so min! ;-)
  • Franco het sy deel van die partytjie beplanning gedoen, en sy ouers bederf? deur tand nommer 6 & 7 die 2 dae voor die partytjie te sny. Daar is min dinge soveel pret soos besige dae, en laaaang nagte met kwantiteit gesinstyd nie
  • en die belangrikste? Dit was Paasfees! Gesinstyd, introspeksie-tyd, dankie se tyd. Dankie Jesus vir U groot,groot offer! Dankie dat ons kan Lewe omdat U bereid was om in ons plek te sterwe.
  • Ons het een heerlike partytjie gehad en toe moes
  • Mamma met 'n baie swaar hart Bloemfontein toe gaan vir werksgoete. Niks teen die Rosestad nie, maar 3 uit die laaste 4 keer wat ek daar was, was ons vlugte vertraag. Dink ek ken nou die (vrek klein aircon-lose) lughawe goed genoeg.

Die partytjie was 'n reuse-sukses! En Franco (en sy ouers!) het dit so-so baie geniet. Om die waarheid te se - ek en Gert het die partytjie so baie geniet, dat ons vergeet het om 'n enkele fototjie te neem! (Al het ons so ewe die aand voor die tyd die kamera se battery spesiaal gelaai) Dankie tog vir 'n parate Ouma, Oom Hannes en Tannie Thelwyn wat die Hasie-partytjie vir ons gedokumenteer het. Nou is die uitdaging net om al die fotos by die verskillende kamera-eienaars te kry. Ouma Miekie was so oulik om 'n hele CD vol fotos spesiaal by my werk af te lewer (dankie Ma!), maar daar vergeet ek die CD Vrydag op my lessenaar. :-( Grrr,grrrrr vir myself! Die partytjie-fotos kom - belowe, maar intussen moet hierdie maar instaan...

Ons was druk besig om te pak vir ons Middelburg-naweek toe Franco skielik tjoepstil word en ons wis ons moet gaan loer....

Meneertjie was druk besig om 'n rol toiletpapier te dissekteer - die konsentrasie was iets om te aanskou!Uitgevang! Al is hy hoe klein, Franco weet as hy iets doen wat hy nie veronderstel is nie - en kan nes 'n verskrikte bokkie lyk as hy agterkom hy is uitgevang. :-)

Aan die einde van elke ete dring Franco deesdae aan om self te probeer eet. Dis maar 'n morsige storie (ek sou ook sukkel as ek die lepel kort-kort onderstebo of agterstevoor het), en sy mamma leer lesse in geduld, maar dis te skattig om te sien!
Franco was baie geintreseerd in my sap, en het dadelik nader gestaan vir sy beurt. Moet se - hy het nogals oulik reggekom! As ouers van 'n seuntjie wat nie-hou-van-vreemde-goete-in-sy-mond-nie was dit 'n groot verrassing! Ons was sommer baie trots!

(En kyk net die lelike skraap op die gesig - Franco het saam-saam help klere uitpak, en moes hom op een of ander manier met die gespes gekrap het :-( Hy het niks eers gehuil nie - al het ek my byna boeglam geskrik toe ek dit opmerk. My arme kind lyk nes 'n wilde seerower!)

Kyk hoe rond staan my pensie na ete! Franco het een oggend amper 20 lepels pap geeet! Boeta het net gevra vir nog en nog en nog...


Paasnaweek was ons op die plaas en Franco het Oupa Jan se pantoffels ontdek. (Vir nog skattige Paasnaweekfotos kyk bietjie op Ouma se blog hier)
Oupa jy is my hero, en ek gaan eendag net so groot soos jy wees!

Franco ontpop deesdae in 'n klein helpertjie. As ek of Gert besig is met iets, dan is Seuna vinnig om nader te kruip en aan te dring om te wil "help". Nou veroorsaak die "hulp" nog effens uitdagings, maar ons hoop maar hy bly so fluks sy lewe lank!

