Franco ontwikkel so vinnig - elke dag kom sy persoonlikheid net meer en meer na vore. Ons geniet hom so so baie! Dis ongelooflik spesiaal om te sien hoe hy ontwikkel van baba na seuntjie. Ek en Gert voel so diep geseend, en bid gereeld dat ons as ouers die regte dinge doen en se om hierdie spesiale seuna te help ontwikkel sodat hy eendag die man kan wees wat God bedoel het hy moet wees.
'n Paar kosbare onthou-dinge:
* Franco is vreeslik lief vir enige werkies, en dring daarop aan om mens te help. Huidiglik wen sy pa en Oupa se aktiwiteite 1ste prys en is ongelooflik interessant. Die gereedskapstelletjies wat hy vir sy verjaarsdag gekry het, werk oortyd en Franco ken AL die name en gee vir jou die regte hamer/saag/skroewedraaier aan as hy daarvoor vra. Hy is lief vir grassny, en help fluks blare hark - en dan is dit 'n tydsame proses om die blare een vir een eers op 'n skoppie te vee en dan in die asblik te gooi.
Enige iets wat Pappa doen, moet Franco OOK doen
* In die kombuis help hy net so fluks:
> Hy spat te lekker skottelgoedwater oor als as hy saam met Ouma Elna was-was.
> Hy kan al sif (wolke meel in die lug is groot pret!) en roer (hoe woester, hoe beter)
> Dit is sy werkie om die afgemete droee bestandele in die bak te gooi as daar brood gebak word (ons bak self - so dis 'n paar keer per week)
> Die ywerige chef is ook lief om kaas te rasper (alhoewel ons vermoed dis meer sodat hy self "aas" kan eet as iets anders)
> Om aartappels of pampoen te mash is net so heerlikheid (Mamma! Stamp stamp). Laasweek was ons besig om soet pampoen te maak, en toe ek my rug moes draai om aan Janita aandag te gee, toe trek Mnr self die suikerpot nader en gooi lustig by. Groot ontsteltenis toe ek 'n einde maak aan die speletjie.
Kooklesse onder die wakende oog van Ouma Elna
* Franco se geredelik Hallo, Tata, Dankie en Asseblief (blief). Hy is ook baie gesteld daarop om sy stoel in te stoot as hy van tafel opgestaan het, en raak baie vies as sy stoute pa (of ma) soms vergeet om hulle stoele in te stoot. Paasfees 2010: Ons verf paaseiers
* Ons prinsie is vreeslik lief vir skool toe gaan, en ons sukkel soms om die vrede te bewaar as Franco 6:00 die oggend skooltas in die hand by die deur staan en aandring om te Tata.
Hallo julle! Ek kort 'n haarsny, maar vir nou is ek my mamma se krulkopkabouter :-)
* Juffrou Christel se Franco is 'n sterretjie by die skool en sy geniet hom vreeslik. Hy is ietwat van 'n storie aandraer (Juffrou, juffrou - Isak stout!) en na-aap baie graag vir Juffrou met opdragte uitdeel. (Rownan kom piepie! Jody tyd-uit!). Franco sal soms stories oor homself ook aandra en homself in tyd-uit sit. ("Juffrou, juffrou Franco stamp Carmi. Franco skuusie. Franco tyd-uit")
* Ons ster-etertjie het rondom 18 maande skielik op 'n eetstaking gegaan, en wou vir 'n paar maande net Chippies & Vissies (Ovenbake chips en visvingers) eet. Sy ouers het (meestal) hul ore doof gehou vir die nimmereindigende versoeke vir 'n koekie, maar darem soms ingegee vir 'n Vita (Provita).
Deesdae eet hy darem beter, en word die groente nie meer sumier teruggestuur nie. Die kabouter is egter nie 'n vrugte man nie - al probeer sy wrede ma daagliks. Ferm vrugte (soos stukkies appel, perske en druiwekorrels) word soms teensinnig geeet, maar hy verkies baie eerder droee vrugte of rosyntjies. So een keer op 'n reendag sal hy wel waag en 'n stukkie of wat pampino, aarbeie of kiwivrug eet. Weier volstrek om piesiesa (piesang) of siesapek (spanspek) te probeer.
Vroeg-vroeg oggend kaskanades. (Moenie vra waar is die broek nie - dis potty training tyd!)
