baby
Lilypie First Birthday tickers

Sunday, February 15, 2009

Dag van Liefde

"Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het" 1 Joh 4:19
Ek en Gert is nie groot meedoeners aan Valentynsdag nie (bietjie te gekomersialiseerd en fake na ons smaak). Tog hou ons daarvan om mekaar met kwaliteittyd te bederf, en ietsie kleins te doen (al is dit dan nou glad nie hou die media Valentynsdag-vieringe probeer voorskryf nie!)
Die jaar was ons vir die eerste keer op die rooi dag 'n gesinnetjie van 3! Gert wou my bederf met 'n lekker ontbyt, en ons het gekies om die ontbyt te gaan geniet by 'n kwekery naby ons. Die eetplek is onder sulke groot akkerbome, en mens kan uitkyk oor die kinderspeelplek. Die vorige keer was Franco nog bietjie klein, maar die keer kon hy (net-net!) op van die swaaie ens. speel! Meneertjie het ons vroeg-vroeg Saterdag wakker gehad, en dit was netsowel want 8h15 was ons amper die enigste mense daar en kon ons lekker met Franco speel. :-)

Vroeg-vroeg begin die bederf al. Om saam met Pappa te bad is groot groot pret!
Franco was nie so seker van die (vuil!) springkasteel nie Die groot trampolien was meer na Boeta se smaak

Hallo blogland! Ek raak nog gewoond aan die glyplank ding!


Die eendjies op die dam was nie vir lank interessant nieFranco was maar eers lugtig vir die boerbokke

Vinnig is daar maatjie gemaak, en die klein Prins vertel laaaang stories aan sy nuwe vriend.


Seuna se benadering tot die boerbokke was vir ons skreeusnaaks. Aanvanklik het die hele lyfie skoon geruk van spanning. Toe ons hom wou wegvat (om hom 'n skrik op die lyf te jaag is die laaste ding wat ons wou he!), toe protesteer Meneertjie luidkleels. Skrikkerig of te nie, Franco het met alle mag vorentoe gebeur - aan die bokkie wil hy vat! Dit het so paar probeerslae gekos, maar hy het dit ten einde laaste reggekry - en toe is hy vreeslik trots op homself. Ek was skoon aangedaan - my babatjie raak by die dag meer 'n dapper seunskind, en wil al klaar die wereld begin verower!

Op die zebra skoppelmaai - Franco was bietjie deurmekaar, en het heeltyd brrr-brrr geluidjies gemaak. Spesiaal vir Oupa Jan - Oupa se bulletjie op 'n Blou Bul motorfietsie. (Natuurlik toe is die broem-broem geluidjies skoonveld, en Boeta vreeslik geamuseerd met sy Pa wat so staan en broem-broem..)

Saterdag-aand was ons plaas toe vir Oupa Jan se verjaarsdag-vieringe. Wat 'n dag! Eers was daar 'n dief wat in die bosse kom wegkruip het, en al die mans in die omgewing cowboys-en-crooks (Pa Jan se woorde) gespeel het om hom te probeer vang. Toe net voor ete, sien Thelwyn 'n slang in die spaarkamer - die kamer waar die babas moet slaap! Toe moes al die mans weer probeer om die slang te vang. Ek was baie bly dat ek nie 'n man is nie - sal baie eerder slaai maak in die kombuis! Gelukkig was almal darem ongedeerd - al was groot furstrasie toe die dief wegkom, en die slang nie opgespoor kon word nie.


Terwyl daar slaai gemaak is, het Franco en Martelize onder Gert se wakende oog met die honde gespeel (Martelize haal haar nefie in - hulle tweetjies is nou al amper ewe groot!)


Ma Miekie het baie moeite gedoen met die ete - en na al die drama van die dag was die Hartjie-my-liefie hoenderpastei 'n groot bederf! Dankie Pa dat jy verjaar het, en dankie Ma vir al die lekker kos! Dit was lekker om julle op die dag van liefde ook te kon liefhe!

