baby
Lilypie First Birthday tickers
Showing posts with label partytjie. Show all posts
Showing posts with label partytjie. Show all posts

Sunday, April 19, 2009

'n Paar snapshots van die laaste ruk

Sjoe! Deesdae is ons dae so vol en besig en Franco bemeester so vinnig nuwe dingetjies, as ek weer sien is ons agter met die blog!

Die laaste week of wat het ons:
  • teruggekom van ons Middelburg naweek. Die wasgoed, tuinwerk en regte werk-werke was als agter van die paar dae wat ons weg was en moes ingehaal geword het.
  • tussen-in moes ons beplan vir Die Partytjie. Groot pret, maar die tyd was net so min! ;-)
  • Franco het sy deel van die partytjie beplanning gedoen, en sy ouers bederf? deur tand nommer 6 & 7 die 2 dae voor die partytjie te sny. Daar is min dinge soveel pret soos besige dae, en laaaang nagte met kwantiteit gesinstyd nie
  • en die belangrikste? Dit was Paasfees! Gesinstyd, introspeksie-tyd, dankie se tyd. Dankie Jesus vir U groot,groot offer! Dankie dat ons kan Lewe omdat U bereid was om in ons plek te sterwe.
  • Ons het een heerlike partytjie gehad en toe moes
  • Mamma met 'n baie swaar hart Bloemfontein toe gaan vir werksgoete. Niks teen die Rosestad nie, maar 3 uit die laaste 4 keer wat ek daar was, was ons vlugte vertraag. Dink ek ken nou die (vrek klein aircon-lose) lughawe goed genoeg.

Die partytjie was 'n reuse-sukses! En Franco (en sy ouers!) het dit so-so baie geniet. Om die waarheid te se - ek en Gert het die partytjie so baie geniet, dat ons vergeet het om 'n enkele fototjie te neem! (Al het ons so ewe die aand voor die tyd die kamera se battery spesiaal gelaai) Dankie tog vir 'n parate Ouma, Oom Hannes en Tannie Thelwyn wat die Hasie-partytjie vir ons gedokumenteer het. Nou is die uitdaging net om al die fotos by die verskillende kamera-eienaars te kry. Ouma Miekie was so oulik om 'n hele CD vol fotos spesiaal by my werk af te lewer (dankie Ma!), maar daar vergeet ek die CD Vrydag op my lessenaar. :-( Grrr,grrrrr vir myself! Die partytjie-fotos kom - belowe, maar intussen moet hierdie maar instaan...

Ons was druk besig om te pak vir ons Middelburg-naweek toe Franco skielik tjoepstil word en ons wis ons moet gaan loer....

Meneertjie was druk besig om 'n rol toiletpapier te dissekteer - die konsentrasie was iets om te aanskou!Uitgevang! Al is hy hoe klein, Franco weet as hy iets doen wat hy nie veronderstel is nie - en kan nes 'n verskrikte bokkie lyk as hy agterkom hy is uitgevang. :-)

Aan die einde van elke ete dring Franco deesdae aan om self te probeer eet. Dis maar 'n morsige storie (ek sou ook sukkel as ek die lepel kort-kort onderstebo of agterstevoor het), en sy mamma leer lesse in geduld, maar dis te skattig om te sien!
Franco was baie geintreseerd in my sap, en het dadelik nader gestaan vir sy beurt. Moet se - hy het nogals oulik reggekom! As ouers van 'n seuntjie wat nie-hou-van-vreemde-goete-in-sy-mond-nie was dit 'n groot verrassing! Ons was sommer baie trots!

(En kyk net die lelike skraap op die gesig - Franco het saam-saam help klere uitpak, en moes hom op een of ander manier met die gespes gekrap het :-( Hy het niks eers gehuil nie - al het ek my byna boeglam geskrik toe ek dit opmerk. My arme kind lyk nes 'n wilde seerower!)

Kyk hoe rond staan my pensie na ete! Franco het een oggend amper 20 lepels pap geeet! Boeta het net gevra vir nog en nog en nog...


Paasnaweek was ons op die plaas en Franco het Oupa Jan se pantoffels ontdek. (Vir nog skattige Paasnaweekfotos kyk bietjie op Ouma se blog hier)
Oupa jy is my hero, en ek gaan eendag net so groot soos jy wees!

Franco ontpop deesdae in 'n klein helpertjie. As ek of Gert besig is met iets, dan is Seuna vinnig om nader te kruip en aan te dring om te wil "help". Nou veroorsaak die "hulp" nog effens uitdagings, maar ons hoop maar hy bly so fluks sy lewe lank!

Die oggend van die partytjie het Gert die opblaas swembadjie opgepomp en Franco het vinnig nadergestaan en ernstig na die instruksies geluister...
Op en af, op en af! Franco het gedink dis skreeusnaaks. (Franco het darem ietsie van sy ma geerf - sy oe gaan ook toe as hy lekker lag. Nie juis die mees fotogenieste eienskap nie :-)

Franco staan (en stap selfs!) deesdae al oulik - sy selfvertroue is net nog bietjie min. Hy raak verboureerd as hy agterkom hy staan self en dan gaan sit hy sommer dadelik. Die betrokke oggend het hy lank gestaan terwyl hy aan die pomp se pyp vasgehou het - min het hy besef dat so 'n pyp eintlik geen ondersteuning bied nie...