Die oggend van die partytjie het Gert die opblaas swembadjie opgepomp en Franco het vinnig nadergestaan en ernstig na die instruksies geluister...
Op en af, op en af! Franco het gedink dis skreeusnaaks. (Franco het darem ietsie van sy ma geerf - sy oe gaan ook toe as hy lekker lag. Nie juis die mees fotogenieste eienskap nie :-)

Franco staan (en stap selfs!) deesdae al oulik - sy selfvertroue is net nog bietjie min. Hy raak verboureerd as hy agterkom hy staan self en dan gaan sit hy sommer dadelik. Die betrokke oggend het hy lank gestaan terwyl hy aan die pomp se pyp vasgehou het - min het hy besef dat so 'n pyp eintlik geen ondersteuning bied nie...

Mamma word darem ook gehelp! Hier help Franco fluks sy eie wasgoed sorteer

Doen ek dit reg Mamma? Dis mos Lig, Medium en Donker ne? So 'n hoop wasgoed maak 'n baie lekker speelding, en Franco kan homself 'n lang ruk daarmee amuseer.

Julle moet 'n lekker aand he! En lief bly vir Liewe Jesus! Ek is tog Donderdag 'n volle EEN jaar oud!

Wednesday, April 8, 2009

Fotos van die naweek

Al was die rede vir die kuier 'n hartseer ene (sien inskrywing net voor die ene), was dit nogtans lekker om die familie te sien :-) Ons het so lekker gekuier, dat ek op die end baie minder fotos geneem het as wat ek gedink het ek het!
By die begrafnis-tee. Ons klein drool-machine :-)


Jaag my Lee-Anne! Besig met 'n kruipkompetisie


Die tee was in die dorpsaal gehou met die pragtigste verhoog. Franco en sy kleinnefie en -niggie het alte gou die gordyn ontdek en hope pret gehad! Die helder kinderlaggies was salwend op 'n seer gemoed. Die kleertjies was maar goed stowwerig, maar gelukkig maak Omo weer alles silwerskoon.

Soms was Meneertjie so haastig, hy het skoon geski op die verhoog


Waar's hy? Daar's hy! Graeme is Lee-Anne se ouboet en was wonderlik met die kleintjies



'n Poging tot 'n groepsfoto van die kleinnefies en -niggie. Van links na regs:

is 'n onwillige Lee-Anne (3 in Oktober), Graeme (9 jaar), Hannelize met Fouche (8 maande - tannie Sandy se skoondogter en enigste kleinkind) en Gert met Franco

Fouche verwonder hom aan Graeme wat as kwaai Ouboet vir Lee-Anne tot orde probeer bring en Franco oefen sy waai-tegniek. (Hy het agter gekom dit lok groot reaksie uit, en vir 'n paar dae was dit die nuutste thing om oor-en-oor te doen)

Probeerslag nommer twee. Lee-Anne is erens 'n pienk spikkel agter die gordyn
Fouche is 'n klein bulletjie, en is langer en swaarder as ons klein Aspatatie al is daar 3 maande verskil tussen die twee. Franco is duidelik my en Gert se kind! Reuse is ons nie :-)

Saam met Ouma en Oupa

Baie vroeg Sondag-oggend toe ons wou ry, besef ek skielik ons het so lekker gekuier dat ons nooit 'n foto van Franco saam met Ouma Elna en Oupa Lappies geneem nie! Skuus ons vang julle so in jul nagklere - maar 'n foto moes ons darem he!
Die afry deur die middag/aand was nie so sleg nie, en Franco was droomsoet (en groot dele in droomland!) - maar toe ons so kort na Donderdag weer die langpad aandurf was Boeta minder ingenome. Ons het maar kort-kort gestop en allerhande interessante plekke ontdek. Dink hierdie was by Kroonvaal.