Al die girls was in rooi opgetof vir die spesiale ete! Is Juffroutjie nie te skattig nie? Martelize en haar nefie was albei die laaste week of wat woes verkoue, en het te heerlik hulle mammas aangesteek - verskoon tog maar die waterige ogies!

My liefie-liefie kind, ek hoop jy het jou eerste Valentynsdag sommer baie geniet! Ek hoop jy sal sommer op elke Valentynsdag omring wees met mense vir wie jy lief is, en wat jou liefhet. Maar mag jy vroeg-vroeg reeds besef dat liefde soveel meer is as die goedkoop ding wat die wereld daarvan maak: "God is liefde; wie in die liefde bly in God en God bly in hom. Hierin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wereld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus.. "1 Joh 4:16,17

9 maande 3 weke

Tuesday, February 10, 2009

Oupa Jan verjaar vandag

Een van die mees amazingste mense in ons lewe verjaar vandag! Baie, baie geluk aan Pa Jan! Jy is 'n yster, en 'n rots in ons lewe. Dankie dat jou liefde vir Jesus Christus so duidelik in jou lewe na vore kom. (Soveel so dat dit altyd vinniger is om gou te bel en te vra: "Pa, waar in die Bybel staan nou weer...?" as om die naslaanboek nader te trek :-) Pa se intergriteit, eerlikheid en insig is voortdurend 'n inspirasie vir ons. Dis 'n voorreg om jou dogter en skoonseun te wees.



Oupa Jan en sy kleinseun. 16 dae oud en die eerste keer op die plaas

Monday, February 9, 2009

Klaasvakie is duidelik met vakansie

Dankie vir al die goeie wense en sms'e! Ek het Franco Donderdag by die pediater gehad vir sy 9 maande ondersoek, en die se toe die mangeltjies lyk stukke beter! Boeta is geweeg, gemeet, getoets en wat nog als. Die dokter was baie tevrede - beskryf hom net as "klein en fyn". (Dis natuurlik 'n groot verrassing vir almal wat sy ouers ken ;-) Die dokter dag eers dis omdat hy te min eet, maar nadat ek vertel het van hoe gretig Franco sy 3 (groot) maaltye per dag wegsit verklaar dis seker maar omdat Gogga so woelig is. (Die 2 Oumas - hy wou weet of een van sy ouers "woelig" was. Ek het gese ek sal uitvind, maar ons was maar altwee mos stil en bedees of hoe?)

Saterdag was 'n doodlekker dag, en gister is ons na die inseening van klein Pieter Josua. 'n Baie mooi intieme geleentheid, en ons voel geeerd dat ons daar kon wees! Weereens baie geluk Fanie en Terese! Mag Pieter vir julle sommer baie vreugde en trots bring en die man word wat God hom bestem het om te wees. En geluk aan Ousus Stephanie ook!

Franco het Sondag voor ons na die inseening gegaan het, 'n lekker oggendslapie gehad en was baie vrolik by die partytjie. Hy was so geesdriftig oor die storie, dat ek ons tweetjies 'n wyle moes verskoon - Franco gesels dan harder as die pastoor!

By Pieter se inseening - Franco en Marli (25 maande) trek tou oor 'n speelding. Franco mag "klein en fyn" wees, maar hy het 'n baie sterk willetjie en 'n sterk genoeg arm gehad om die "veldslag" te wen.