Mamma word darem ook gehelp! Hier help Franco fluks sy eie wasgoed sorteer

Doen ek dit reg Mamma? Dis mos Lig, Medium en Donker ne? So 'n hoop wasgoed maak 'n baie lekker speelding, en Franco kan homself 'n lang ruk daarmee amuseer.

Julle moet 'n lekker aand he! En lief bly vir Liewe Jesus! Ek is tog Donderdag 'n volle EEN jaar oud!

Monday, January 19, 2009

Nog fotos van die partytjie!

Mariska het nog so paar oulike fotos van die partytjie gemail - moes net met julle deel!

Kyk net almal se army klere!

Een kersie op die koek!

My hart se punt oppad na die ewig ontwykende kamera
8 maande 3 weke

Sunday, January 18, 2009

Michael James se partytjie

Sjoe! Januarie is omtrent partytjie maand - en heelwat is van Franco se maatjies! Laasnaweek was Marli se 2de verjaarsdagpartytjie en Saterdag het klein Michael 'n jaar oud geword! (En Saterdag is die Carl se beurt om een te word) Ek en Gert is geseend dat ons heelwat vriende het wat se kinders min of meer so oud soos Franco is - saam kan ons baie lag en bid oor die roller coaster avontuur van ouerskap!


Baie geluk Michael! En baie geluk Mariska en Andrew dat julle die eerste jaar van ouerskap oorleef het! :-) Ons weet hoe hard het julle gewens vir hierdie outjie, en is saam met julle bly vir hom!
Ons gesinnetjie by Michael se partytjie. (Die partytjie het 'n army tema gehad dus die weermagtent en Franco se "army" pakkie)

Wat is in jou sakkie Franco? Kreatiwe Mariska was so fluks om vir elke maatjie sy eie persoonlike "rat pack" sakkie te maak.

Die eregas van die dag en sy pa Andrew maak persente oop.


Daar was soveel om van te kies! Jonathan was 'n baie flukse en ywerige helpertjie



Die was groot pret om die balonne te probeer vang as Pappa my in die lug opstoot!

'n Paar ander dinge:

Ons is in die huismark! Sal graag 'n plekkie bietjie nader aan die werkke wil kry, en ene met 'n groter tuin vir rondhardloop. Dis 'n groot besluit en 'n groot gebedsaak - bid seblief saam met ons! (En dis ook hoekom die blogging bietjie minder is - die eiendomwebsites kry nou voorkeur)

Raai wie se seuntjie is ek? Pa en seun hop op die immergewilde bal

Franco het Vrydag tand nommer 4 gesny! Seuna het nou 2 tandjies bo en 2 onder! :-)

Franco is nie 'n somermens nie, en kry baie swaar as dit kwik styg. Ons het laas die nat splash swembadjie op die plaas gelos, en die groot swembad by die huis is tans onder ph behandeling. Maar 'n Pappa maak 'n plan, en as dit nie anders kan nie, dan swem ons maar in die speelgoedhouer - sommer so twee keer op 'n dag. Franco deel nie sy Ma se geite nie, en gee glad nie om vir 'n gespattery nie. Hoe meer druppels vlieg, hoe groter die pret!

Mid-swem het Franco se boudjies geglip en sy kop vir 'n kwartsekond onder die water beland. Hier vertel hy sy Pappa hoe lekker dit was - bietjie geskrik, maar niks eers gehuil nie. Kyk net die tande!

Vol geselsies oor sy groot avontuur!


Ons tweede swem van die dag


Swem maak 'n man vaak en reg vir sy middagslapie


Kyk hoe mooi drink ek deesdae uit my sippy bekertjie!

Boetman sit deesdae in die hoe stoeltjie en eet! Maar dis gaan morsig, want Seuna se handjies word soos 'n magneet na die lepeltjie aangetrek. (Die borslap is met rede agterstevoor - die plastiekkant vee sommer met 'n lappie skoon, en mens sukkel dan nie met pampoenvlekke wat die mooi prentjies bederf nie)


Ons het soveel pret en elke dag is ons harte tot barstens toe vol van dankbaarheid oor ons kleine wonderwerkie wat sommer so in 'n oogknip grootword. Kan skaars glo die tyd glip so gou verby! Franco is al 8 maande en 3 weke oud

Monday, November 3, 2008

Lee-Anne word twee jaar oud!

Saterdag-aand was dit Franco se kleinniggie se tweede verjaarsdag. Lee-Anne is die jongste kind van Peter en Onja. (Onja is Gert se niggie aan vaderskant). Ek leer baie "tricks of the trade" by Onja, en ons is maar te dankbaar vir al die hand me down speelgoed en klere!

Lee-Anne is een skattige bondeltjie energie wat haar verjaarsdag vreeslik geniet het.
Die verjaarsdagmeisie (Die pleister op die arm is omdat sy haar knie gestamp het, maar op 'n pleister op haar ARM aangedring het om die eina beter te maak)


Geskenke oopmaak is soveel lekkerder as mens die papier maar kan skeur! (En na die tyd speel hulle lekkerder met die papier en bokse as met die eintlike persente ne)

Franco wonder waaroor die bohaai gaan. (Toemaar Boeta, een van die dae is dit Kersfees en dan sal jy gou-gou leer van die wonder van persente!)

6 maande, 2 weke