Oom Hannes hou piekniek, en Franco toets die swaaie uit

Die piekniekmandjie het kersietamaties opgelewer, en ons wou kyk wat Franco daarmee maak. Soos verwag, gaan die nuwe fonds glad nie mond toe nie maar die handjies het als ywerig ondersoek.

Hmmm - wat is die? Kom ons slaan/druk dit dood! .

Na die eerste tamatietjie oopgebars is (en Gert lekker nat gesquirt is!), het Franco gedink dis 'n lekker speletjie en wou net nog en nog tamaties he. :-)


'n Nabyskoot van die gemors. Dankie tog vir afveedoekies!




Nog 'n tamatie seblief Mamma? Maar Pappa se NEE ;-)


Dis lekker besig by die werk - ons is altyd besig die tyd van die jaar, en April se baie vakansiedae is lekker, maar die deadlines skuif nie aan nie. :-)


Verder beplan ons lekker aan Franco se verjaarsdag-partytjie. Dis al Maandag! Gits! En behalwe vir almal uitnooi, het ek nog niks eintlik voorberei nie. Sal maar die naweek rondhardloop - en baie dankbaar wees vir Ouma Miekie wat wil help! Die verjaarsdag is eintlik eers die 23ste, maar ons hou dan bietjie vakansie (yeah!) en omdat Franco se ander Ouma en Oupa nou by ons sou kom kuier het, het ons die partytjie bietjie vroeer gemaak sodat hulle ook kon by wees. Maar nou ja, die Here het ander planne gehad en hulle help nou eers dinge in Middelburg uitsorteer.


Op 'n ander punt - is die Here se skeppingswerk nie ongelooflik nie? Minder as 'n jaar terug was Franco nog 'n pap babatjie wat nie eers kon glimlag nie (maar nogtans diep in ons harte gekruip het!). Deesdae is pure klein seuntjie wat al saam met maatjies kan saamspeel en saamlag! Noudat ek 'n mamma is, dink ek, ek verstaan effens beter van hoe lekker dit vir die Here moet wees as Hy sien hoe ons groei en ontwikkel (en hoe gefurstreerd Hy moet raak as ons deur ongehoorsaamheid daai ontwikkeling verlangsaam). En tog gee Hy nooit moed op met Sy kinders nie. Dankie Here! Vir U liefde, sorg en geduld. Dankie vir die blessing wat Franco is, en dat ek deur hom soveel lesse van U kan leer. Maak my hart sag en ontvanklik vir U stem, sodat daai lesse nooit verniet sal wees nie..

Thursday, April 2, 2009

My hart wil smelt...

Daar is baie nuus om te vertelle, maar dis 'n onverwagse dol en hartseer week...

Gelukkig is daar 'n sekere kleinman in my lewe - hy en sy pa laat my hart sommer tjoklits klop!

Meneertjie is 'n klein klitsie en sy nuuskierigheid maak dat Mamma besig bly! As ons nie ons speelgoed die wereld vol ronddra nie, dan pak ons die tupperkas uit of verwoes 'n rol toiletpapier, smyt die arme plant om en of pak ons eie doeksak uit. Die doeksak-storie moet ons deesdae hoog wegbere en nogsteeds mooi kyk anders kom jy eers agter iets is soek as jy dit ver van die huis nodig het (hoog genoeg verander elke dag - om bloot die sak op die bank te tel werk nie meer nie!).

Hoe gaan die Flake advertensie? "One smile (bite), and all resistance crumbles"


Elke dag is ons meer seunskind, en minder babatjie..

Die assistente by die skool se bynaam vir Franco is "The King". Toe die skoolhoof vra hoekom, is die antwoord: "Want hy is die gelukkigste, gemoedlikste, happy-ste babatjie wat hierdie skool selde nog gesien het!"

Is dit moontlik dat jou hart terselfdertyd kan smelt van liefde en bars van trots?

11 maande, 1 week en 3 dae

Wednesday, March 18, 2009

Herfs is aan die kom!