Met die vreemde plek, en belangriker nog al die maatjies was daar nie sprake van 'n middagslapie nie. Toe ons sowat 'n uur na sy gewone middagslapie tuis kom was Seuna al op sy tweede asem en glad nie lus vir slaap nie. Het toe lustig gespeel en gekruip tot na aandete, en toe homself gate uitgeniet met badtyd. Die badroetine was soos elke ander aand, met 'n storie en 'n cuddle agterna maar Klaasvakie was skoonveld. Die het sowat 'n uur se harde baklei gekos om hom aan die slaap te kry - net sodat die Prinsie 'n 15 min "power nap" kon vat en daarna weer aan die gang wees vir nog 2 ure. Meneertjie was so vrolik - behalwe vir 1 keer se huil was dit heeltyd speeltyd. :-)


Hallo Mamma! Hoor jy ook hoe die koek-koek twaalf uur slaan? :-) Mnr Vrolik is op sy stukke

Kyk Mamma! Ek het sommer geweet jy gaan my ook verlang, toe staan ek solank op en wag vir jou!
So 1:00 het ek opgegee, en Franco by ons in die bed getel. (Vorige kere het dit gewerk as 'n last resort om die Kabouter aan die slaap te kry). Moenie glo nie, Aspatat het in die donker kiertsregop tussen sy ma en pa gesit en handjies klap en gesels. Toe hy nie genoeg reaksie kry nie, het hy probeer om oor sy ouers (wat gehoop het dat as hulle hom ignoreer hy sou slaap) te klouter. Ek het hard probeer, maar dis moeilik om te slaap as daar kort-kort aan jou hare getrek word, of 'n kleine handjie jou oor ondersoek. Operasie Ignoreer het finaal misluk toe 'n spoegbekkie met 4 tandjies in 'n niksvermoedende Pappa se sy wegsink. Gert het met 'n "Goeie Ouers!" wawyd wakker geskrik en Franco het gekraai van die lag - reaksie was al wat hy wou he. (Een kyk na Gert se gesig het my oortuig om maar eerder stilletjies in my mou te lag :-)

Jy maak verniet of jy my nie sien nie! Ek loer vir jou!

Vanoggend was ons al 3 leep-oog. Toe ontdek ek dat ons jongste gesinslid se neusie weer erg toe is, en dat daar 3 erg geswelde tandvleisknobbels is - waarskynlik die rede vir die middernag kapperjolle. Meneer het natuurlik lekker geslaap by die skooltjie, terwyl sy ouers maar moes staatmaak op die filterkoffie by die werk. Ek het die skool mooi gevra dat hy nie toegelaat word om so baie slaap dat hy vanaand weer wil speel nie, en dit lyk darem of dit gewerk het. Seuna was goed moeg toe ek hom gaan oplaai het, en het net na badtyd aan die slaap geraak! Klink vir my na 'n goeie idee!

Julle moet almal 'n heerlike nagrus en 'n wonderlike week he!

Ampertjies vergeet ek: Woo-hoo! Baie, baie geluk met nog 'n suksesvolle Midmar-myl Ouma Miekie! Ons is vrek trots op jou! Ma maak my net bekommerd - my Ouma Ethie het Fauresmith uithourit gery en gewen nadat sy ouma geword het en Franco se Ouma swem Midmar-myle so amper sonder om te oefen. Gits! Wat sal ek die dag moet doen as ek ouma is? :-)

Tuesday, February 3, 2009

Nie my beste 24 uur ooit nie

Sjoe! Wat 'n deurmekaar 24 uur - hoop nie daar le nog baie sulkes vorentoe op die lewenspad nie. Sal maar by die begin begin...



Ek is in die Kaap vir werksdinge die week. Was Sondag-aand so 20min reeds in die lug, toe die mikrofoon kraak "Ladies and gentelman, this is your Captain speaking....". Blyk toe dat een van die deure nie mooi seel nie, ons pressure verloor!?, en dat ons maar eerder gaan omdraai. Net na die aankondiging is ons deur woeste turbulensie - is seker die turbulensie het geen verband gehad met die deur wat nie seel nie, maar dit is maar erg skrikkerig om so te wip-wip deur die lug as jy nou net gehoor het daar is fout. Ek het maar baie gebid!