* Franco-Ranco het sy ma se gene en is lief vir vroeg gaan slaap. Soos sy ma, is ontbyt ook 'n prioriteit en wil hy eet sodra hy opstaan. :-) Slaaptyd is gewoontlik 18h vir 18h30, maar soms sal hy selfs so vroeg as 17h15 smeek om te gaan doe-doe. Ongelukkig is hy ook lief vir baie! vroeg! opstaan!. Ons was al meer as 1 oggend om en by 4h wakker gemaak met 'n uitdruklike versoek vir pappies! Die huisreel is dat ontbyt nie voor 5h (erens moes ons die streep trek!) bedien word nie, maar 5h kan dikwels nie gou genoeg kom vir 'n honger seuntjie en sy moee ouers nie.
Die groot ontmoeting. Janita het heelmiddag geslaap, en ons het gewag dat sy moet wakker word, maar toe begin Klaasvakie vir Franco roep. Hier is dus 'n moee seuntjie, en die Slapende Skoonheid - nie heeltemal wat ons ingedagte gehad het nie :-)
* Franco is die dierbaarste Ouboet, maar baie streng! Van die heel begin af was Janita volgens Franco "My Nita" en klaar. As ons hom smiddae by die skool gaan haal mag die ander maatjies en selfs nie eers Juffrou aan Franco se Nita vat nie. :-) En kuier ons by die Oumas, moet ons vir Janita eerste inlaai anders weier Franco om in die kar te klim - netnou vergeet ons haar!
So trots op Sy Nita
Klein voetjies trippel nie meer soggens na ons kamer nie, maar steek vas by Tussie/Nita se kamer. Met determinasie word die poef nader geskuif sodat daar beter gesien kan word. Of Janita slaap of nie - die dummy moet in! "Tussie, dummy. Nita dummy!" En word die Janita se dummy ergelik ingedruk - gewoontlik is ons darem teen daai tyd ook in die kamer om te keer dat Ouboet te rof raak.
2 Karnallies in die bed!
Die dag wat Janita begin het om 'n rateltjie vas te hou was Franco by die huis met oorontsteking. Toe ek my opgewondenheid oor Janita se mylpaal met Franco deel, was 'n die sorgsame Ouboet dadelik by. Vir die res van die middag kon Janita nie dit durf waag om die rateltjie te laat val nie - of Sersantsamajoor het dit terstond in haar handjie teruggedruk met die streng opdrag: "Nita Vashou!"
Franco "help" vir Janita deur haar te wys hoe werk die speelmat
As ons met Janita opsitte oefen om die maag en nekspiertjies te versterk is Franco ook vinnig by om te help. Dis nutteloos om te verduidelik dat Janita eintlik self haar koppie moet oplig - Franco gee te ywerig instruksies "Nita Op! Nita Af!" terwyl hy haar aan die skouers beetkry. Deesdae oefen ons dus maar eerder as Ouboet slaap/by die skool is.
Sou Janita deur die dag huil of knieserig is, soek Franco naarstigtelik na haar dummy. (Volgens Franco maak dummies alles reg!). As die dummy nie die magic trick doen nie, begin Ouboet dikwels uit simpatie saam huil. Soms word Janita wakker in haar bedjie terwyl ek vir Franco bad (en Gert nog by die huis uit is). Aangesien ek nie vir ons Prinsie alleen in die bad kan los nie, moet sy soms 'n paar minute huil terwyl ek so vinnig as moontlik klaarmaak. Dis vir Franco vreeslik ontstellend, en hy smeek my letterlik om vir Nita Nita te gaan troos. Dikwels eindig ons dus op in ons kamer waar ek met een hand 'n skreeuende Janita probeer sus, en met die ander hand 'n ewe skreeuend papnat peutertjie probeer afdroog en aantrek.
Ons hande is vol,maar ons harte loop oor van dankbaarheid. Sal die twee japsnoete ooit weet hoe oneindig lief ons vir hulle is?
Die twee kabouters hou ons besig en op ons tone, maar ek is oneindig dankbaar vir hulle! Ons is stokflou aan die einde van die dag, maar niks kom by Janita se baba-asempie in jou nek of Franco se stywe drukkies nie. Dankie Here dat U vir my en Gert toevertrou het met sulke kosbare perels. Help ons om hulle reg te lei sodat hulle kan groei en ontwikkel in die mense wat U bestem het hulle moet wees. En Here - skaaf maar aan ons as ouers waar dit moet, maar gee dat ons kinders altyd U liefde deur ons sal sien skyn