Die oggende begin so bietjies-bietjies koeler raak, en laasweek het ons skielik agtergekom Seuna se langmoukleertjies pas al hoe meer na kortmoukleertjies :-) Na 'n uitstappie winkels toe, is ons nou (beter) voorbereid vir die koue fronte. Vanoggend vroeg het Meneertjie vir ons sy een pakkie gemodelleer. Kyk net hoe pose ons vir die kamera!


Wel hallo daar!

Cute? Wie ek?

'n Aartappeldrukprentjie vir mamma
Lekker week vir julle! 10 maande 3 weke

Sunday, February 1, 2009

Foto-probleem gefix!

Die oplossing? Gits - ek weet nie. Het nou al soveel keer gewissel tussen Internet Explorer en Mozilla Firefox en ook die rekenaar se "cache" skoongemaak (soos aanbeveel deur Blogger se help funksie) maar niks wou werk nie. Vanoggend het ek weer probeer en ta-da : als is reg :-) Lyk my die aanhou, aanhou probeer het dus die ding gedoen.

Hier is so paar fototjies van klein Carl se Bob the Builder partytjie

Kyk net die mooi koek!


Carl en Suzette met hul Callie-man

Daar was 'n swembadjie vol balle, maar dis net soveel pret om te probeer uitklim!

Groot pret om in die sandput te speel Hoe meer sand hoe beter!

Kyk Mamma! Die sand is orals - my hande, mond, ore, doek en wat nog alles! Na soveel partytjies weet ek al hierdie blaas-ding moet in die mond kom. Ek kry nog nie self geblaas nie, maar ek kan al pose :-) Franco amuseer homself terwyl Mamma bietjie huis skoonmaak

Hannes se verjaarsdagpartytjie in die natuurresevaat. Ons het die kamera tuis vergeet, en die selfoon moes toe maar diens doen. Kyk net die modderhande! Na 'n week se reen was die aarde heerlik klam, en 'n woelwater wat WIL kruip en nie vasgehou WIL wees nie, het te heerlik in die modder gespeel en homself van kop tot tone besmeer. Dankie tog vir Omo :-)

9 maande 1 week

Monday, January 19, 2009

Nog fotos van die partytjie!

Mariska het nog so paar oulike fotos van die partytjie gemail - moes net met julle deel!

Kyk net almal se army klere!

Een kersie op die koek!

My hart se punt oppad na die ewig ontwykende kamera
8 maande 3 weke

Monday, December 29, 2008

Familie Kersfees-fotos

Nota: Ek het gister begin om te skryf oor Franco se eerste Kersfees, en agtergekom dit vat lank. :-) Het toe maar intussen die familie-fototjies opgesit. Toe ek vandag die Kersfees inskrywing klaarmaak, toe publiseer Blogger dit onder die inskrywing!
Dis bietjie laat, maar: Geseende Kersfees! Hoop die Christus fees was 'n wonderlike spesiale dag deurdrenk met vrede en liefde.

Kers-oggend na kerk het ons gou aangetree vir die fotosessie
Ons gesinnetjie van 3. Mamma vertel ek was 'n wikkelkous wat geweier het om te sit, en eintlik net my bottel wou he :-) Nou vir wat neem hulle fotos as hulle weet ek is honger?
Wat kyk jy so? Het jy nog nooit 'n baba sien bottel drink nie?
'n Bottie maak sommer baie dinge reg in die lewe! Saam met Oupa Lappies en Ouma Elna

Ons manne was almal (onbepland) in blou. Het jy al 4 sulke mooi paar blou kykers bymekaar gesien? Mamma hoop my ogies bly blou nes my Pappa s'nne. (Maar ek is seker sy sal vir my lief bly maak nie saak watter kleur my ogies opeindig nie)

Ons 3 FJ's. Oom Frans Johannes, Oupa Frans Johan en ekke (Franco Jean).