Die vroutjie langs my was heeltemal uitgefreak deur die storie en het vir die res van die rit met haar gesig in haar hande gesit en bid/huil/prewel. Die geleentheid om met haar te praat wou homself nie voordoen nie, maar ek sal aanhou om vir haar bid. Is ons Koningskinders nie bevoorreg nie? Al wil ek nie vreeslik graag nou doodgaan nie, weet ek dat ek weet dat ek weet - my lewe is Christus, en selfs die dood is 'n wins.



Ons was so 40min op die grond, toe kon ons darem weer opstyg sonder probleme. Die rede hoekom ons laterig Sondae-aande vlieg is om maksimum tyd saam met ons families te he, maar nogsteeds so te vlieg dat ons 'n volle nag se slaap inkry sodat ons kan skerp wees tydens al die vergaderings Maandag. Noddeloos om te se - die "land net voor 21h en is voor 22h by die hotel en in die bed" raak toe meer 'n "land net na 23h en is so 24h by die hotel". Fun times. En nie te bevordelik vir op en wakker wees nie. My gewone slaaptyd is nader aan 21h :-)



Maandag-more was ons skaars aan die gang, of Franco se skooltjie bel. Boeta het opgegooi, het koors en is vreeslik huilerig. Crack goes my heart. Nie die ding wat jy wil hoor as jy ver van die huis af is en jouself alreeds doodverlang nie.



Gert was gister self besig met belangrike vergaderings, maar het als gekanselleer en opsy geskuif en toe vir Bieliebam dokter toe gevat. Dis weereens mangelontsteking, en die keer is die oortjies ook erg rooi. Dejavu met antibiotika, koorsmedisyne en baie liefie en troos. My arme arme babatjie! En my arme man!



Gert was (soos altyd) 'n ster van 'n pa wat maar als in sy stride vat, maar toe ek gisteraand met hom gesels was hy maar flou. Dis woes om solo te vlieg met 'n siek seuntjie as jy self ook koorsig voel. (Gert het 'n geneigdheid om by sy seuntjie aan te steek - ek hoop nie dis weer die geval nie!) Sterkte my Engel! Jy weet ek is vreeslik lief vir jou en waardeer jou ne!



Laat gisteraand kom die sms deur: "Boeta het nou sy tweede asem teruggekry. Ons le nou en speel in die bed. Tot 'n bietjie gelag en gekruip. Ek dink die medisyne begin nou werk!" Prys die Here! Ek was lanklaas so bly oor 'n sms in die middel van die nag.



9 maande, 1 week

Sunday, February 1, 2009

Foto-probleem gefix!

Die oplossing? Gits - ek weet nie. Het nou al soveel keer gewissel tussen Internet Explorer en Mozilla Firefox en ook die rekenaar se "cache" skoongemaak (soos aanbeveel deur Blogger se help funksie) maar niks wou werk nie. Vanoggend het ek weer probeer en ta-da : als is reg :-) Lyk my die aanhou, aanhou probeer het dus die ding gedoen.

Hier is so paar fototjies van klein Carl se Bob the Builder partytjie

Kyk net die mooi koek!


Carl en Suzette met hul Callie-man

Daar was 'n swembadjie vol balle, maar dis net soveel pret om te probeer uitklim!

Groot pret om in die sandput te speel Hoe meer sand hoe beter!

Kyk Mamma! Die sand is orals - my hande, mond, ore, doek en wat nog alles! Na soveel partytjies weet ek al hierdie blaas-ding moet in die mond kom. Ek kry nog nie self geblaas nie, maar ek kan al pose :-) Franco amuseer homself terwyl Mamma bietjie huis skoonmaak

Hannes se verjaarsdagpartytjie in die natuurresevaat. Ons het die kamera tuis vergeet, en die selfoon moes toe maar diens doen. Kyk net die modderhande! Na 'n week se reen was die aarde heerlik klam, en 'n woelwater wat WIL kruip en nie vasgehou WIL wees nie, het te heerlik in die modder gespeel en homself van kop tot tone besmeer. Dankie tog vir Omo :-)

9 maande 1 week