Hi! Wou net inloer om te se ons leef darem nog! Om terug werk toe te gaan was ‘n GROOT aanpassing, en ek sukkel maar so deur die dag sonder my gebruiklike middagslapie maar sal seker nog aan die nuwe roetine gewoond raak.
Dis nogals ‘n storie om myself, Gert en Franco in die oggende gereed te kry. 3 sakke – 2 vir laptops, een vir doeke! Dis 2 stelle toebroodjies en 1 stel bottels! (Darem hoef ek en Gert nie spaar klere ens. ook nog saam te piekel nie)
Is met ope arms by die werk terug verwelkom, en dit is lekker om weer almal te sien en die stories te hoor. Ek word selfs more spa toe gestuur! (Ter ere van seketaresse-dag stuur die werk sommer AL die vrouens vir ‘n spa-dag. Een voordeel om vir grotendeels manlike firma te werk, en ‘n groot bederf vir hierdie nuwe mamma!)
Franco gaan baie goed aan by die skooltjie. Hy glimlag en koer vir die ander babas, en het nog nie een keer gehuil met die aflaai slag nie. Die mense daar se hy is te skattig, en hy het gelukkig nie probleem om skielik uit bottels te moet drink nie. Hy was gister en eergister doodmoeg toe hy by die huis kom – het amper Maandag tydens bad-tyd aan die slaap geraak. (Een voordeel van skooltjie toe gaan – ons daaglikse marathon stoei-sessies om hom in die bed te kry was die laaste 2 aande nie in sig nie)
Hy word net te vinnig groot! Die sittery is elke dag stewiger, en ek moes tot vandag op versoek van die skool vir hom tande-medisyne inpak (Lyk my Ouma Elna was tog reg toe sy gese het die tandjies is naby) My ou babatjie – jy is mos nog heeltemal te klein om te wil tandjies kry?
Dankie Here dat dit sover goed gaan! Dankie dat daar wel ‘n einde aan elke werksdag kom, al voel die dag ook hoe lank. En dankie dat U elke minuut van elke dag oor Boeta waak, en dat U daar is, selfs al is ek nie. Dankie dat U die Ultimate Ouer is, en ek soveel by U kan leer. Ek loof U naam!