Ekke kon nie ook 'n Frans wees nie - netnou het Oom Hannes eendag 'n seuntjie wat hy Frans wil noem! En moenie vergeet van my ander oom Frans wat met tannie Thelwyn getroud is nie. Dalk het hulle ook eendag 'n seuntjie wat lyk soos 'n Frans!

8 maande en dae oud

Franco se eerste Kersfees

Franco het sy eerste Kersfees so-so geniet! Al het die tandjies nog gepla (sien inskrywing net hieronder), was Boeta in 'n besonders goeie bui tydens Kersdag. Ek wil graag glo dat alhoewel hy nog te klein is om regtig te verstaan waaroor Kersfees gaan, hy deur 'n baie spesiale Iemand aangeraak is en Seuna se gees agtergekom het dat dit 'n baie spesiale dag is!

'n Paar dae voor Kersfees, en Boeta verkyk hom aan Oom Hannes wat liggies op die kersboom hang. Die verwondering was groot, maar 'n klein handjie het stewig aan my arm vasgehou vir morele ondersteuning!

Die pret en plesier het sommer al voordag begin toe ons kerk toe gestap het. Franco het sy vroeg-oggend stappie in sy waentjie baie geniet, en gekraai van die lag! Die pret het nie daar opgehou nie, en Seuna het aanhou lag vir alles en almal - die tannie wat agter ons in die kerk gesit het, die dominee daar hoog bo op die kansel, die klanksisteem wat op 'n stadium probleme gegee het - als was een groot vreugde.
Ek en tannie Rina Kock ('n vriendin van Ouma Elna) maak grappies na kerk. My pakkie verklaar "I'm a good boy" - dink julle dit sal help dat ek baie persente kry?

Franco het by die huis nie regtig die hele persent oopskeur ding verstaan nie, maar het tog met 'n groot glimlag sit en aanskou hoe Gert al sy persente vir hom oopmaak. Anders as wat ons verwag het, was Franco toe nie so geinteresseerd in die geskenkpapier en bokse nie, maar wel baie in sy heel eerste persent - 'n bottel bababadseep van tannie Gertude! Die bottel was aanvanklik baie meer pret as al die ander speelgoed en klere! :-)
BAIE opgewonde oor my lekker bad-seep! Dankie tannie Gerty!

mmm - wat is hierdie papier storie nou eintlik?

Die houtblokkies van tannie Sandra moes eers doodgeslaan word
Klere en 'n tandekry ratel van Oom Hannes. Die rattel is dadelik met groot ywer geskud, voor dit reguit mond toe is Nog klere! Die keer van Ouma Elna en Oupa Lappies. En dit terwyl ek van die klere wat ek by Ouma Miekie gekry het modelleer! Dink my Oumas het gehoor toe my ma vertel dat ek so vinnig gegroei het die laaste paar weke dat al my ander klere te klein is! Dankie julle - nou hoef Mamma nie amper elke dag wasgoed te was nie. :-)

Oupa en kleinseun ondersoek al die nuwe speelgoed!


Ons liefste Goggatjie! Ek en Pappa is bly jy het jou eerste Kersdag soveel geniet! (Al was dit 'n titaniese stryd om jou in die bed te kry - jy het die hele dag 'n skrale 90 min geslaap, en wou teen bed toe gaan tyd nogsteeds niks weet van uitmis op die aksie nie :-) Ons hoop jy besef sommer vroeg-vroeg dat Kersfees oor soveel meer gaan as geskenke en lekker kos. Die grootste geskenk van alle tye is Jesus wat Sy lewe vir jou en vir ons gegee het sodat ons kan lewe! Ons hoop so dat jy die geskenk sommer vroeg in jou lewetjie sal aanvaar - en elke Kersfees sal verstom staan oor hoe groot God se genade en Sy liefde vir ons is. Dankie dat jy hierdie Kersfees saam met ons gedeel het - dit was super spesiaal om Kersfees deur jou ogies te beleef! Jy is van die hemel af gebid, en al het ons jou in April gekry is jy ons heel beste Kerspersent gewees!